Herman Mashaba, uitvoerende burgemeester van Johannesburg, sê hy sal bedank eerder as om in 'n koalisieregering saam met die ANC te dien.

"Die EFF help my om arm mense te dien. Ek vind die strategiese leierskap van die EFF, wat nader op grondvlak is in Johannesburg as die DA, uiters waardevol," het Mashaba gesê.
Die burgemeester het met Rapport gepraat ná die DA se laaste groot verkiesingsaamtrek in 'n volgepakte Dobsonville-stadion in Soweto. Die stadion het plek vir 30 000 mense.
Die EFF - wat die DA in Johannesburg en Tshwane aan die bewind hou - maak lank reeds geen geheim daarvan dat Mashaba hul gunsteling-DA-burgemeester is nie.
‘Jy kan voel kiesers swaai steeds DA toe.'
Mashaba se opmerkings (en sy goeie verhouding met die EFF) is veral belangrik omdat verskeie peilings voorspel dat die kans baie goed is dat ANC- steun in Gauteng tot onder 50% kan daal. Alliansiegesprekke gaan dan van uiterse belang wees.
Die regerende party en EFF hou vandag hul laaste saamtrekke in die Ellispark- en Orlando-stadion.
Mmusi Maimane, DA-leier, het gister in 'n vurige toespraak in Dobsonville gesê regeringsveranderinge is ná Woensdag in die Noord-Kaap en Gauteng moontlik, terwyl die DA glo hy sal die Wes-Kaap weer beheer.

Hy het die land se kiesers gevra om hul stem vir die volgende vyf jaar aan die DA te leen. "Vyf jaar op 'n keer. Oordeel ons dan aan die einde van dié termyn. Kyk of ons gedoen het wat ons belowe," het Maimane gesê.
Aan Rapport het hy gesê hy hoop alle DA-gesindes stem. Koalisiegesprekke sal ná die verkiesing oorweeg word, maar met die EFF kan dit moeilik wees. Die DA glo in 'n markgerigte ekonomie, en die party verwerp nasionalisering, wat EFF-beleid is.
Tans werk dié twee partye in Johannesburg en Tshwane saam, maar nie in 'n formele koalisie nie.
Maimane sê die DA glo ook in 'n nie-rassige Suid-Afrika "wat beteken ons kan nie met diegene saamwerk wat die land op grond van ras wil verdeel nie".
5 jaar op 'n keer wil die DA kiesers se stem hê.
Enige moontlike vennote sal ook moet saamstem oor die bou van 'n vaardige staat. "Ons stem nie saam met kaderontplooiing nie."
Maimane het in sy toespraak gesê die DA verteenwoordig die toekoms van die veranderende nasie. "Ons is nie perfek nie, maar ons is eerlik en werk hard en het 'n plan om ons land heeltemal te transformeer."
Sy party is "meer divers as tevore, ons regeer in meer plekke as tevore. Ons is verenig in ons missie."
Die DA regeer 15 van die 20 bes regeerde munisipaliteite in die land. "Die swakste 20 word bestuur deur die tsotsi's van die ander party."
John Moodey, DA-leier in Gauteng, sowel as Solly Malatsi, DA-woordvoerder, het 'n moontlike koalisie met die ANC afgeskiet. Solly Msimanga, DA-premierskandidaat, sê enige moontlike koalisievennoot, anders as die reëling tans met die EFF, sal deel van die regering moet wees. "Dis moeilik om 'n koalisie te bestuur as alle vennote nie deelneem nie."
Die ANC glo egter dié party gaan steeds die provinsie bestuur en dat die groot wegblystem van 2016 veral in Gauteng iets van die verlede is. Sy peilings wys hy behaal tussen 53% en 56%. (Sien berig op bl. 6.)
DA-leiers glo deur die bank dat hul party sy swart steun gaan verhoog, om op te maak vir die wit kiesers wat moontlik nou VF Plus wil stem.
In die Wes-Kaap wys die DA se interne peiling hy kan 53% behaal.
Hoewel die ANC veral op swart gebiede in die metro steun probeer werf het, was die DA ook daar hard aan die werk. "Jy kan voel kiesers swaai steeds DA toe. Vir my gaan dit oor werkskepping, want dit gee geleenthede," sê Alan Winde, premierskandidaat. Hy sê Suid-Afrika word in die buiteland gesien as 'n korrupte land "oor dit wat die ANC aangevang het. Wat ons wel gedoen het, is om te wys wat die Wes-Kaap kan doen - en mense sien dit."
Athol Trollip, voormalige uitvoerende burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metropool (NMB) sê die DA gaan weer in die Oos-Kaap groei. "Mense van die NMB het twee jaar lank DA-bestuur ervaar. Nou was daar ses maande van chaos."
Hy verwag die kiesers gaan die UDM daarvoor straf. "Bantu Holomisa (UDM-leier) en Mongameli Bobani (huidige burgemeester) het hul reputasie geskaad. Ek glo die UDM sal in dié verkiesing uitgewis word."
Hy glo die ATM gaan "in die voormalige Transkei stemme kry".
Gister is gesê daar wag 'n skok op die ANC in KZN, waar die IVP, DA, EFF en ATM glo 'n duik in die ANC se steun gaan maak. Dit is ook waarom oudpres. Jacob Zuma die afgelope week met stemwerwing moes help.




















