Die ANC geniet volgens die voorlaaste peiling van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIR) voor die algemene verkiesing op 8 Mei, nasionaal net 49,5% van die kiesers se steun.
Die ANC se steun het gegrond op 'n stempersentasie van 100% sedert Februarie met 5,7 persentasiepunte gedaal.
Die DA geniet 21,3% steun, wat 'n daling van 0,5 persentasiepunte sedert Februarie is. Op sy beurt geniet die EFF 14,9% steun - 'n styging van 2,7 persentasiepunte.
Die uitslag van die peiling, wat landwyd tussen 18 en 25 April gedoen is, is Dinsdagoggend in Johannesburg bekend gemaak. Die peiling is landwyd onder 2 375 geregistreerde kiesers gedoen.
"Die peiling is nie 'n voorspelling nie, maar bloot die gevoel onder kiesers toe die peiling gedoen is," sê Gareth van Onselen, die SAIR se hoof van politiek en regering. Hy gee toe Suid-Afrikaners is baie skepties oor peilings, maar sê daar is goeie en swak peilings.

In Gauteng geniet die ANC net 42,8% steun, teenoor die DA se 31,9% en die EFF se 13%.
In die Wes-Kaap is die DA se steun aan die daal. Die party geniet 44,6% van die steun, teenoor die ANC se 27,8%, die ACDP se 7% en die EFF se 6,8%.
Van Onselen sê dit is duidelik die onlangse beurtkragkrisis en getuienis voor die Zondo-kommissie het die ANC skade berokken.
Die ANC het ooglopend ook baie steun landwyd aan die EFF afgestaan.
Dit is egter nie onmoontlik nie dat die ANC met 'n stewige vertoning in die laaste week voor die verkiesing op 8 Mei baie meer steun kan kry, meen Van Onselen. Tradisioneel neem die groter partye in dié tyd steun by die kleiner partye af.
Van Onselen sê as die stempersentasie nasionaal 71,9% is, sal die ANC se steun tot 51% styg.
Met 'n stempersentasie van 69,3% sal die ANC na verwagting 50% van die kiesers se stemme op hom verenig.
"Dit is byna onmoontlik om te voorspel wat die stempersentasie sal wees. Daar is groot apatie onder kiesers en ontevredenheid oor wat die laaste dekade of wat in die politiek aan die gang is," sê Van Onselen.
Met 'n stempersentasie van 71,9% sal die DA se steun tot 24% toeneem, en met 'n stempersentasie van 69,3% sal die party dieselfde steun (24%) geniet.
Die EFF sal met bogenoemde stempersentasies tot 14% toeneem.
"Dit is fassinerend wat in die Wes-Kaap aan die gang is. Die DA sowel as die ANC se steun neem af, terwyl dié van die ACDP aan die toeneem is.
"Dit is duidelik die ACDP het stemme by die DA weggeneem," sê Van Onselen.
Volgens hom sal die DA se steun in die Wes-Kaap met 'n stempersentasie van 71,9% tot 50% toeneem, en tot 50,1% indien die stempersentasie 69,61% is.
Die ANC se steun sal met dié stempersentasies onderskeidelik 29% en 28% wees, terwyl dié van die ACDP op 7% sal bly. Die EFF se steun sal tot 5% afneem.
Die peiling is nie in die ander sewe provinsies gedoen nie.
* Die SAIR se finale peiling word eerskomende naweek gedoen en die uitslag sal op 6 Mei bekend gemaak word.





















