Verkiesings 2019

Stembus toe, sê OVK met opening van uitslagsentrum

Sowat 770 000 kiesers sal Maandag en Dinsdag landwyd spesiale stemme uitbring, het die Verkiesingskommissie (OVK) Dinsdagmiddag in Pretoria bekend gemaak.

Die nasionale uitslagsentrum in Pretoria is Dinsdag amptelik geopen. Foto: Simon Sonnekus
Die nasionale uitslagsentrum in Pretoria is Dinsdag amptelik geopen. Foto: Simon Sonnekus

Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte, het met die amptelike opening van die nasionale uitslagsentrum op die Pretoriase skouterrein gesê die uitbring van spesiale stemme sal aan die OVK die geleentheid bied om seker te maak alles is gereed vir volgende Woensdag se algemene verkiesing.

Meer as 26 miljoen kiesers is geregistreer om te stem.

Suid-Afrikaners in die buiteland, insluitende soldate wat op vredesendings is, het die afgelope naweek reeds by Suid-Afrikaanse missies gestem.

" 'n Beduidende aantal kiesers het gestem. Dié stemme is nou op pad na Suid-Afrika en sal saam met die res van die stemme getel word," sê Mamabolo.

Hy sê 85% van die kiesers op die kieserslys se adresse is reeds in opdrag van die konstitusionele hof ingesamel.

Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, het 'n beroep op politieke partye gedoen om "glad nie enige uitslae bekend te maak voordat dit nie deur die OVK gedoen is nie".

Streng maatreëls is daargestel om seker te maak daar is geen onreëlmatighede nie.

"Deursigtigheid gaan gepaard met 'n sekere mate van verantwoordelikheid. Net die OVK mag uitslae bekend maak.

"Ons is nie daar om mekaar uit te vang nie, maar om saam te werk om te verseker die verkiesing is vry en regverdig," sê Mashinini.

Die finale uitslag van die verkiesing word op Saterdag 11 Mei verwag.

Meer as 189 000 vrywilligers sal tydens die verkiesing diens doen. Daar sal 220 000 verkiesingsbeamptes landwyd ontplooi word.

Sowat 700 joernaliste van oor die wêreld heen sal oor die verkiesing verslag doen. Internasionale waarnemers is ook reeds in die land.

Mamabolo sê die OVK is gereed om sy grondwetlike mandaat uit te voer.

"Xsê, stembus toe met elke kieser!"

Sarel Van Der Walt en Gert Van Der Westhuizen

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM