Enid Konza tuur met skrefiesoë na die lendelam draadheining voor haar township-huisie.
"Ek het in die nag oor die draad probeer klim, want hulle was klaar in die huis. Maar ek het geval en my bekken gebreek. Ek het nooit weer normaal geloop nie," sê sy verskonend waar sy in haar japon op een van die groot, gelapte stoele in haar beknopte voorhuis sit.

"Ek het 'n goeie TV gehad. Die misdaad hier is verskriklik - as hulle weet jy het iets soos 'n plasma-TV of 'n mikrogolfoond in jou huis, kom hulle vir jou," sê sy.
Ons is in wyk 55, Motherwell, Port Elizabeth, om te kyk hoe die plaaslike DA deur-tot-deur-werwing doen, want ons wil weet hoe die DA in 2016 die land se veelrassigste party geword het.
Konza het 'n titelakte vir die grond waarop haar huisie is, wat uitsonderlik is in Motherwell, waar sowat 'n derde van Nelson Mandelabaai se 1,2 miljoen inwoners woon. Sy het ook die klein baksteenhuisie self gebou - dis geen Hophuis soos die meeste ander hier rond nie.
In die kamer langsaan lê 'n huismaat wat vanoggend onverwags 'n epileptiese aanval gekry het. Hulle het twee uur gelede reeds die ambulansdiens gebel, maar die ambulans daag nie op nie. Athol Trollip, DA-leier in die raad, en Kabelo Mogatosi, proporsionele raadslid vir wyk 55, bel ook, maar dit help nie. Uiteindelik vat 'n DA-vrywilliger hom met 'n motor hospitaal toe.
Hier het dinge die afgelope twee jaar gebeur. Hier reg voor my huis was 'n yslike vullishoop wat jare lank hier was. Dis weg.
"Hy het die aanvalle begin kry ná 'n hou oor die kop toe tsotsi's hom drie jaar gelede beroof het op pad huis toe. Hy het dit lank laas gehad, maar hier is nou baie spanning en die swaar reën die afgelope paar dae het hom ontstel," sê Konza, wat vanjaar vir die eerste keer DA gaan stem.
Hoekom? "Want hier het dinge die afgelope twee jaar gebeur. Hier reg voor my huis was 'n yslike vullishoop wat jare lank hier was. Dis weg. Twee huise hiervandaan was 'n lekkende rioolpyp en groot plas rioolwater wat ook jare daar gelê het sonder dat iemand iets daaraan doen. Dis ook weg," sê sy.
Maar niemand in die huis het werk nie. Hulle probeer gereeld by die openbare-werke-program inkom vir 'n joppie, maar daarvoor moet jy familie of kontakte in die ANC hê.
In die vorige algemene verkiesing het die DA glad nie in Motherwell stemme gewerf nie. "Ons kon nie hier beweeg nie. Ons is gedreig, uitgejou en beledig," sê Mogatosi. Maar met die munisipale verkiesingsveldtog in 2016 het Trollip sy sogenaamde 60-dae-60-wyke-veldtog begin, waarin hulle as 'n span van huis tot huis geloop en kiesers gewerf het. En op stemdag gesorg het dat elkeen van daardie kiesers wat wou, by die stembus kom.
Mogatosi verduidelik hoe hy en 'n span vrywilligers sedert Februarie elke dag werwingswerk in dié wyk doen. "Ons begin om agtuur mense te bel wat ons weet in die vorige verkiesing vir die DA gestem het (net 3,5% in dié wyk) en ander wat dit oorweeg om DA te stem. Ons maak seker hulle stem nog saam. Daarna besoek ons dié wat ons dink dit oorweeg om vir ons te stem.

"Só bou ons 'n lys op van mense wat ons op stemdag gaan versorg. Ons wil 50 000 mense in Motherwell op dié manier bereik en het reeds by omtrent 60% van hulle uitgekom," sê hy. Só hoop die DA om sy steun van minder as 10% onder swart kiesers in Nelson Mandelabaai op 8 Mei tot naby 20% op te stoot.
'n Entjie verder loer ons in by Sizanda Sakawu, 'n 28-jarige ma van drie wat al vier keer vir die ANC gestem het. Enige party kan met haar kom gesels, behalwe die ANC, sê sy. "Hulle het baie jare lank beloftes gemaak, maar niks daarvan nagekom nie. Die DA was net twee jaar aan die bewind in die stadsraad en in dié tyd het baie gebeur," sê sy.
Sy het in 2016 'n onafhanklike kandidaat ondersteun. Toe die ANC wen, het die raadslid vir wyk 55, Mzuvukile Boti, haar besoek en gesê sy moenie verwag dat die stadsraad ooit iets vir haar gaan doen of vir haar en haar kinders sal werk gee nie. "Dis toe dat ek besluit om vir die DA te stem," vertel sy.
Omtrent almal met wie mens praat, kla oor verstopte rioolpype. As jou rioolpyp verstop is, moet jy die stadsraad gaan sien om dit te laat regmaak. Dit kan selfs 'n maand duur.
Daar is duidelik mededinging tussen die DA en die EFF om ontevrede ANC-lede te werf. Vraelyste wat die DA in onderhoude gebruik, is ook opgestel om steun vir die EFF te toets.
Nomuzizi Mgcumela is 'n weduwee wat 'n entjie van Sakawu woon. Die erf waarop haar huis staan, is aan haar toegeken. Daar is 'n Hophuis gebou, maar reg langsaan het 'n ANC-organiseerder en sy vrou in 'n sinkhuis gewoon. Hulle was jaloers en het almal in die omgewing opgesteek om hul lewe moeilik te maak. "Uiteindelik het ek moed opgegee en 'n ruk lank elders gaan woon. Toe my man dood is, het ek geen keuse gehad nie en het teruggekom," vertel sy.
Die vyandskap het effens bedaar. "Maar daardie kole smeul steeds," sê haar seun.
Sy was vroeër 'n werwer vir die EFF, maar die DA-werwers het haar oortuig om nou vir hulle te stem. Drie vroue en nege kinders woon in dié huisie. Hulle almal stem saam.
Die uitgebreide openbare- werke-program is eintlik hul enigste hoop, maar daarvoor moet jy glo by iemand in die ANC slaap. "Seksgebaseerde transaksies is iets wat 'n mens nogal gereeld teëkom," sê Trollip.
In wyk 59, waar die DA in 2016 8,4% van die stemme gekry het, is die Sinethemba-kleuterskool, wat 'n jaar gelede heeltemal afgebrand het. Dis herbou met die hulp van Xolisi Breakfast, 'n DA- proporsionele raadslid, wat hulp gekry het van verskeie plaaslike kerke, asook Love Story, 'n nie-regeringsorganisasie van Elaine Watson, vrou van die oud-Springbok Luke Watson. Hulle het die struktuur uit afvalhouers gebou. Binne is dit knus uitgelê met ou matte en toegerus met stoeltjies en tafeltjies. Omtrent 30 raserige kleintjies van betalende ma's word bedags hier versorg.
"Maar ons het niks water nie en geen toilette nie. Ons gebruik potjies, en die groter kinders gaan vra vir die bure of hulle 'n badkamer kan gebruik. As ons net water hier kan hê," sê Ofikiswa Joyi, hoof van die skooltjie.
Die stuk grond waarop die skooltjie staan, is nie omhein nie, wat dit baie veeleisend maak om die kleintjies te laat uitgaan. "Ons het saam met die DA 'n groot geveg met die stadsraad gehad om geld uit hul diskresionêre fonds te kry vir 'n heining, maar dit het nog nie gehelp nie."
Die band met die DA het nou daarop uitgeloop dat die struktuur soms saans vir vergaderings gebruik word.
'n Entjie af in die pad is 'n netjiese baksteenhuis wat uitstaan tussen die ander danksy 'n tuinmuur, 'n sementvoetpaadjie na die voordeur en 'n bedding of twee in die tuin. Die meubels binne is nie buitensporige groot tweedehandse meubels soos in ander huise nie. Die eienaar is 'n ouerige vrou wat goed gegrimeer is en 'n rok en polvye dra. Sy wys die foto's van haar twee kinders teen die sitkamermuur. Een is 'n gekwalifiseerde paramedikus en die ander studeer aan Fort Hare-Universiteit.
Sy het haar man verloor en het die huis uit sy boedel gekry, maar later agtergekom die huis is nie op haar naam geregistreer nie. "As ek iets oorkom, sit my kinders sonder 'n dak oor hul koppe," sê sy. Sy sukkel nou al twee jaar om dit reg te stel.
So, hoekom steun sy nou die DA? In die gesukkel om die huis op haar naam te kry, het sy gaan hulp vra by 'n amptenaar in die ANC-kantoor in Port Elizabeth.
"Jy is te oud vir my. Bring een van jou kinders hiernatoe, dan sal ek jou kan help," het die amptenaar gesê.
"Dis waar ek my besluit geneem het," sê sy.




















