Politieke partye in die land het Vrydag met 'n toutrekkery tussen mekaar begin nadat die ANC aangekondig het hy wil 'n regering van nasionale eenheid tot stand bring.
Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het Donderdag op 'n lang spesiale vergadering besluit 'n regering van nasionale eenheid is die beste manier om die politieke dooiepunt op te los nadat die regerende party sy volstrekte meerderheid in die verkiesing verloor het.
Hy wil alle partye daaroor nader, maar het nie juis spesifieke besonderhede bekend gemaak nie.
Die EFF het Vrydag by monde van sy adjunkleier, Floyd Shivambu, te kenne gegee dat hy glad nie deel sal wees van 'n regering van nasionale eenheid saam met die DA en VF Plus nie.

MK is dit met die EFF eens en beskryf die term regering van nasionale eenheid as "DA-terminologie".
John Steenhuisen, leier van die DA, het op X 'n berig ontken dat die DA net bereid is om saam te werk as die EFF en MK nie deel van 'n ooreenkoms is nie. Die beskerming van die Grondwet en ekonomiese groei is die beginsels waarvolgens die DA met ander partye sal onderhandel, sê Steenhuisen.
Netwerk24 het ook 'n dokument van die DA vir sulke samesprekings onder oë gehad. Die voorstelle wat daarin gemaak word, is billik en geensins onrealisties nie. Daar word byvoorbeeld niks gemeld van posisies wat die DA voel hom toekom nie.
Die DA vra selfs vir die dringende uitvoering van die regering se Vulindlela-program wat ekonomiese groei moet versnel.
Die DA het voorts die ANC se aankondiging as 'n positiewe stap verwelkom, maar vra meer besonderhede oor die soort regering wat die ANC in gedagte het.
Die IVP sê in 'n verklaring hy is nie gekant teen 'n regering van nasionale eenheid nie, maar sal ook graag meer besonderhede wil hê. Die IVP aanvaar kiesers se besluit dat die tydperk van koalisies aangebreek het en besef moeilike besluite en oorwegings wag op hom.
Gayton McKenzie, leier van die PA, sê hy sal eers wag om te hoor wat sy party aangebied word.
Ses kleiner partye het hoofregter Raymond Zondo gevra om 'n vergadering te belê oor politieke samewerking waarop 'n regering van nasionale eenheid bespreek kan word. Dit sal deursigtigheid verseker, lui die brief wat Bantu Holomisa, leier van die UDM, namens die partye onderteken het.
Die ander partye is die ACDP, ATM, Bosa, die PAC en UAT. Hulle glo ook dat nie net groter partye aan die onderhandelinge kan deelneem nie.
Rise Mzansi sal die naweek sy posisie oor 'n regering van nasionale eenheid bespreek. Hy het politieke partye en hul leiers gevra om die belangrikheid van die nuwe era in te sien en in die belang van die mense van Suid-Afrika op te tree.
ActionSA sê hy sal nie by 'n regering van nasionale eenheid betrokke raak nie, maar eerder 'n "konstruktiewe opposisie vorm".
Prof. Bheki Mngomezulu, politieke ontleder van die Nelson Mandela-Universiteit, sê 'n regering van nasionale eenheid kan wel sommige opposisiepartye se magte beperk, maar dit maak hulle deel van die regeringstruktuur.
Ons weet die DA het ook 'n voorstel van 'n verdeling waarin die ANC die uitvoerende gesag is en hulle neem oor in die wetgewer.
"Kwessies wat hulle as opposisiepartye sou opper, sal nou tydens die regering se beplannings- en beleidsessies geopper kan word. Opposisiepartye sal dus deel van die verandering kan wees pleks van net van die kantlyn of opposisiebanke af 'n geraas te maak."
Prof. Susan Booysen, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, meen die ANC se "baie moeilike" besluit oor 'n regering van nasionale eenheid is waarskynlik 'n tussentydse taktiese stap om by 'n oplossing uit te kom.
Volgens haar is die EFF en MK reeds skepties en sal hulle waarskynlik nie deel daarvan word nie. As dit wel gebeur, sal die ANC aan sy lede en ondersteuners kan sê hulle het almal genader en dat daar in landsbelang met die vorming van 'n regering van nasionale eenheid voortgegaan moet word.
Booysen glo opposisiepartye kan in so 'n bedeling steeds 'n opposisierol speel.
"Ons weet die DA het ook 'n voorstel van 'n verdeling waarin die ANC die uitvoerende gesag is en hulle neem oor in die wetgewer. Dit sal 'n ander soort opposisierol beteken, maar dit sal 'n geïntegreerde rol vir die opposisie word." - Gert van der Westhuizen, Christiaan du Plessis, Llewellyn Prince, Marelize Barnard en Ruhan Friedrichs




















