Verkiesings 2019

Mmusi ‘nie bekommerd’ ná drie van DA na ANC oorloop

Mmusi Maimane, DA-leier, sê hy is nie bekommerd dat kiesers Woensdag nie hul kruisies langs die DA gaan trek nadat drie Noord-Kaapse DA-wetgewerlede die afgelope naweek na die ANC oorgeloop het nie.

Maimane was Maandag op 'n blitsbesoek aan Galeshewe in Kimberley en is deur Andrew Louw, premierskandidaat, vergesel. Hulle het gaan kyk hoe spesiale stemme by die Laerskool Letshego uitgebring word.

Andrew Louw, Noord-Kaapse premierskandidaat, en Mmusi Maimane, DA-leier, was Maandag in Galeshewe om te kyk hoe spesiale stemme uitgebring word. Foto: Charné Kemp
Andrew Louw, Noord-Kaapse premierskandidaat, en Mmusi Maimane, DA-leier, was Maandag in Galeshewe om te kyk hoe spesiale stemme uitgebring word. Foto: Charné Kemp

"Enigeen wat nou na die ANC oorloop, beweeg agteruit. 'n Paar mense wat oorloop is 'n beuselagtigheid. Ons is op die verkiesing gefokus."

Die DA wil die Noord-Kaap by die ANC afneem.

"Die DA is die enigste party wat hier groei. Die provinsie het verandering en 'n nuwe toekoms nodig.

"Elke keer as ek hierheen kom, sien ek honger, werklose mense, mense wat in lang rye vir gesondheidsdienste wag. Sylvia Lucas, die premier, eet KFC terwyl die ANC 'n misdadige sindikaat is wat belastinggeld en hulpbronne steel.

"Wanneer Louw die premier word, sal daar in elke huishouding iemand wees wat werk."

Hy sê vanjaar se verkiesing is die mees bestrede.

"Niemand weet wie waar gaan wen en met watter meerderheid nie, wat tekenend van die demokrasie is. Diegene wat steel, gaan by die stembus gestraf word. Hier is 'n gees van vernuwing in Galeshewe.

"Ons veldtog was die grootste wat die provinsie tot nog toe gesien het."

Maimane het vlugtig op bewerings op sosialemediaplatforms reageer oor waarom die drie DA-LW's, Ismail Oberay, Safiyia Stanfley en Melinda Hattingh, na die ANC oorgeloop het.

"Ons het deur 'n regverdige proses gegaan om Louw as die beste premierskandidaat te kies," sê Maimane.

Mmusi Maimane, DA-leier gesels met verkiesingsbeamptes by die Laerskool Letshego in Galeshewe, Kimberley, waar spesiale stemme uitgebring is. Foto: Charné Kemp
Mmusi Maimane, DA-leier gesels met verkiesingsbeamptes by die Laerskool Letshego in Galeshewe, Kimberley, waar spesiale stemme uitgebring is. Foto: Charné Kemp

Louw het bewerings dat hy soos 'n boelie optree en dat koukusgeld wanaangewend is deur verblyf onder verkeerde partylede se name te bespreek, verwerp.

Hy sê die drie lede wat nou oorgeloop het, was vir sewe maande onaktief, en hy sal hulle dus nie mis nie.

"Hulle was glo siek. Hulle was ook teleurgestel omdat hulle laag op die kandidatelys geplaas is en hulle nie as wetgewerlede sou terugkeer nie. Hulle het egter nie daarteen geappelleer nie.

"Ek en Harold McGluwa (partyvoorsitter) moet die party bestuur en die kaiings uit die vuur krap. Ek is 'n baie toeganklike mens, en sal my foute erken."

Hy het bewerings dat koukusgeld verkeerdelik vir reise toegeken is, ontken.

"Ons het 'n paar jaar gelede besluit om die geld vir lede se reise saam te poel. Verblyfbesprekings in kiesafdelings word onder my of onder ander mense se name gedoen, al is daardie persone nie altyd die mense wat in die verblyf oorbly om DA-werk te doen nie."

Charné Kemp

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM