Build One South Africa (Bosa) het Dinsdag bevestig dat Mmusi Maimane, partyleier, en Nobuntu-Hlazo Webster die party se twee setels in die Nasionale Vergadering sal beklee nadat dit 194 000 stemme landwyd in die nasionale en provinsiale verkiesing verower het.
Die party het ook een setel in die Gautengse wetgewer verower, wat deur Ayanda Allie beklee sal word.
Bosa het Dinsdag in 'n verklaring bygevoeg dat Suid-Afrika se demokrasie vir die eerste keer in 30 jaar een of ander vorm van koalisieregering op nasionale vlak vereis.
Dit nadat die ANC met sy net meer as 40%-steun nie 'n volstrekte meerderheid gekry het nie.
"Bosa meen indien 'n regering van nasionale eenheid tot stand kom, dit eerstens 'n plan moet ontwikkel om werk in elke huis te voorsien. Ons leierskap sal konstruktief saamwerk met 'n regering wat daargestel is en dit aanspreeklik hou wanneer dit nodig is.
"Dit is 'n oomblik in ons nasie waar die beste leiers in die kabinet moet dien, konstitusionalisme gehandhaaf moet word, 'n veiligheidsnet vir die armes versterk word, en 'n markgebaseerde ekonomie aangesteek word vir groei. Ons sal in hierdie verband saam met ander sentristiese partye in die parlement werk. Dit is ons oortuiging en dit is Bosa se rol om te vervul. Ons sal na die parlement en die Gautengse wetgewer gaan om sulke waardes en oortuigings te bevorder."
Bosa meen ook dat die stemme wat hy ontvang het, " 'n respekvolle uitkoms is, as in ag geneem word dat ons 'n fraksie van die finansiering wat ander ontvang het, gehad het, en ons het nuwe leiers uit gemeenskappe opgediep in plaas daarvan om loopbaanpolitici af te rokkel, soos baie partye gedoen het".
Die party meen ook dat Maimane, 'n voormalige DA-leier, en die ander twee kandidate almal onder die ouderdom van 45 is en dat hulle oor 'n wye reeks vaardighede beskik.























