Die inwoners van die Paradise Park-woonwapark by Hermanus in die Wes-Kaap moenie toelaat dat politici hulle leuens vertel net om stemme vir komende verkiesings te werf nie, sê Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier.

Dit was Donderdag die reaksie van Madikizela, wat ook die provinsiale LUR vir behuising is, nadat Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, dié woonwapark Woensdag as deel van die ANC se verkiesingsveldtog in die Overstrand- munisipale gebied besoek het.
Magashule het op sy besoek die hoofsaaklik wit gesinne wat in die woonwapark woon, belowe dat die ANC hulle sal help in hul hofstryd met die nuwe eienaar wat hulle daar wil verwyder sodat die woonwapark ontwikkel kan word.
Magashule het egter belowe dat die "inwoners nêrens heen sal gaan nie" en dat die ANC die beste prokureurs sal aanstel om hulle in hul hofgeding te help.
Hy het ook gesê dat die DA-beheerde munisipaliteit nie die inwoners respekteer nie en dat die grond om dié rede sonder vergoeding onteien moet word.

Madikizela het gesê hy sal die inwoners van die woonwapark Sondagoggend besoek as deel van sy verkiesingsveldtog in die Overstrand om "die feite reg te stel ná die leuens van Ace en die ANC wat die inwoners Woensdag daar jammerlik mislei het".
"Ek is sterk gekant daarteen dat politici burgers mislei omdat dit verkiesing is. Dit is een van my beginsels. Dit is 'n feit dat Magashule vir die mense gelieg het.
"Die ANC het geen belang daarin om hom aan die lot van wit mense in Suid-Afrika te steur nie.
"Dit is dieselfde Magashule wat onlangs op 'n besoek aan Kaapstad aan die inwoners gesê het om nie vir die ‘Mlungu' (wit man) Alan Winde (DA-premierskandidaat) te stem nie. Magashule is 'n leuenaar, 'n skelm en 'n rassis. Ek neem aanstoot as politieke partye leuens vertel om stemme te werf."
Volgens hom het hy as LUR vir behuising reeds verskeie kere die gemeenskap besoek en is die proses tans aan die gang om 'n deel van die woonwapark te koop en huise daar te bou vir inwoners wat daarvoor kwalifiseer.
"Ek het die inwoners op my laaste besoek ingelig dat ons nog besig is om met die eienaar oor 'n redelike prys te onderhandel. Ons het toe evaluerings vir 'n regverdige prys laat doen.
"Daardie proses is nou afgehandel en ons amptenare is besig om met die eienaar daaroor te skakel."
Madikizela sê sommige inwoners se besonderhede om te bepaal watter individuele inwoners vir staatsbehuising kwalifiseer, word egter nou weerhou omdat hulle glo dat die ANC hulle gaan help.
"Dit is dus baie jammer dat sommige inwoners toelaat dat politici vir hulle leuens vertel," het hy gesê.



















