Die ANC in die Wes-Kaap glo nou meer as ooit tevore dat hy dié provinsie by die DA in die verkiesing kan afrokkel.

So sê Ebrahim Rasool, die ANC se provinsiale verkiesingshoof, wat Donderdag die media saam met Khaya Magaxa, waarnemende provinsiale voorsitter, en Faiez Jacobs, provinsiale sekretaris, oor die party se verkiesingsveldtog toegespreek het.
"Syfers toon dat die ANC se steun 12 dae voor die verkiesing aan 40% raak. Dit terwyl die DA sukkel om sy kop bo 50%-steun te hou."
Volgens Rasool wys dit dat die ANC se verkiesingsveldtog en veral die vertroue wat pres. Cyril Ramaphosa as nasionale ANC-leier onder verskillende rasse en klasse inboesem, die verwagte resultate oplewer.
Hy skryf die toename in steun vir die ANC toe aan die ANC-"weermag" van 15 000 vrywilligers wat ywerig verkiesingswerk oor die Wes-Kaap heen doen.
Volgens Jacobs handel die ANC se verkiesingsveldtog oor "brood-en-botter"-kwessies.
Hy sê die party gaan oor die volgende 12 dae hul harde werk konsolideer en veral konsentreer op kiesers wat nog nie besluit het vir wie om te stem nie.
Nog 'n prioriteit is om te verseker dat mense op stemdag in groot getalle by die stembus opdaag.
Op 'n vraag oor of die ANC al dink aan 'n koalisieregering in die Wes-Kaap, het Magaxa gesê dit is nog te vroeg.
Op 'n vraag oor of die ANC al dink aan 'n koalisieregering in die Wes-Kaap, het Magaxa gesê dit is nog te vroeg.
"Maar as ons nie 'n meerderheid kry nie, sal ons met partye onderhandel wat ons visie oor transformasie deel en wat in pas is met ons beginsels van nierassigheid."
Oor kritiek van die veral die DA dat die ANC in die provinsie nie wil onthul wie sy premierskandidaat is nie, het Rasool gesê hy was destyds deel van die laaste generasie wat sy premierskandidate voor verkiesings bekend gemaak het.
"Die ANC het daardie praktyk in 1999 stopgesit. Dit is sodat ons eers op die oorwinning fokus en nie voortydig op wie die premier sal wees nie.
"Ons wil dit benadruk dat ons veldtog op kwessies fokus, en nie op spesifieke mense nie. Dit is kritiek belangrik. Daarom sal die ANC nie sy besluit oor die voortydige benoeming van premierskandidate in die Wes-Kaap of nasionaal omkeer nie."
Volgens hom het die DA se voortydige benoeming van Alan Winde as premierskandidaat in die plek van Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier, verdeeldheid veroorsaak en is dit een van die redes waarom die DA se steun taan.
Rasool het die DA ook gekritiseer vir sy "Swart Gevaar"-taktiek veral op die party se verkiesingsplakkate wat die boodskap uitstuur dat die ANC en die EFF gestop en uit die Wes-Kaap gehou moet word.
"As hulle ernstig daaroor is, sal hulle eers hul koalisies met die EFF in Tshwane en Johannesburg verbreek. Dit is pure skynheiligheid," sê Rasool.




















