Verkiesings 2019

Stem vir ANC om staatskapers vas te vat – Cronin

Paul Mashatile Foto: Llewellyn Prince
Paul Mashatile Foto: Llewellyn Prince (Llewellyn Prince)

'n Beduidende verkiesingsoorwinning vir die ANC-alliansie onder pres. Cyril Ramaphosa is noodsaaklik om die "skurke en verraaiers", wat miljarde rande deur staatskaping verduister het, te vervolg en tronk toe te stuur, sê Jeremy Cronin, die SAKP-leier.

Cronin, ook adjunkminister van openbare werke, het dít Woensdag in die Athlone-stadion aan honderde ANC-, Cosatu- en SAKP-ondersteuners gesê wat Cosatu se amptelike Wes-Kaapse Werkersdagvieringe bygewoon het.

Hy was saam met Paul Mashatile, die ANC se tesourier-generaal, en Freda Oosthuysen, Cosatu se tesourier-generaal, die hoofsprekers op die geleentheid wat terselfdertyd ook as 'n ANC-verkiesingsaamtrek gedien het.

Volgens Mashatile sal Ramaphosa eerskomende Vrydag weer in Kaapstad wees "vir die finale stemwerwingsproses om die provinsie van die DA af te rokkel".

Cronin het gesê Suid-Afrika het onder Ramaphosa reeds begin om die "gemors" van staatskaping en korrupsie skoon te maak.

"Baie meer moet egter nog gedoen word. Nuwe direksies is al vir staatsbeheerde ondernemings (SOE's) aangestel. Stappe is ook vir 'n massiewe skoonvee van die strafregstelsel en die polisie gedoen."

Cronin meen dít is egter net die begin.

"Die skoonvee-momentum moet nou gekonsolideer en bespoedig word. Om ANC te stem is die eerste boodskap wat ons moet stuur.

"Die skurke en verraaiers moet tronk toe. Die miljarde rande wat gesteel en onwettig na Dubai en elders gestuur is, moet teruggebring word."

Volgens hom moet kiesers vir die ANC stem omdat geen ander politieke beweging "in staat is om ons land, demokrasie en aanwinste te red nie".

'n Groot getal mense het die Wes-Kaapse Werkersdagvieringe in die Athlone-stadion bygewoon. Foto:Llewellyn Prince
'n Groot getal mense het die Wes-Kaapse Werkersdagvieringe in die Athlone-stadion bygewoon. Foto:Llewellyn Prince

Cronin het egter ook harde woorde vir die ANC gehad deur te sê die suksesvolle stryd teen korrupsie beteken nie dat daar na die "neoliberale 1996-klasprojek terugbeweeg word nie".

"Ons moenie toelaat dat die verskriklike impak van staatskaping 'n rede vir die grootskaalse privatisering van SOE's word nie.

Volgens Cronin moet 'n verkiesingsoorwinning vir die ANC die grondslag vorm waarop Suid-Afrika vorentoe "op 'n beslissende pad van revolusionêre transformasie" beweeg.

Mashatile het in sy spreekbeurt gesê mense moet op 8 Mei in groot getalle vir die ANC stem om 'n oorwinning van tussen 60% tot 65% te verseker.

"Ons soek 'n beslissende oorwinning, ook hier in die Wes-Kaap. Die Wes-Kaap moet terugkom ANC toe. Ons is moeg om hier deur die DA regeer te word."

Volgens hom ondersteun die ANC Cosatu ten volle in sy strewe om te verseker dat die lewe van alle werkers in Suid-Afrika verbeter word.

Hy het belowe dat die ANC, as hy die verkiesing wen, sal verseker dat die nasionale minimum loon, sowel as die Nasionale Gesondheidsversekering in werking gestel word. "Ons sal ook aanhou om saam met Cosatu te werk om te verseker dat die ekonomie groei om werkgeleenthede te kan skep."

Oosthuysen het gesê van Cosatu se prioriteite vorentoe is meer om die veldtog te verskerp vir die tweede fase van die demokratiese oorgang, wat deur radikale ekonomiese transformasie gekenmerk sal word.

Volgens haar sal dié vakbondfederasie ook die nasionale minimum loon verdedig én na die algehele verbanning van arbeidsmakelaars strewe.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM