Met die uitslag van vanjaar se verkiesing moeiliker om te voorspel as ooit, is daar stempunte wat 'n vroeë aanduiding kan gee van hoe die politieke winde waai.
- In die Wes-Kaap kom die vroegste aanduiding van die 30% landelike kiesers se voorkeur gewoonlik uit die Swartland-munisipaliteit op Malmesbury - die kiesafdeling wat gewoonlik algeheel die vinnigste in die land tel. As DA-steun daar tot onder 58% val, sal die party begin sweet.
- In Kaapstad, waar 70% van Wes-Kaapse kiesers woon, sal waarnemers die stempersentasies in oorwegend wit, bruin en swart buurte dophou. Dit wissel gewoonlik kwaai - die wit dele om en by 80%, die bruin woongebiede rondom 65% en die swart gebiede hier by 55%. Hoe hoër die stempersentasie in wit en bruin gebiede, hoe beter vir die DA. 'n Stempunt in Kaapstad om dop te hou, is die ou Schotsche Kloof-gemeenskapsaal (deesdae bekend as die Boorhaanol-saal) waar kiesers van die Moslem-Bo-Kaap en die boheemse De Waterkant saam stem, maar nie altyd saamstem nie. Die DA sal meer as 50% hier wil kry.
Reën wat verwag word, kan die DA bevoordeel.
- In Pretoria, waar die VF Plus woel om die DA-falanks onder wit kiesers te versplinter, kan 'n vroeë aanduiding van wit Pretorianers se voorkeur kom van die stempunt by die voormalige NG kerk Bergtuin (die gebou behoort nou aan die Vrye Gereformeerde kerk Maranata) in Waverley, waar die stempatrone van die stad se oostelike voorstede en die Moot oorvleuel. As DA-steun daar daal tot minder as 66% en die VF Plus se steun styg tot 25%, sal Mmusi Maimane frons en Pieter Groenewald tevrede grinnik.
- Wat die stryd tussen die ANC en die EFF in Tshwane betref, is die ANC sterker in die gevestigde townships ten ooste en weste van die stad, veral Mamelodi en Atteridgeville. Die EFF is sterker in die plakkersbuurte noord van die stad op pad na die grens met Limpopo. Hou dinge hier dop om te voorspel hoe die wind vir dié partye waai.
- In Johannesburg sal die DA se sukses in 'n groot mate afhang van die stempersentasie in die noordelike voorstede, die behoud van die bruin stem en die party se groei in Soweto. Die ANC en EFF sal alles uithaal in die townships, met die EFF veral sterk aan die Oos-Rand.
- In KwaZulu-Natal, waar die ANC ook in 'n stryd om lewe en dood gewikkel is, sal die IVP baat vind as die plattelandse stempersentasie die stede s'n oorskadu.
Om vroeg al 'n voorspelling in dié provinsie te waag is uiters moeilik, aangesien die vroeë uitslae in dié provinsie gewoonlik soos waterpokkies reg oor die provinsie uitslaan. Hoë stempersentasie in tradisioneel wit en Indiër-gebiede sal egter goeie nuus vir die DA voorspel, terwyl uitslae in Umlazi, KwaMashu, Inanda en Ntuzuma sal toon of die EFF enige indruk onder jonger Zoeloe-kiesers gemaak het waarna die party al so lank vry.
- Talle partye rapporteer ook dat die ANC se veldtogte in die Vrystaat en Noordwes ernstig deur interne verdeeldheid gekniehalter word.














