'n Groep jong professionele mense van die BKB Akademie in Nederland het ook Woensdag in Alexandra in Johannesburg kom luister na Julius Malema se Werkersdag-toespraak.
Die groep sluit universiteitstudente en jong professionele mense in wat die verkiesingsveldtogte van Suid-Afrika se drie grootste politieke partye, die ANC, die DA en die EFF, kom waarneem het.
Shula Tas, die organiseerder van die groep, sê die akademie kies elke jaar 'n groep jong mense om blootstelling aan politieke veldtogte te kry.
"Die BKB is 'n veldtog-agentskap maar is nie polities nie, so ons voer nie politieke veldtogte nie, net maatskaplike veldtogte.
"Sedert die maatskappy gestig is, het ons hierdie akademie en vat ons mense om hulle te leer oor veldtogte. So, elke maand kom ons bymekaar en kies 'n groep talentvolle mense en ons leer hulle oor onderhandelinge, om in die openbaar te praat en die basiese beginsels van veldtogte voer en maatskaplike aktivisme," het Tas gesê.
"Suid-Afrika het 'n interessante verkiesing en dit is die sesde een in die land sedert die einde van apartheid."
Volgens die organisasie se webwerf, https://bkb.nl/english/, ontwikkel BKB veldtogte vir die regering, private maatskappye en openbare organisasies.


















