'n Propvol verlore stembus by 'n laerskool in Welkom in die Vrystaat het tot groot ontsteltenis onder kiesers gelei, maar die Verkiesingskommissie (OVK) sê die stembus is net vol rommel gestop toe die stempunt opgeruim is.

Mike Atolo, 'n munisipale kiesbeampte, sê een van die OVK se werknemers het ná Woensdag se stemmery die leë stembus by die Reitzpark Primary School vol afvalmateriaal en ander rommel gestop en dit met OVK-seëls verseël.
"Hy moes dit nie gedoen het nie," sê Atolo.
Donderdagoggend het personeel van die skool op die stembus in die skoolsaal afgekom, en foto's daarvan is onmiddellik rondgestuur.
Atolo sê dit is jammer dat die OVK nie eerste oor die voorval ingelig is nie, maar dit is 'n geval van nalatigheid en nie misdadigheid of oneerlikheid nie.
Hy sê die skool het intussen die stembus in sy kluis toegesluit en dit sal oornag daar gebêre word.
Die OVK-beamptes wat verantwoordelik daarvoor was om die stembus op te laai en die beampte wat dit vol gemors geprop het en verseël het, het almal Donderdag beëdigde verklarings oor die voorval afgelê, sê Atolo.

Hy sê verteenwoordigers van die OVK, die polisie en party-agente sal almal Donderdagoggend saam na die skool gaan waar die stembus oopgemaak sal word.
Atolo sê volgens personeel van die skool is die stembus baie swaar en hy glo dit is vol rommel.
Volgens Atolo is die getal stemme wat by dié kiespunt uitgebring is, reeds gerekonsilieer en blyk dit korrek te wees.
Hy glo dus die stembus het niks anders as rommel daarin nie.












