'n Adjunk- voorsittende beampte van die Verkiesingskommissie (OVK) by 'n stemlokaal in Benoni aan die Oos-Rand is herroep nadat 'n video Maandag op die internet die ronde gedoen het van hoe stembriewe waarop spesiale stemme uitgebring is, deur 'n party-agent gehanteer word.
Die OVK ondersoek ook berigte dat sommige stembriewe nie die nodige stempel van die OVK daarop het nie.
Die video wys hoe 'n agent van 'n politieke party help om die stembriewe in dubbelkoeverte van 'n sak wat vir huisbesoeke gebruik is, na 'n boks in die stemlokaal oorplaas.
Die OVK sê hoewel dit normale prosedure is om die stembriewe van die sakke na die bokse oor te dra, word die hantering van verkiesingsmateriaal deur enige party-agent verbied.
"Hulle (die party-agente) mag slegs die bedryfsaspekte waarneem en beswaar aanteken. Die adjunk- voorsittende beampte wat oor die proses toesig gehou het, is dus verwyder," het die OVK Dinsdag in 'n verklaring gesê.https://www.news24.com/Elections/News/iec-removes-deputy-presiding-officer-from-benoni-voting-station-following-viral-video-20190507
Die OVK het ook die versekering gegee dat ten spyte van die oortreding die integriteit van die verkiesing nie ondermyn is nie, aangesien spesiale stemme ingevolge 'n baie streng proses van die dubbelkoeverte gehanteer word voordat dit getel word.
Die OVK verduidelik alle spesiale stemme word eers in 'n ongemerkte koevert geplaas, wat dan in 'n tweede koevert geplaas word, met 'n stemlokaal se naam en die kieser se besonderhede daarop. Dit word dan in 'n sak gesit as die stem tuis uitgebring is, of in die stembus as die stem in 'n stemlokaal uitgebring is.
Voordat 'n stem getel word, word daar ook seker gemaak die kieser se naam is op die lys van geregistreerde kiesers wat suksesvol aansoek gedoen het om 'n spesiale stem uit te bring.
"Die party-agente en waarnemers monitor hierdie proses. Slegs wanneer dit bevestig is dat die naam van die persoon wat die spesiale stem uitgebring het, ooreenstem met die lys van geregistreerdes, word die buitenste koevert oopgemaak en word die binneste koevert by die normale stemme geplaas wat getel word."
Die OVK het ook gesê hy ondersoek voorvalle waar die dubbelkoevertstelsel nie Maandag toegepas is nie, en sommige stembriewe wat nie agterop gestempel is nie. - News24
















