Byna 800 000 Suid-Afrikaners wat hul stemme voor stemdag as spesiale stemme kan uitbring, se stembriewe moet môre- en Dinsdagaand in veilige bewaring gehou word deur die veiligheidsmagte sodat dit nie 'n twispunt word by die tel van stemme nie.
Die Verkiesingskommissie (OVK) het hierdie week gesê daar is volkome vertroue dat die stembriewe wel veilig bewaar en korrek getel sal word. Die DA het ook Vrydag gesê die party het toestemming gekry om 'n ekstra seël op die bokse vol stembriewe te plaas wat sekerheid verhoog.
Tsile Maswanganyi van die OVK se kommunikasiedepartement het by navraag bevestig byna dubbel soveel kiesers as in 2014 het vanjaar die reg om hul stemme môre en Dinsdag as spesiale stemme uit te bring.
Tot in 2011 moes kiesers 'n beëdigde verklaring onderteken dat hulle uitstedig, siek, in 'n verswakte toestand of bejaard was, of op stemdag by die verkiesing betrokke was (byvoorbeeld as lid van die veiligheidsmagte of 'n OVK-personeellid) om vir 'n spesiale stem te kwalifiseer. 'n Hofuitspraak in 2011 het dit verander omdat dit as diskriminerend en arbitrêr ervaar is. Dit het die sluise oopgetrek: Nou kan enigeen wat korrek en betyds aansoek doen, kwalifiseer.
Die getal kiesers wat vanjaar voor Woensdag al kan stem is 804 512 - 'n aks meer as 3% van die totaal - waarvan 29 418 reeds hul buitelandse stemme kon uitbring. Sowat 458 000 aansoeke is van verwagtende vroue, siekes en bejaardes ontvang om met tuisbesoeke hul stemme uit te bring, en die res is mense wat by die verkiesingsproses se administrasie betrokke is of om watter rede ook al aansoek gedoen het om vroeg te stem.
In 2014 was die totale getal kiesers wat deur binnelandse spesiale stemme hul kruisie vroeg kon trek sowat 393 000. Vanjaar is dit 774 000.
Die eerste keer dat spesiale stemme ietwat omstrede was, was in 2016, toe 'n baie groot aantal in Mpumalanga skielik daarvoor aansoek gedoen het. Die Mpumalanga-kwessie is deur die OVK ondersoek, maar geen ongerymdhede is gevind nie, het Maswanganyi gesê.
Vanjaar is die aansoeke vir spesiale stemme baie meer eweredig versprei, hoewel die Noord-Kaap - waar 'n taaier stryd as in die verlede woed te midde van die hofsake teen verskeie ANC-leiers in die provinsie op verskeie aanklagte - 'n groter verhouding aansoeke vir provinsiale stemme het as ander provinsies.
Kiesers wat vir spesiale stemme geregistreer het, maar nie Maandag of Dinsdag by die stemlokaal uitkom nie, kan steeds Woensdag stem.














