Geskiedenis word soms op vreemde plekke gemaak.
As jy verby die O.R. Tambo-lughawe ry, sal jy aan jou linkerkant die enorme casino sien waar partye in die vroeë 1990's oor die oorgang na demokrasie onderhandel het. Die Wêreldhandelsentrum van destyds moes plek maak vir die casino met sy dobbelsale, konferensiekamers en eetplekke.
Al herinnering aan destyds se geskiedenis is 'n heel kykbare uitstalling daaroor in een van die nuwe geboue se gange.
As jy verder verby die casino ry en 'n paar keer links en regs draai, kry jy nog 'n reusagtige konferensiesentrum in Boksburg. Dit is 'n geliefde bymekaarkomplek van die regerende party waar politici en joernaliste al letterlik dae en weke verwyl het.
Die een groep deur oënskynlik onophoudelik te praat en die tweede groep wat merendeels eindeloos wag en wag en wag en wag . . .
Dit is maar 'n taamlik troostelose bymekaarkomplek; dis asof alle plekke waar konferensies en onderhandelings gehou word naderhand dieselfde lyk met dieselfde sale, dieselfde meubels, dieselfde potplante en dieselfde stukkies tuin tussen geboue.
Donderdag met die spesiale vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) was dit nie veel anders nie, behalwe dat die winter dié keer behoorlik toegeslaan het met 'n ysige wind wat tussen die geboue deurgewaai het.
Dit het verkopers van ANC-aandenkings nie ontmoedig nie en hulle het van vroegoggend kraampies staangemaak waar hulle alles van pette, rokke, T-hemde, dasse en handsakke tot tekkies in ANC-kleure verkoop het. Jy kon ook by een 'n Palestynse serp aanskaf en daar was selfs 'n boekhandelaar wat 'n voornemende kliënt met spyt meegedeel het dat al sy boeke deur Frantz Fanon reeds van die hand gesit is.
'n Handjievol betogers het in die straat oorkant die hotel bymekaargekom om NUK-lede met hul heldergeel plakkate te maan teen 'n koalisieregering met die DA.
Lede van die polisievakbond Popcru in hul rooi gewaad was ook oral te sien.
Hulle het ook 'n konferensie gehou en het in die veel ruimer O.R. Tambo-saal vergader. Die NUK moes tevrede wees met die kleiner Koning Shaka-saal.
Dit het nie gelyk asof dit die NUK-lede gepla het nie. Hulle het besonder opgewek voorgekom, almal vriendelik gegroet en vriende om die hals geval.
Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het die media ingelig dat pres. Cyril Ramaphosa die pad na die toekoms al so vroeg soos 18:00 en nie later nie as 19:00 sal uitstippel.
Dit is 'n baie geskiedkundige oomblik, het hy verklaar, maar Mbalula was soos altyd ooroptimisties: 18:00 het gekom en gegaan, so ook 19:00, 21:00 en 22:00.
Buite is geduldig gewag. Dit is nie so erg nie, ons is immers al gewoond daaraan en dit is nie elke dag dat jy vir die geskiedenis wag nie.
Ramaphosa het gelukkig nie veel later as 22:00 gepraat nie. Die media is by die vergadersaal ingelaat terwyl die NUK-lede almal 'n lied ter ere van Oliver Tambo gesing het.
Hulle het besonder tevrede en eensgesind gelyk. Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het heen en weer in haar kamoefleerbaadjie rondgetrippel om die toneel op haar selfoon se videokamera vas te lê.
Ander mense het ook Ramaphosa se toespraak op hul selfone (vir die nageslag?) probeer bewaar.
Dit was een van sy beter toesprake in 'n lang tyd met heelwat verwysings na maatskaplike kohesie, samewerking tussen die mense van die land en nasiebou wat teweeggebring moet word deur 'n regering van nasionale eenheid omdat die ANC sy volstrekte meerderheid verloor het.
Agterna is druk bespreek of die toespraak werklik so geskiedkundig was. Dit het dan nie juis veel besonderhede oor die regering van nasionale eenheid bevat nie.
Maar dalk was dit net die begin van die begin van 'n nuwe era. Wie weet?
Ná die toespraak is die lede van die NUK gou huis of hotel toe. In die donker stukkie tuin het verkopers die laaste van hul kraampies afgeslaan en voorraad weggepak.
By een het drie Madiba-hemde nog in die ysige wind aan hul hangers gewapper waar dit aan 'n reling gehang het.
• Van der Westhuizen is Netwerk24 se politieke redakteur. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.


















