Die DA sê hy het bewyse dat die Russe 'n rol gespeel het om hom voor Woensdag se algemene verkiesing in 'n slegte lig te stel.
Die ANC sê op sy beurt dis onsin dat die Russe die ANC gehelp het.
The Guardian, 'n Britse dagblad, het Woensdag berig die Russe het ingemeng met die Suid-Afrikaanse verkiesingsveldtog om die ANC te help.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, het Woensdagaand met 'n regstreekse uitsending van Netwerk24 by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria gesê die DA het dokumentêre bewyse dat daar so 'n poging was.
Selfe het gesê "iemand wat baie na aan pres. Wladimir Poetin is" het dit georkestreer.
Dieselfde persoon was glo ook betrokke by die destabilisering van die VSA met die presidentsverkiesing in 2016 toe pres. Donald Trump verkies is.
Hy sê die dokumentasie verbind die ANC met die poging. In die dokument word gesê die DA is te "pro-Westers" en die EFF "te radikaal".
Selfe sê daar was heelwat besoeke van senior ANC-lede aan Rusland waarvan die redes nooit gegee is nie.
Hy sê daar is beslis 'n verband tussen die regerende elite in Rusland en dié van die ANC. "Dit sal my nie verbaas as die Russe in 'n stadium betrokke was in die destabilisering van ons demokrasie nie."
Selfde sê die inspekteur-generaal van intelligensie en die parlementêre gesamentlike komitee oor intelligensie behoort die bewerings te ondersoek omdat "mense in ons eie intelligensiedienste moontlik daarby betrokke is".
"Ons sal dié saak beslis verder neem."
Dakota Legoete, waarnemende ANC-woordvoerder, het die bewerings as "absolute onsin" bestempel.
"Ek was ten nouste saam met (Fikile) Mbalula (die ANC se verkiesingshoof) betrokke by die ANC se verkiesingsveldtog. Daar was geen Russe deel van ons verkiesingsveldtog nie," het hy gesê.
Die plan is volgens die berig in The Guardian glo opgestel deur die Association For Free Research and International Cooperation (Afric) "onder die dekmantel van navorsing".
Henning van Aswegen, 'n spioenasie-kenner en voormalige dosent by die Suid-Afrikaanse Nasionale Intelligensie-akademie, het gesê dit is hoogs onwaarskynlik dat enige Russiese disinformasie-veldtog 'n beduidende invloed op Woensdag se verkiesing sou hê.
"Enige poging van dié organisasie om die verkiesing via sosiale media te beïnvloed, sou bykans geen trefkrag gehad nie," meen hy.
The Guardian het berig 'n groep politieke ontleders is glo in Februarie in Suid-Afrika ontplooi om die ANC te help.
Volgens die dokumente wat die koerant sê hy gesien het, het daarop gedui dat die ANC sou sukkel om meer as 50% van die stemme op hom te verenig. Die EFF sal as die naasgrootste party uit die stryd tree.











