
"Hlaudi Motsoeneng vir president."
Dít is wat die African Content Movement (ACM) se plakkate uitbasuin en Saterdag het Motsoeneng, omstrede voormalige bedryfshoof van die SAUK en leier van die ACM, gesê hy is gereed om die belangrikste kantoor in Suid-Afrika ná die verkiesing te betrek.
Motsoeneng het sowat 1 000 ondersteuners in die Platberg-stadion in Harrismith, Vrystaat, toegespreek. Motsoeneng is 'n boorling van Qwaqwa, wat nie ver van Harrismith is nie.
Volgens 'n SAUK-nuusberig het Motsoeneng gesê hy sal goed vaar in die verkiesing.
Hy het pres. Cyril Ramaphosa bygekom en gesê hy sien om na buffels, maar het mense versaak.
Motsoeneng het beloof daar sal binne ses maande radikale veranderings wees nadat sy party die regering oorgeneem het. Hy het beloof om gesondheidsdienste en polisiëring te verbeter en om werkloosheid te verminder.














