Steun vir die ANC het skerp gedaal aan die vooraand van die land se mees mededingende verkiesing sedert 1994 en oor die hele land word voorberei op 'n nuwe politieke landskap waarin die mag geleidelik uit die ANC se hande glip.
Die ANC het nou 56,92% van die land se kiesersteun, volgens die jongste peiling wat Ipsos gister bekend gemaak het. Dit is bykans vyf persentasiepunte minder as wat Ipsos in Maart gemeet het en amper ses punte minder as die 62,15% wat die party in die vorige algemene verkiesing in 2014 behaal het.

Ook die DA se steun het volgens Ipsos verminder van 18% in Maart tot 15,23% in sy jongste peiling wat tussen 22 Maart en 17 April in onderhoude in die huise van 3 600 geregistreerde kiesers gedoen is. Die EFF se steun word gemeet op 9,45% teenoor 10% in die vorige Ipsos-peiling in Maart.
Die foutspeling in dié peiling is minder as 2%.
In die vorige twee nasionale verkiesings in 2009 en 2014, toe die ANC onderskeidelik 65,9% en 62,15% van die steun gekry het, het die uitslae in albei gevalle binne Ipsos se foutspeling geval, wat beteken die peilings het 'n hoë akkuraatheid gehad.
Ipsos voorspel egter dat indien 71% van die kiesers stem - 'n realistiese syfer - sal die ANC 61% kry, die DA 19% en die EFF 11%.
As 71% van kiesers stem, kan ANC 61% kry.
In sy mees onlangse peiling in Februarie het die Instituut vir Rasseverhoudings ANC-steun gemeet op 55% en die DA s'n op 24%. Die EFF was op 11%. Die aanname was dat 70,9% van geregistreerde kiesers sal stem en die foutspeling was 3,3%.
Die afgelope week was daar ook ander tekens dat die ANC self besef hy is in die moeilikheid.
Adj.pres David Mabuza het gister in 'n onderhoud met Rapport se susterskoerant, City Press, gesê hy is baie bekommerd oor eenheid in die party. Hy meen die ANC staan op die punt om "dood te gaan weens voortdurende interne struweling".
"Die interne gevegte in die beweging bedreig die ANC se lewe. Ons sal dit eenvoudig moet oplos en agter ons kry." Die bose geeste van verdeeldheid is terug, het hy in 'n onderhoud in Bophelong in die Vaaldriehoek gesê.
"Jy hoor elke dag nuus oor ons. Ons baklei met mekaar en gaan howe toe. Dit maak die ANC seer - iemand in die ANC sê dinge oor iemand anders in die ANC. Hoe kan ons mense vra om vir ons te stem as ons binne die ANC nie bymekaar kan staan nie? My boodskap aan die regerende party is om sy huis in orde te kry. As ons dit nie doen nie, loop ons werklikwaar gevaar om die ANC dood te maak."
Hy het te velde getrek teen die kommissies van ondersoek wat pres. Cyril Ramaphosa aangewys het om ondersoek in te stel na staatskaping en die misbruik van staatsinstellings soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die nasionale vervolgingsgesag. "Die polisie gaan mense in hegtenis neem hieroor en dit kan ons verder verdeel. Maar ons kan ook nie meer omdraai op die pad nie omdat ons besluit het dat die reg gelykop op almal toegepas moet word. Niemand is bo die reg verhewe nie. As ondersteuners van Dlamini-Zuma skuldig is of ondersteuners van Ramaphosa, dan is ons weer verdeeld. Ons moet verbind bly tot eenheid," het hy gesê.
Hy is een van 22 kandidate op die ANC se nasionale lys wat deur die party se integriteitskommissie uitgewys is as kandidate met wie onderhoude gevoer moet word omdat hulle moontlik die ANC se goeie naam kan skaad. Hy wonder waarom hy daarvoor uitgesonder word, maar as daar goeie redes daarvoor is, is hy bereid om sy kandidatuur terug te trek, het hy aan City Press gesê.
Ace Magashule, die party se sekretaris-generaal wat vure doodslaan oor die onthullings in die boek Gangster State, is egter nie bekommerd dat tweedrag 'n ernstige bedreiging vir die ANC inhou nie.
"Leiers sal kom en gaan. Diegene wat baklei, sal in een of ander stadium die organisasie moet verlaat as hulle nie kan berus by die beginsels en tradisies en kultuur van die ANC nie."
Hy is onverbiddelik daaroor "dat die ANC nie in ons hande kan doodgaan nie". Swak gedissiplineerde leiers moet liewer die ANC verlaat.
"Die ANC gaan nie oor ons nie. As die leiers van die ANC misluk daarin om die organisasie te beskerm, sal die gewone lede dit doen," het hy gesê.
Die ANC se grootste kopseer op 8 Mei bly Gauteng, waar die party die provinsiale regering beheer maar in 2016 vir die eerste keer minder as 50% van die uitgebragte stemme op hom verenig het én Tshwane asook Johannesburg verloor het.
Die Noord-Kaap word ook fyn dopgehou vir ANC-verliese, en met Rapport se besoek die afgelope week aan sowel Oos-Londen as die Oos-Kaapse platteland, was daar volop tekens van weerstand teen die party.
In dié provinsie, sy tradisionele tuiste, word verwag dat algehele kiesersteun in die landelike oostelike dele van die provinsie skerp kan daal, berig Jan de Lange.
"In baie van dié streke, soos die Chris Hani-munisipaliteit, O.R. Tambo en Alfred Nzo, waar die ANC meer as 90% van die steun gehad het, lyk dit asof dit in dié verkiesing tot 70% en laer kan daal," het prof. Joleen Steyn-Kotze, navorsingspesialis in demokrasie, regering en dienslewering van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing in Port Elizabeth, die afgelope week aan Rapport gesê.
Die ANC is afhanklik van sterk landelike steun, aangesien sy basis in alle stede behalwe Durban die afgelope dekade skerp gekrimp het, berig Dawie Boonzaaier (lees berig hier).
Agter die skerms het die land se drie grootste partye - die ANC, DA en EFF - reeds in afwagting op 'n nuwe politieke landskap na mekaar begin voelers uitsteek, berig Jan-Jan Joubert, ingeval die ANC se steun landwyd of in een of meer provinsies tot onder 50% daal.
In al drie dié partye word die moontlikheid informeel maar druk bespreek. In geeneen van die partye is egter eenstemmigheid oor wie die regte koalisiemaat is en hoe om kiesers te oortuig van die noodsaak dat kompromieë aangegaan moet word nie (lees hier).




















