Met net 20 werkdae oor voor die Mei-verkiesing is die beplanning van die Verkiesingskommissie (OVK) in 'n gevorderde stadium.
Dit is die boodskap van Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, wat Donderdag 'n toespraak voor die Kaapse persklub gelewer het oor die voorbereidings vir die land se sesde nasionale en provinsiale verkiesings op 8 Mei.

As alle naweke en vakansiedae in April, waaronder die Paasnaweek en Vryheidsdag ingereken word, is daar net 20 werkdae oor voor die verkiesing, het Mashinini gesê. "Suksesvolle verkiesings vereis 'n aantal dinge, insluitende uitstekende beplanning, en ons is goed op dreef daarmee," het hy gesê.
'n Belangrike faktor is om die regte mense met die regte vaardighede en integriteit in plek te hê vir die verkiesing. Die OVK is in die proses om die werwing en opleiding van sowat 220 000 vrywilligers te finaliseer wat gedurende die verkiesing sal werk.
Mashinini het hom ook uitgespreek oor die lewensverlies in 'n betoging deur gemeenskapslede in Caledon in die Wes-Kaap. "Ongelukkig het ons vandag in Caledon maatskaplike onrus gesien en sommige mense het hul lewe verloor.
"Dit is regtig 'n hartseer ding, want niemand behoort hul lewe te verloor omdat ons verkiesing het of omdat daar 'n spesifieke saak in ons demokrasie is waaroor mense betoog nie, want dit is veronderstel om 'n vry land te wees.
"Ons harte gaan uit na die families van diegene wat hul lewe verloor het."
Hy het gesê die OVK handhaaf sterk skakeling met alle veiligheidsgroeperinge.
Mashinini het ook gesê 'n rekordgetal politieke partye - 48 - wat vir vanjaar se verkiesings geregistreer het, hou finansiële implikasies in. Dit is egter volgens hom binne die OVK se vermoë.
"Dit sal 'n impak op die lengte van die stembriewe hê wat op sy beurt 'n invloed sal hê op die aantal stembusse wat gebruik sal moet word. Daar sal beslis finansiële implikasies wees weens die rekordgetal partye. Ons het 18 meer politieke partye vanjaar as met die vorige verkiesing."
Op 'n vraag oor die omvang van die finansiële implikasies, het Mashinini geantwoord: "Ons kan dit met ons hulpbronne bekostig."
Op vrae oor besware wat teen kandidate ontvang is, het Mashinini geantwoord dat die OVK die beswaarmakers en die partye wat geraak is Maandag oor die uitslag daarvan sal inlig.
Nadat die verslag en al die regte prosedures afgehandel is, sal ons dit bekend maak. Vir nou is ek egter jammer om julle teleur te stel - almal wat genomineer is, is steeds op die lys.
— Glen Mashinini, voorsitter van die OVK
Hy was nie by magte om te sê teen watter kandidate die OVK besware ontvang het nie en of dit gehandhaaf word nie.
"Nadat die verslag en al die regte prosedures afgehandel is, sal ons dit bekend maak. Vir nou is ek egter jammer om julle teleur te stel - almal wat genomineer is, is steeds op die lys."
Die grondslag is egter volgens hom baie duidelik in onder meer die Kieswet uitgestippel oor onder watter omstandighede besware gehandhaaf sal word.
In die 2014- nasionale en provinsiale verkiesing en in die 2016- munisipale verkiesing was politieke konflik en geweld veral 'n bekommernis in KwaZulu-Natal.
Vanjaar blyk die konflik volgens Mashinini binne politieke partye self te wees in plaas van tussen onderskeie partye.
Oor die moontlikheid van beurtkrag op stemdag het Mashinini gesê dié aspek word dopgehou. Maatreëls word getref om die moontlike uitwerking daarvan te versag.




















