Met net 'n week oor voor die verkiesing op 8 Mei, het Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, Dinsdag mooi woorde gehad vir die EFF en ander vennote in die veelparty-koalisie in dié metro.
Mashaba het in sy stadsraadsrede te midde van voortdurende tussenwerpsels van ANC-raadslede, die metro se prestasies vir die 2017-'18-boekjaar uitgestippel.

ANC-raadslede het later tydens Mashaba se toespraak uitgestap.
Onder die prestasies wat hy genoem het, tel die skep van 110 000 nuwe poste in 2018, wat die werkloosheidskoers in die stad met 1,1 persentasiepunt verlaag het, die oorhandiging van 6 659 titelaktes sedert die DA-geleide metro in 2016 aan die bewind gekom het en die inkontraktering van 2 800 veiligheidswagte in die stad.
Dit is hiervoor dat Mashaba die EFF en ander koalisie-vennote bedank het.
"Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om die EFF te bedank vir die rol wat hy gespeel het in hierdie inkontrakteringsprogram. Jul bydrae is 'n bewys dat politieke partye saam kan werk tot voordeel van die inwoners van Johannesburg," sê Mashaba.
"Ná die afgelope twee en 'n half jaar is dit my hoop dat koalisieregerings die toekoms van politiek in Suid-Afrika word omdat dit lei tot beter regering.
"Raadslede Meshack van Wyk van die ACDP, Nonhlanhla Makhuba en Mzobanzi Ntuli van die IVP, Jay Maharaj van Cope, Thandi Nontenja van die UDM en Franco de Lange van die VF Plus, ek wil my diepste waardering teenoor elkeen van julle uitspreek."
Mashaba het ook gepraat oor die "verlammende uitwerking" wat die onlangse beurtkrag op die stad gehad het. Hy sê Johannesburg sal sy afhanklikheid van Eskom verminder en 'n nuwe ooreenkoms met die private kragprodusent Kelvin aanvoor.
As ons dit nie kan regkry nie, het ek ons regspanne ingelig oor my voorneme om hof toe te gaan hieroor.
"As ons inwoners daarvoor betaal, en dit word nie deur Eskom gegenereer nie, is daar geen rasionele grondslag om ons te verhinder om die 200 MW wat deur Kelvin geproduseer word te gebruik om die verlammende uitwerking van beurtkrag te versag nie.
"As ons dit nie kan regkry nie, het ek ons regspanne ingelig oor my voorneme om hof toe te gaan hieroor.
"Ek het 'n span van die metro aangestel om met Kelvin te onderhandel oor 'n nuwe kontrak waarvolgens hy meer krag kan genereer en dit teen 'n laer tarief aan die stad kan verkoop as wat Eskom vra," sê Mashaba.




















