Verkiesings 2019

‘Moenie ANC straf’, pleit Ramaphosa

Verkiesings is nie die regte manier om die ANC te straf vir swak dienslewering nie.

Só het die ANC-president, Cyril Rampahosa, aan gemeenskappe in KwaZulu-Natal gesê op 'n besoek aan dié gebied.

"Verkiesings is baie belangrik en dit is nie 'n straf nie. Dit is nie die stok wat jy gebruik as jy baklei vir dinge soos water en rioolstelsels nie. Ons doel is 'n verkiesing waar jy 'n regering moet verkies wat al jou probleme gaan oplos," het Ramaphosa Saterdag aan inwoners van Ladysmith gesê.

Hy het gesê hy verstaan mense is gefrustreerd omdat dienste nie vinnig genoeg aan hulle gelewer word nie.

Inwoners het vroeër betoog weens te min water, stukkende rioolstelsels en 'n behuisingstekort, maar Ramaphosa het hulle gevra om die regering 'n kans te gee om die probleme op te los.

Inwoners in die gebied sukkel al sedert 2017 met watertekorte. Daar is onlangs aan hulle gesê hulle sal binnkort ononderbroke water hê wat sal kom uit reservoirs wat met ondergrondse water gevul word.

Ramaphosa besoek gemeenskappe landwyd nou al weke lank en hou verkiesingsbyeenkomste in 'n poging om die sowat 27 miljoene kiesers in die land sover te kry om weer op 8 Mei vir die ANC te stem.

Protesoptogte weens diensleweringsprobleme kom die afgelope jare wydverspreid voor in die land met sy sowat 57 miljoen inwoners. Die frustrasies oor swak dienslewering bring mee dat sommige kiesers ongeduldig raak oor die stadige vordering wat die regering in hierdie verband maak.

News24-korrespondent

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM