MK gaan nié 1ste parlementsitting bywoon, finish en klaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jacob Zuma Saterdagaand aan die woord.  Foto: Melinda Stuurman
Jacob Zuma Saterdagaand aan die woord. Foto: Melinda Stuurman

Oudpres. Jacob Zuma se MK-party hou voet by stuk dat die Verkiesingskommissie (OVK) die onlangse verkiesing "beknoei" het.

Dié party het Vrydag gesê dit is waarom hy nie die eerste sitting van die nuwe parlement sal bywoon waartydens die nuwe president verkies sal word nie.

Oudpres. Jacob Zuma tydens sy laatnag nuuskonferensie, Saterdag 1 Junie, by die OVK se nasionale uitslagsentrum in Midrand. Hy het toe gedreig met 'moeilikheid' sou die OVK voortgaan om die uitslag Sondag 2 Junie bekend te maak. Foto: Melinda Stuurman
Oudpres. Jacob Zuma tydens sy laatnag nuuskonferensie, Saterdag 1 Junie, by die OVK se nasionale uitslagsentrum in Midrand. Hy het toe gedreig met 'moeilikheid' sou die OVK voortgaan om die uitslag Sondag 2 Junie bekend te maak. Foto: Melinda Stuurman

Hoofregter Raymond Zondo het Donderdag gesê hy gaan binnekort die datum vir dié sitting van die Nasionale Vergadering (NV) aankondig.

Nhlamulo Ndhlela, MK-woordvoerder, het Vrydag gesê die party sal dit net oorweeg om parlementêre sittings by te woon as "ons dringende hofaansoeke, waar ons voldoende bewyse sal voorlê dat die OVK die verkiesing beknoei het tot nadeel van die MK-party en ander partye", afgehandel is.

MK is ná sy warrelwind-verkiesingvertoning waarin hy die ANC in veral KwaZulu-Natal verpletter het, die derde grootste party in die NV, ná die ANC en die DA.

Hy het 14,58% van die nasionale steun verower, wat aan die party 58 LP's besorg het. In KwaZulu-Natal het MK die meeste van die steun gekry met 45,93%, gevolg deur die ANC met 17,62% en die IVP met 16,28%.

Ndhlela het Vrydag in 'n verklaring gesê MK neem met kommer kennis van sommige "moedswillige mediaberigte wat daarop dui dat ons van standpunt verander het oor ons besluit om nie die sitting van die parlement by te woon nie weens die skreiende verkiesingsknoeiery deur die OVK, wat gelei het tot massiewe diefstal van stemme vir die MK-party".

MK sal aanhou veg vir ware verteenwoordiging van sy kiesers in die parlement

"Ons wil dit herhaal dat ons standpunt onveranderd bly en dat ons die parlementsverrigtinge slegs op grond van die uitkomste van die hofsake sal bywoon.

"Terwyl ons die wil van die mense wat ons verkies het om in die parlement te dien ten diepste respekteer om onder meer die huidige neoliberale Grondwet te verander en die onteiening van grond sonder vergoeding te verseker, glo ons dat ons stemme, en dus die stemme van al ons kiesers, onvolledig is.

"Deur die eerste sitting van die parlement by te woon sonder dat al ons stemme getel en gehoor is, sal ons verbintenis tot eenheid en demokratiese waardes verraai waar elke stem en wens verdien om gehoor te word."

Volgens Ndhlela het MK dwarsdeur die verkiesingstydperk vasgestaan op sy verbintenis tot politieke integriteit en doeltreffendheid. "Ons kan dus nie toekyk terwyl belangrike instellings soos die OVK vir politieke doeleindes gemanipuleer word nie."

Hy sê MK sal aanhou veg vir ware verteenwoordiging van sy kiesers in die parlement.

Lawson Naidoo, uitvoerende sekretaris van die grondwetwaghondorganisasie Casac, het Donderdag gesê MK se boikot van die eerste NV-sitting sal nie 'n impak hê op die verkiesing van die nuwe president nie.

Volgens hom word 'n kworum van slegs een derde of 133 LP's daarvoor benodig en sal die ANC met sy 159 LP's dus die president kan verkies.

MK het wel Donderdag bevestig dat hy al met die ANC in verbinding was oor koalisiegesprekke.

Die party sê hulle sal binnekort daaroor vergader.

MK hou vol dat enige koalisie waarby hy betrokke sal wees, "daarop moet fokus om die stelsels uit te roei wat die langdurige politieke onderwerping en ekonomiese verknegting van ons mense in stand hou en ondersteun".

Llewellyn Prince en Ruhan Friedrichs

SPELETJIES VANDAG

CTA