Verkiesings 2024

Cyril vang DA met slap riem

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die DA is met 'n slap riem gevang toe pres. Cyril Rama­phosa die afgelope Sondagaand 32 ministers vir sy kabinet aangekondig het.

Rapport verneem daar is teen verlede Vrydag 'n amptelike versekering aan die DA se onderhandelaars gegee dat Ramaphosa slegs 27 kabinetslede sou aankondig. Dit sou beteken dat die DA 22,2% van die kabinetsposte beklee.

Die DA beklee proporsioneel 30,2% van die setels in die regering van nasionale eenheid (RNE). Sy ses ministers beklee egter nou slegs 18,8% van die kabinetsposte.

Volgens klousule 16 van die verklaring van voorneme, wat elke party wat tot die RNE behoort onderteken het, moet die RNE saamgestel word op 'n manier wat "breedweg die getal setels wat partye in die Nasionale Vergadering (NV) gekry het" in ag neem.

John Steenhuisen, DA-leier, se party het die meeste ingeboet as hierdie benadering gevolg is. Daarenteen het die ANC 62,5% van die kabinetsposte gekry, hoewel hy slegs 55,2% van die setels in die RNE beklee.

Steenhuisen het aanvanklik agt kabinetsposte gevra, maar eindelik berus by die ses wat die ANC aangebied het. Rapport verneem die DA sou druk uitgeoefen het vir nóg poste indien hy geweet het die kabi­net sou so groot wees.

Kleiner partye soos Good en die PAC het ook sterk voordeel getrek uit die samestelling van die kabinet.

Die DA het in die verlede aangedui dat die kabinet veel kleiner, tot so min as 15 lede, moet wees. Ramaphosa se derde kabinet is egter sy grootste tot nog toe.

Volgens DA-bronne was hierdie aankondiging een van die groot redes waarom die DA die afgelope week vasgeskop het teen die aankondiging van Panyaza Le­su­fi, Gautengse ANC-premier, se provinsiale uitvoerende raad. Die DA wou die versekering kry dat hy proporsioneel verteenwoordig word in die Gautengse uitvoerende raad.

Die party, wat 28% van die steun in Gauteng gekry het, het daarom op vier van die 10 poste aangedring, wat beteken dat die ANC, wat 34% van die steun gekry het, vyf poste kon kry en 'n ander party een.

Toe die ANC net drie poste aanbied, het die DA gesê dis slegs in die haak as die ANC dan net vier poste kry - met die res wat na kleiner partye sou gaan.

Die ANC wou nie hierdie versekering gee nie, wat die DA genoop het om kop uit te trek. Die ANC het eindelik sewe poste gekry. Lesufi regeer nou met 'n minderheidsregering.

Die DA is nie die enigste party wat onkant betrap is deur Rama­phosa se aankondiging nie. Gayton McKenzie, PA-leier, het nog etlike ure voor Ramaphosa se aankondiging Sondagaand in 'n TV-onderhoud op eNCA gesê sy party sal die RNE verlaat indien hulle nie 'n kabinetspos kry nie. Hy is eindelik die pos van minister van sport, kuns en kultuur gegee nadat hy weke lank aangedring het op die portefeuljes van binnelandse sake of polisie.

Ook dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, is eers verlede Sondag ná 19:00 in 'n oproep die pos van minister van korrektiewe dienste aangebied. Die VF Plus is nie voor dit ingelig of hulle 'n pos, en watter pos, sou kry nie.

Volgens ANC-bronne het slegs die DA en die IVP vir sekere poste onderhandel.

Die PA, VF Plus, Good en die PAC is poste aangebied nadat die onderhandelinge tussen die drie grootste partye reeds afgehandel was. Lees Rapport se hoofartikel.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM