Verkiesings 2019

Hou dié weerhane se uitslae dop . . .

Randfontein, Vereeniging en Middelburg is die drie plekke in Suid-Afrika waar die verkiesingsuitslae die verteenwoordigendste van die land s'n is - en hulle is dus weerhane wat Woensdagnag of vroeg Donderdagoggend al kan wys hoe die uitslaewind waai.

In Amerika is dié weerhane die deelstaat New Hampshire, wat in voorverkiesings altyd aandui watter kandidaat op die ou end sy party se presidentskandidaat gaan word, en Missouri, wat sedert 1900 in 27 uit 30 presidentsverkiesings vir die wenkandidaat gestem het.

In 2016
In 2016

In Engels noem hulle so 'n plek 'n mikrokosmos van die land se politiek, 'n bellwether, na die leidende skaap in 'n trop - die een met die klok om sy nek.

Rapport het na Suid-Afrika se "New Hampshire" gaan soek en bevind daar is in die hele land nie meer as vyf uit die 213 munisipaliteite wat eens naastenby die land se stempatrone weerspieël nie.

In twee provinsies - die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal - lyk die uitslae kompleet of dit van 'n ander planeet kom, so 'n groot rol speel die DA en, tot 'n mindere mate, die IVP.

Maar Randfontein (as hoofdorp van die Rand West City-munisipaliteit, wat ook Westonaria insluit), Vereeniging, Vanderbijlpark en die groot Vaaldriehoekse townships (saamgevoeg in die Emfuleni-munisipaliteit) en die Middelburg-omgewing op die steenkoolvelde van Mpumalanga (as setel van die Steve Tshwete-munisipaliteit) kom die naaste aan die landwye uitslae van 2016.

* Landwyd het die ANC in 2016 net-net minder as 54% van die stemme gekry, die DA 27% en die EFF 8%.

* In Randfontein was dit: ANC 53%, DA 27% en EFF 12%.

* Vereeniging het 56% vir die ANC, 25% vir die DA en 12% vir die EFF opgelewer, en

* Middelburg 56% vir die ANC, met die DA op 29% en die EFF op 11%.

Dié "weerhaan-munisipaliteite" wys nie net hoe groot die kontraste in die land is nie, maar ook dat die groot politieke neigings tussen 2014 en 2016 in al drie munisipaliteite weerspieël is - die ANC het redelik skerp gedaal, terwyl die DA en EFF matig styg.

Al drie het stedelike sowel as groot landelike gebiede, met heelwat swaar nywerhede. Elkeen is ook die setel van 'n distriksmunisipaliteit bykomend tot die plaaslike munisipaliteit.

Wat ouderdom betref: Die landwye mediaan-ouderdom is 25 jaar, met Randfontein op 30, Vereeniging op 28 en Middelburg op 27 jaar. Op al drie plekke en landwyd is sowat 'n derde van die inwoners jonger as 19 jaar.

Die verstommendste syfer in ons weerhaan-dorpe, en 'n aanduiding dat inkomste 'n groot rol in kiesersvoorkeur speel, is dat Randfontein en Vereeniging se mediaaninkomste presies ooreenstem met die nasionale gemiddeld van R29 400 per jaar (R2 500 per maand). Middelburg s'n skiet wel uit na gemiddeld R57 300 per jaar.

Waar die land se kieserskorps volgens die databasis Wazimap uit 78% swart kiesers en 22% kiesers uit minderheidsgroepe bestaan, is die landsbevolking 81% swart (19% minderheidsgroepe). Die registrasiesyfer van swart kiesers is persentasiegewys dus laer.

In Randfontein, met sy groot bruin bevolking in Toekomsrus, is 78% van die kiesers inderdaad swart, in Vereeniging 85% en in Middelburg 82%.

Randfontein het wel baie meer plakkers as die nasionale gemiddeld. Landwyd woon 13% van mense in plakkerskampe. In Randfontein is dit 26%, in Vereeniging 12% en in Middelburg 14%.

Omtrent 'n derde van vroue met kinders se mans het hulle verlaat, of het hulle geskei of woon nie by hulle nie. Dit is effe minder as die landwye syfer van 41%, waarskynlik omdat die trekarbeidstelsel die nasionale syfer in die voormalige tuislande skeeftrek.

Toegang tot water, spoeltoilette, elektrisiteit en vullisverwydering is in al drie munisipaliteite tussen 80% en 90%. Dit is ver bo die nasionale gemiddeld.

Van ons drie weerhaan-munisipaliteite se inwoners het omtrent 75% gr. 9 geslaag, en omtrent 46% matriek, wat in albei gevalle drie persentasiepunte bo die nasionale gemiddeld is.

Woensdag sal ons sien of Randfontein, Vereeniging en Middelburg, die drie weerhane, hul reputasie gestand gaan doen om nogmaals te wys hoe die politieke wind waai.

Jan-Jan Joubert

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM