
Uiteindelik, nog drie slapies, dan kan tot meer as 26 miljoen geregistreerdes besluit wie moet Suid-Afrika verder regeer.
Vir dié skrywer breek die groot dag reeds môre aan. So teen nege-uur gaan ek die sowat 400 treë na die stembus neem om 'n spesiale stem uit te bring.
Ek weet reeds vir wie ek in Gauteng wil stem, en sal op pad stembus toe finaal besluit oor my nasionale stem.
Met elke tree na die stembus hoop ek om duidelikheid te kry. Dalk hoor ek weer vir Cheryl Carolus: "Gee Cyril 'n sterk mandaat. Hoe groter sy steun, hoe sterker kan hy optree om die verrotting uit die ANC te sny."
Of dié van Mmusi Maimane: "Cyril was al die tyd daar toe Zuma verwoesting gesaai het, maar het stilgebly."
Die afgelope week sê min. Derek Hanekom toe dis nie waar nie - Ramaphosa het wel agter die skerms met Zuma verskil.
Hoe dit ook al sy: As Ramaphosa wel sy omstrede president sterk teengestaan het, was hy uit.
"En as jy uit die ANC is, is jy uit," hoor ek my bron in die presidensie sê.
Ons soek 'n ystervuis, wat nie net aan ons volwassenes nie, maar aan die land se kinders kan wys as jy die mense se geld steel, gaan jy tronk toe.
Dit laat my dink aan wyle dr. Piet Koornhof, en die dag toe hy tydens ons onderhoud in Table View in die Kaap moeisaam opstaan, na 'n rak reik en sy doktorale tesis uithaal. Hy wys toe in die dokument waar hy bevind het apartheid kan nooit in Suid-Afrika werk nie.
Tog was hy later minister van staatkundige ontwikkeling en het selfs by tye as staatspresident waargeneem. Sy stilswye oor sy bevinding - of die feit dat hy dit nie wyd en syd verkondig het nie - het hom in die Nasionale Party gehou.
So, as Ramaphosa strategies geswyg het om vandag daar te wees waar hy is, het hy dalk iets by wyle doktor Piet geleer.
Maar sy geloofwaardigheid is op die spel. In dieselfde tyd oor vyf jaar moet ons weet hy het sy woord gestand gedoen en die ANC gesuiwer, al stel sy vyande die slagordes op. Ons soek 'n ystervuis, wat nie net aan ons volwassenes nie, maar aan die land se kinders kan wys as jy die mense se geld steel, gaan jy tronk toe.
Ons gaan boek hou, meneer die president.
'n Rowwe voorspelling is dat die kans sterk is dat die ANC weer kan skeur, gegewe die vlakke van weerstand om die vrot uit te sny en hoeveel tronk toe moet gaan. Suid-Afrika kan nie eintlik nóg vyf jaar van agteruitgang bekostig nie.
Ook nie die ANC nie. In Januarie sê 'n ANC-streeksleier in Durban: "Ek is moeg. ANC-mense is moeg."
En joernaliste wat die politici die afgelope weke gevolg het, het gesien hoe ons dorpe en townships verval, ons het ou tannies en omies en jong mense in townships gehoor en gesien wat alles probeer om kop bo water te hou.
Dit is jammer as kiesers dié week 'n party gaan beloon wat eintlik gestraf moet word. Maar vir sommige is dit 'n daad van laaste hoop.














