Die Verkiesingskommissie (OVK) in die Wes-Kaap ontken dat kiesers in Wellington op grond van ras in rye verdeel is nadat bewerings hieroor Woensdag op sosiale media gemaak is.

Courtney Sampson, OVK-voorsitter in die Wes-Kaap, het Woensdagaand gesê hy was aanvanklik geskok toe hy die beeldmateriaal sien waar wit en swart kiesers by 'n stempunt in dié dorp in aparte rye staan.
Nadat ondersoek ingestel is, is daar egter bevestig dat studente hier opgedaag het om te stem en eers aansoek moes doen om in die lokaal te stem. Hulle was nie hier geregistreer as kiesers nie.
Dié studente is glo in 'n afsonderlike ry geplaas om nie die res van die kiesers op te hou nie.
Volgens Sampson is die verduideliking wat van die kiesbeampte af ontvang is "bevredigend" en dui die voorval op die mag van sosiale media om mense se menings te beïnvloed.
Sampson sê die verkiesing in die provinsie het grootliks glad verloop, ten spyte daarvan dat stembriewe by sommige stempunte opgeraak het, en bewerings dat die inkmerk op kiesers se duim glo maklik verwyder kon word.
'n Laer stemopkoms word egter in die Wes-Kaap verwag en dit kan nie slegs aan die reën toegeskryf word nie, sê Sampson.
Nog 'n kopseer was die vervoer van stembriewe na stempunte waar dit opgeraak het omdat dit onder polisietoesig gedoen moet word. Die situasie is glo veroorsaak deur 'n groot aantal mense wat gaan stem het by lokale waar hulle nie geregistreer was nie.
As voorbeeld noem Sampson dat daar 'n bykomende 4 000 kiesers in die Kaapstadse Burgersentrum was waarvoor eenvoudig nie beplan kon word nie.
Hy sê dit is onaanvaarbaar dat die ink by sommige stempunte glo maklik van kiesers se duim verwyder kon word. Dit het gelei tot bewerings dat mense meer as een keer gestem het.
Kiesers moet egter nie aanneem dat dit algemeen voorgekom het en 'n aansienlike uitwerking op die uitslae sal hê nie, sê Sampson.
Suid-Afrikaners is herinner dat die finale uitslag van die nasionale verkiesing Saterdag bekend gemaak sal word en dat uitslae wat voor dan verskyn, voorlopig is.
Die finale nuuskonferensie oor die Wes-Kaap se uitslae kan Donderdag om 19:00 of Vrydag om 10:00 gehou word.

Faiez Jacobs, Wes-Kaapse provinsiale sekretaris van die ANC, sê die party se aanvanklike indruk is dat die stemdag vlot verloop het. Hy het wel kommer uitgespreek oor die uitwerking van die reën en sommige stempunte wat laat geopen het.
Alan Winde, die DA se premierskandidaat, sê dit was 'n strawwe aanloop tot die verkiesing. Hy het kiesers wat die reën trotseer het, bedank.
Winde het gewys op klagtes dat die stembriewe by sekere stempunte opgeraak het en die skandeerders op plekke glo nie gewerk het nie.
Hy het ook 'n beroep gedoen dat die aantygings dat kiesers die inkmerk op hul duim maklik kon verwyder, ondersoek moet word.

Patricia de Lille, Good-leier, sê haar enigste klagte tot dusver is oor die weer in die Wes-Kaap en die moontlike uitwerking wat dit op die stemmery kon hê. Sy het die OVK se beamptes vir hul werk bedank.
Die VF Plus meen die verkiesing was grootliks vry en regverdig, maar het wel beswaar aangeteken oor die ink by stempunte en stembriewe wat opgeraak het. Die VF Plus sê die 2019-verkiesing gaan bewys dat hy nie meer 'n klein party is nie.

Ferlon Christians, ACDP-leier in die Wes-Kaap, het ook gekla oor swak organisering met dié dat stembriewe glo in die oggend al by sommige stempunte opgeraak het. Andersins het die stemdag grootliks vlot verloop, sê Christians.

Cope het op sy beurt gesê hy is bekommerd oor hoe maklik kiesers die inkmerk van hul duim kon verwyder, selfs met 'n gewone toiletskoonmaakmiddel.
Cope sê lede van ander partye is glo in Milnerton opgemerk waar hulle na bewering gespog het dat hulle meer as een keer gestem het.










