So word stemme getel ná 8 Mei

Grafika: Só word stemme getel.
Grafika: Só word stemme getel.

"Om 'n nasionale verkiesing te reël, is 'n enorme logistieke onderneming. Daar moet mense wees wat die distrikte beman en sorg dat daar tafels, stembusse en stembriewe is," sê Melanie du Plessis, die Verkiesingskommissie (OVK) se sakestelselbestuurder.

Wanneer die laaste kruisie getrek is, begin die tel- en verifiëringsproses.

"Die uitslae van die nasionale verkiesing ondergaan verskeie toetse en kontroles om seker te maak die proses is so deursigtig en akkuraat as moontlik," sê sy.

Die kiesbeamptes moet elke stembrief nagaan en seker maak dit het 'n OVK-stempel en 'n stempel van die spesifieke kiesstasie. So skakel hulle vervalste stembriewe uit.

Die stemme word by die kiesstasies getel. Eerste word die bedorwe stemme nagegaan en eenkant gesit. Daarna tel die beamptes die geldige stemme en sorteer hulle volgens die politieke partye.

Die uitslae word opgesom op 'n stemuitslagdokument, waarvan daar twee afskrifte is. Die een afskrif bly agter by die stemstasie, die ander gaan na die OVK se munisipale kantore.

Politieke partye se agente is te alle tye teenwoordig, vandat die stembusse oopgemaak word en tydens die telproses, om seker te maak daar word nie gekonkel nie.

Die inhoud van die stemuitslagdokument word op die OVK se rekenaarstelsel aangeteken. Elke dokument het 'n unieke staafkode, wat geskandeer word. Dit dui onder meer aan van waar die dokument kom, die stemdistrik en of dit provinsiale of nasionale resultate is.

Die inligting word twee keer op die stelsel deur 'n OVK-beampte vasgelê. Nadat hulle vir die eerste keer al die syfers ingevoer het, maak hulle alles weer skoon en herhaal die proses. Eers as die eerste vaslegging se syfers met die tweede vaslegging klop, aanvaar die stelsel die resultate.

Dit stop egter nie daar nie.

Die resultate word verwys na 'n span eksterne ouditeure, wat moet seker maak die OVK se syfers klop. Wanneer hulle die resultate geoudit het en tevrede is, sleutel hulle hul unieke kode in om die resultate te bevestig.

SPELETJIES VANDAG

CTA