Oudpres. Jacob Zuma se MK-party het nog nie die strydbyl teen die uitslag van die algemene verkiesing begrawe nie.
Die MK-party het 'n dringende aansoek by die kieshof ingedien om die uitslag van die algemene verkiesing ongeldig te verklaar.
Dié party vra ook dat dié hof beslis dat 'n nuwe verkiesing gehou moet word binne 90 dae vandat hy sy bevel uitgereik het.
Die respondente in die saak is die Verkiesingskommissie (OVK), die verkiesingshoof, pres. Cyril Ramaphosa, die speaker van die Nasionale Vergadering (NV), politieke partye met verteenwoordiging in die NV en politieke partye wat nie verteenwoordiging in die NV het nie.
MK se ontevredenheid rondom die verkiesing is welbekend en dié party is van mening dat daar verkiesingsbedrog en -knoeiery betrokke was.

In hofdokumente wat in Netwerk24 se besit is, sê MK dat die algemene verkiesing, wat op 29 Mei gehou is, nie vry en regverdig was nie, en indien dit was, hulle 'n volstrekte meerderheid op nasionale en provinsiale vlak sou gekry het.
"Dit sou daartoe gelei het dat die applikant (MK) 'n nasionale regering kon vorm," lui die hofdokumente.
MK het die derde meeste stemme, meer as 14%, op nasionale vlak in die verkiesing gekry. Dit het 58 setels in die NV aan hom besorg.
In die hofdokumente sê MK daar is met opset verkiesingsbedrog gepleeg en dat 'n beampte van die OVK betrokke was om die werklike uitslae met "valse syfers" te vervang.
Hulle maak ook in die hofdokumente gebruik van tabelle met syfers om "te bewys" dat verkiesingsbedrog plaasgevind het.
Dit is nog nie bekend wanneer en of die kieshof MK se aansoek dringend sal aanhoor nie.
MK het ook verlede week die konstitusionele hof genader om die eerste sitting van die NV, wat Vrydag in Kaapstad gehou is, te verbied. Dit was omdat MK geglo het dat sonder sy LP's die verkiesing van 'n speaker, adjunkspeaker en president nie kan voortgaan nie. MK het die sitting geboikot weens sy ontevredenheid met die uitslag van die algemene verkiesing.
Die konstitusionele hof het egter MK se aansoek verwerp.
Die stap om die eerste sitting te boikot het gekom nadat die OVK op Sondag 2 Junie die uitslag verklaar het ondanks Zuma se waarskuwing aan die OVK om dit nie te doen nie. Hy het op 1 Junie in Midrand gesê daar sou "moeilikheid" wees indien die uitslae verklaar word sonder dat partye se besware afgehandel is.
MK se nuutste hofstryd kom ook nadat hy Vrydag bloedneus in KwaZulu-Natal gekry het toe 'n regering van provinsiale eenheid, bestaande uit die IVP, die ANC, die DA en die NFP, al drie sleutelposte in die provinsiale wetgewer bekom het.
Dit is ten spyte daarvan dat MK die meeste stemme, meer as 45%, in KwaZulu-Natal ontvang het.
Thami Ntuli van die IVP is tot premier van KwaZulu-Natal verkies.





















