Verkiesings 2024

EFF, MK sal nie saamwerk as DA deel van proses is

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Oudpres.Jacob Zuma Foto: Sharon Seretlo
Oudpres.Jacob Zuma Foto: Sharon Seretlo

Oudpres. Jacob Zuma se MK-party en die EFF is gekant teen 'n regering van nasionale eenheid (RNE).

Albei dié partye - onderskeidelik die derde en vierde grootste in Suid-Afrika - sê hulle sal in geen vorm van regering dien waarby die DA betrokke is nie.

Dit volg nadat pres. Cyril Ramaphosa Donderdagaand ná 'n marathonvergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), die party se hoogste besluitnemingsliggaam tussen verkiesingskonferensies, die besluit bekend gemaak het om 'n RNE na te jaag.

Intussen het John Steenhuisen, DA-leier, op X met verwysing na 'n nuusberig dat die DA slegs deel sal wees van 'n RNE as MK, die EFF en die PA daarby uitgesluit word, gesê dit weerspieël nie die DA se benadering tot die deurslaggewende onderhandelings oor die toekoms van die land nie.

Dié onderhandelings is volgens Steenhuisen gegrond op die verdediging van die Grondwet, die versekering van stabiliteit en die groei van die ekonomie. "Ons gaan voort om gesprekke te voer met alle partye wat daartoe verbind is om dié beginsels te handhaaf."

Floyd Shivambu Foto: Philip Maeta/Gallo Images
Floyd Shivambu Foto: Philip Maeta/Gallo Images

Werner Horn, DA-woordvoerder, het vroeër gesê hulle hoop die ANC sal gou 'n voorstel met meer besonderhede op die tafel plaas wat dan deur die DA se topstrukture bespreek kan word. Volgens hom bly die DA deel van die proses, maar die uitnodiging aan "alle partye" om deel te wees, maak die situasie meer ingewikkeld.

Nhlamulo Ndhlela, MK-woordvoerder, sê by navraag sy party is heeltemal gekant teen 'n RNE omdat dit "DA-terminologie" is. MK, wat bereid is om koalisiegesprekke met die ANC te voer, sal volgens hom nie met die DA saamwerk nie, omdat hy "ten gunste van apartheid is".

Prof. Theo Venter, politieke ontleder aan die Universiteit van Johannesburg, meen egter die voorwaardes vir deelname aan die RNE, soos respek vir die Grondwet en die oppergesag van die reg, maak dit duidelik dat MK nie werklik deur die ANC oorweeg word as 'n deelnemer nie, berig Ruhan Friedrichs.

Die ANC het vroeër bevestig dat gesprekke al gevoer is met die DA, die EFF, IVP, die PA en die National Freedom Party (NFP).

Volgens Venter kon Ramaphosa boonop daarin slaag om die ANC se NUK agter hom te verenig.

Floyd Shivambu, EFF-onderleier, het Vrydag op 'n mediakonferensie in Sandton gesê sy party sal glad nie deel vorm van 'n RNE as "wit minderheidspartye" soos die DA en die VF Plus ook daarvan deel is nie.

John SteenhuisenFoto: Laird Forbes
John SteenhuisenFoto: Laird Forbes

Volgens Shivambu sal so 'n RNE nie die belange van swart mense in die algemeen dien nie.

Hy het gepraat by die Sandton-konferensiesentrum, waar die EFF se topstruktuur en verkiesingspan oor die uitslae vergader het.

Volgens Shivambu sal die EFF ook uitreik na MK. Hy meen dit sou "immoreel" wees as MK nie in KwaZulu-Natal aan die stuur van sake is nie. MK is die party in dié provinsie wat by verre die meeste stemme gekry het, hoewel nie 'n volstrekte meerderheid nie.

Met enige vorm van regering waarby die EFF betrokke is, moet die grondvraagstuk volgens Shivambu vooropgestel word en die agenda van gratis onderwys, die regte van werkers en die beskerming van die minimum loon moet voorrang kry. Ander kwessies waarvoor die EFF vra, is die nasionalisering van myne en banke en die verwydering van die Stem-gedeelte uit die volkslied.

Cosatu, 'n ANC-alliansievennoot, sê hy steun die ANC in sy besluit om gesprekke te voer oor die vorming van 'n RNE en sê die Grondwet en die oppergesag van die reg moet die anker van so 'n regering wees.

Die IVP en die PA is nie in beginsel gekant teen 'n RNE nie, maar soek meer besonderhede daaroor.

Rise Mzansi sal op sy beurt die naweek vergader om die voorstel van 'n RNE te bespreek, terwyl ActionSA vroeër reeds gesê het hy sal nie met die ANC saamwerk nie en dat hy eerder 'n doeltreffende rol in die opposisiebanke wil speel.

Intussen het kleiner partye met setels in die parlement 'n dringende vergadering met hoofregter Raymond Zondo oor die voorgestelde RNE versoek. Die partye is die UDM, ACDP, African Transformation Movement (ATM), Build One South Africa (Bosa), die PAC en die United Africans Transformation (UAT).

In die brief wat aan Zondo gerig is, sê Bantu Holomisa, UDM-leier, die proses om 'n RNE daar te stel, kan nie net deur die ANC gelei en gerig word nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM