Verkiesings 2019

Groter kleiner partye verwag groter steun

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier. Foto: Deaan Vivier
Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier. Foto: Deaan Vivier

Met oproepe van elders dat kiesers op 8 Mei nie hul stem op verskeie "kleiner" opposisiepartye moet "mors" nie, glo van die kleineres steeds sterk dat hulle as buiteperde baie beter in vanjaar se verkiesings as voorheen sal presteer.

Die Vryheidsfront Plus, ACDP, UDM en selfs die nuwe Good-party het kortliks vir Netwerk24 uitgestippel waarom dít die geval sal wees.

Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier. Foto: Deaan Vivier
Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier. Foto: Deaan Vivier

Vryheidsfront Plus

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê peilings en hul verkiesingsveldtog stem ooreen dat die party al hoe meer steun kan kry.

Groenewald meen die belangrikste redes hiervoor is omdat die VF Plus volgens sy ondersteuners die enigste party is wat daadwerklik in die parlement die belange van minderheidsgroepe in Suid-Afrika bevorder, beskerm en aandring op gelyke behandeling.

"Die vooruitsigte vir die VF Plus in hierdie verkiesing is dat ons die party gaan wees wat die sterkste gaan groei en 'n vername koalisievennoot gaan word."

Die party sal veral Afrikaanse mense uitsonder omdat Afrikaans tans onder druk is en oral uitgefaseer word.

"Taal is 'n belangrike kwessie en ons standpunt is dat alle tale gelyk moet wees en daarom moet die geboelie van Afrikaans gestaak word."

Die party wil ook die ekonomie laat groei en werksgeleenthede skep, meriete die enige kriteria vir 'n beurs of werk maak, vakbonde se houvas verbreek en gehalte-onderwys verseker.

Dit sal ook sukkelende staatsentiteite soos Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Denel privatiseer, korrupsie uitroei en belasting verlaag.

Verder wil dit die polisiediens regruk en plaasaanvalle as 'n prioriteitsmisdaad verklaar.

*Die VF Plus het in die 2014-verkiesings 0,9% steun gekry, 0,86% in 2009 en 1,24% in 2004.

Bantu Holomisa, UDM-leier. Foto: Daily Sun
Bantu Holomisa, UDM-leier. Foto: Daily Sun

United Democratic Movement (UDM)

Bantu Holomisa, UDM-leier, glo sy party sal groter steun kry "omdat kiesers keelvol is vir die status quo. Hulle soek al hoe meer 'n nuwe politieke tuiste."

Holomisa sê die UDM het tot dusver in sy verkiesingsveldtog belowende terugvoering van sy strukture en aktiviste op grondvlak gekry.

Daarbenewens het die party verskeie hooggeplaaste politici van ander partye in sy midde verwelkom.

"Ons het gevorder in gebiede waartoe ons voorheen nie eens toegang gehad het nie, soos in KwaZulu-Natal. Peilings voorspel ook goeie vertonings vir ons in die Wes-Kaap."

Hy meen sy party werk tans baie hard om sy doelwitte te bereik, hoewel hulle as klein party uitdagings met hulpbronne het.

"Ons moet as kleiner party dikwels bokant ons gewig boks, veral as dit by die finansiering van ons nasionale verkiesingsveldtog kom."

Hy meen al geld wat die UDM daarvoor het, is dié van staatskant af wat proporsioneel tussen die verskillende partye verdeel word.

Holomisa sê die stelsel bevoordeel veral groter partye.

Die UDM het volgens hom ook nie private finansierders nie, behalwe maatskappye wat vir alle partye geld gee.

"Ons het daarom 'n probleem om ons evangelie aan elke Suid-Afrika in die land te versprei."

Volgens Holomisa bly hy egter optimisties omdat die UDM die regte beleide en visie het om Suid-Afrika vooruitstrewend te kan maak.

"Ons is slaggereed. Ons sal taai kompetisie vir ons mededingers wees," sê Holomisa.

*Die UDM het in die 2014-verkiesings 1% steun gekry. In 2009 het dit 0,77% gekry en in 2004 1,85%.

African Christian Democratic Party (ACDP)

Jo-Ann Downs, ACDP-hoof van beleid en kommunikasie, sé dié party se ondersteuning is tans die grootste tot nog toe.

"Ons is daarom gereed om ná 8 Mei meer LP's en lede van provinsiale wetgewers te hê.

"Ons wil 'n eerlike en bekwame regering daarstel wat omgee vir landsburgers, die ekonomie kan laat groei, werksgeleenthede skep en misdaad laat afneem."

Verder beywer die ACDP hom ook vir 'n lewendige nierassige samelewing, 'n goeie onderwysstelsel sowel as 'n beter waardestelsel en -program vir die land.

Downs meen die ACDP het in 2015 met 'n omvattende regrukprogram begin en ook op gebiede begin fokus waar dit werklik kanse staan om setels te verower.

Die ACDP se lidmaatskap het volgens haar daarom sedert 2016 'n enorme toename getoon.

Onlangse tussenverkiesings wys ook dat die party se steun sterk, met tot 20,56% in Bonteheuwel, Kaapstad, gegroei het.

"Ons glo ons planne werk," sê Downs.

*Die ACDP het in 2014 0,57% steun gekry, in 2009 1,62% en in 2004 3,78%.

Patricia de Lille, leier van die Good-party.Foto: Son
Patricia de Lille, leier van die Good-party.Foto: Son

Good-party

Dié party wat Patricia de Lille, voormalige Kaapstadse DA-burgemeester, in Desember verlede jaar gestig het, meen dit is kommerwekkend hoe gewone landburgers al hoe meer ontnugter is en nie meer die huidige politiek en politici vertrou nie.

"Dit is omdat politiek en politici Suid-Afrikaners in die steek gelaat het. Suid-Afrika het tans 'n spoor van gebroke beloftes en grootskaalse plundering," sê Brett Herron, Good se sekretaris-generaal.

Hy meen dat Suid-Afrikaners egter nie moet moed opgee nie omdat Good gestig is om ongewone politiek daar te stel en om die hoop en vertroue van die demokrasie te herstel.

"Ons wil ook ware politieke leierskap, dapperheid en passie demonstreer om dinge te laat gebeur."

Die party se verkiesingsveldtog dra volgens Herron ook 'n positiewe beeld uit oor 'n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse identiteit en 'n plan wat die land vooruitstrewend en patrioties kan maak.

Good se beleidsposisies wentel om maatskaplike geregtigheid, ruimtelike geregtigheid, ekonomiese geregtigheid en omgewingsgeregtigheid.

Die party wil die nalatenskap van apartheid omvattend pak en ongelykheid takel, terwyl dit volgens Herron ook nie sal skroom om rassisme te beveg nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM