
Motoriste moet die Oukasie-omgewing by Brits in Noordwes vermy omdat betogers voertuie en selfs motorfietse met klippe bestook.
Hulle gebruik ketties om die polisie se openbare orde-eenheid met hul eie rubberkoeëls terug te skiet, sê Jimmy Boshoff, voorsitter van Brits se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).
"Die betogers probeer hard om in Brits te kom, maar die polisie hou hulle nog daar uit. Ons is baie dankbaar vir die polisie, van ons lede is saam met hulle op die toneel om die situasie dop te hou. Die betogers het nou ook begin om huise in Elandsrand teenaan Brits met klippe te bestook. Die paaie is nog oop, maar die situasie is onbestendig en kan enige oomblik verander. Paaie is die een oomblik nog oop en dan weer toe. Ons raai mense aan om die omgewing te vermy."
Veral die Elandsrandpad en Wagpospad wat uit Oukasie lei, is vir eers gevaarlik, waarsku Boshoff.
Daar was teen Dinsdagmiddag nog geen betogings in Brits self nie. Intussen is dit volgens hom duister wat die oproeriges se redes vir hul optrede is.
"Hulle gee verskillende redes, onder meer dienslewering, dwelmbedrywighede in die omgewing en die hoë brandstofprys."
Die agentskap Ratings Afrika het die Madibeng-munisipaliteit wat die gebied bedien, in 2018 as die swakste munisipaliteit in die land aangewys. Dié agentskap wat daarin spesialiseer om onder meer regeringsentiteite te beoordeel, het Madibeng maar ses uit 'n moontlike 100 punte gegee.

Byna 50 mense is sedert Maandag in die Oukasie-omgewing vir openbare geweld in hegtenis geneem, asook 'n handvol mense wat Maandag glo vragmotors gekaap en paaie in Brits daarmee toegeparkeer het, sê kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes.
"Die polisie se openbare orde-eenheid is op die toneel. Hulle skiet sporadies met rubberkoeëls. Hulle verwyder brandende bande, takke en klippe waarmee paaie in die omgewing versper is. Die situasie bly gespanne."
Boshoff sê die betogers pak van die versperrings wat die polisie verwyder, weer terug in die pad.
Intussen het Mmusi Maimane, DA-leier, die Jericho-township sowat 10 km van Brits, Dinsdag besoek. Azola Mboniswa, sy woordvoerder wat hom vergesel het, sê daar was geen onrus in dié gebied nie en dat sowat 200 mense van die plaaslike gemeenskap gekom het om na Maimane te luister.

Maimane het beloof indien die DA aan bewind kom, sal die party 'n verantwoordbare en betroubare regering vestig. Maimane het met die ondertekening van 'n Kontrak van die Mense, gesê die DA sal sorg dat een persoon in elke huishouding 'n werk het, onder meer deur nepotisme te bekamp en dit makliker vir mense te maak om ondernemings te begin en werk te skep.
"Ons sal grense beveilig, immigrasie beheer en korrupsie bekamp. Madibeng is een van die munisipaliteite in die land wat kwaai onder korrupsie gebuk gaan. Die munisipaliteit het byvoorbeeld R30 miljoen staatsgeld in die nou omstrede VBS bank belê. Ons sal korrupte amptenare verantwoordbaar hou.
"Diegene wat skuldig bevind word aan korrupsie, moet 15 jaar tronk toe gaan. Dis weens korrupsie dat Madibeng ly onder diensleweringsprobleme. Sommige inwoners het vir maande aaneen nie water nie. Die DA sal dienslewering hier verbeter. Ons sal skoon water, behuising, gesondheidsorg en onderrig verskaf."




















