Nie net die ANC nie, maar ook kleiner partye soos ActionSA het die uitwerking van die Zuma-tsoenami gevoel.
Michael Beaumont, nasionale voorsitter van ActionSA, het Vrydag gesê sy party het gehoop om beter te vaar, maar MK het van die steun gevat wat ActionSA in die munisipale verkiesing in 2021 onder swart kiesers in Gautengse townships geniet het.

"ActionSA het voorheen baat gevind by anti-ANC-stemme," het Beaumont gesê, maar dié keer het baie kiesers wat ontevrede is met die ANC, hul kruisies by MK getrek. "Die verkiesing was anders as enige vorige verkiesing. MK en die Patriotiese Alliansie is die enigste partye wat tevrede is," het hy gesê.
Te oordeel na die voorlopige uitslae sal ActionSA waarskynlik vyf lede in die parlement hê en drie in die Gautengse wetgewer. Die partyleier Herman Mashaba het gesê hy is bly oor die ANC se terugslae en bygevoeg "ons het MK nie sien kom nie".
Songezo Zibi se Rise Mzansi-party het gehoop om 5% van stemme op hom te verenig, maar het net 0,42% se steun getrek en dus kan hy een of hoogstens twee LP's parlement toe stuur.
"Jy moet bekend wees voordat mense jou kan vertrou en vir jou stem op lang termyn. Mense wat onseker was, kan begin oordeel wanneer ons verteenwoordigers in die parlement het," het Zibi gesê.

Die voormalige DA-leier Mmusi Maimane se Build One South Africa (Bosa) het gehoop op 1 miljoen stemme, maar het slegs 64 605 gekry, nie eens 'n halwe persentasiepunt op die nasionale stembrief nie.


















