Limpopo kan dalk eersdaags vir die eerste keer 'n vrou as premier kry.
Die ANC in Limpopo se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) het Maandag in Polokwane vergader waartydens twee vroue en 'n man vir die amp as premier benoem is.

Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid, is een van die ANC se drie premierskandidate.
Die ANC het die volstrekte meerderheid (73,30%) van die steun in die pas afgelope verkiesing in Limpopo gekry.
Limpopo is die enigste provinsie in die land waar die ANC meer as 70% van die steun gekry het.
Daar is lank reeds sprake daarvan dat Ramathuba haar beywer om die nuwe premier te word.
Sy is 'n lid van die ANC se PUK en is die afgelope bykans nege jaar LUR vir gesondheid.
Ramathuba, wat 'n dokter is, het enkele dae voor verlede week se verkiesing haar belofte nagekom toe die laaste 165 van 500 nuwe ambulanse aan die provinsiale nooddienste oorhandig is.
Sy het in haar begrotingsrede vir die 2023-'24-boekjaar gesê R1,3 miljard is begroot vir die aankoop van die ambulanse.

Die ANC het Maandag vir Nakedi Sibanda-Kekana, LUR vir sport, kuns en kultuur, ook as premierskandidaat benoem. Sy is ook die ANC se tesourier-generaal in Limpopo en is eers in Oktober 2022 as LUR aangestel. Sy het in 2018 as burgemeester van die Lepelle Nkumpi-munisipaliteit in die Capricorn-distrik bedank ná bewerings dat sy bewus was van meer as R100 miljoen wat die munisipaliteit onwettig by VBS Mutual Bank belê het. Geen strafregtelike klag is ooit hieroor teen haar aanhangig gemaak nie.

Basikopo Makamu, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC in Limpopo, is die derde premierskandidaat. Hy is sedert Julie 2018 LUR vir plaaslike regering, tradisionele sake en behuising in Limpopo. Hy het onlangs verskeie besoeke meegemaak saam met Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, aan watersuiweringsaanlegte in Limpopo.
Een van dié drie premierskandidate sal Stan Mathabatha (67), wat sedert Julie 2013 premier is, opvolg.

Mathabatha is as premier aangestel nadat Cassel Mathale in 2012 uit sy amp as premier verwyder is. Die provinsie was toe bankrot en is onder nasionale administrasie geplaas. Mathale is tans adjunkminister van polisie.
Die ANC sal nou 48 setels in die provinsiale wetgewer beklee. Die EFF bly die amptelike opposisie met nege setels, twee meer as voorheen. Die EFF het 14,12% van stemme verwerf. Die DA is die derde grootste party in Limpopo met 5,96% van die steun, en vier DA-lede sal in die provinsiale wetgewer dien. Die VF Plus behou sy een setel. Dié party het 1,09% van stemme verwerf. Die nuutgestigte MK-party het ook een setel in die provinsiale wetgewer verwerf met 0,85% van die stemme.




















