2024

DA hoop dié adjunkminister kry volle kabinetsmagte

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ashor Sarupen van die DA word die afgelope week ingesweer as adjunkminister van finansies. Foto: Misha Jordaan/ Gallo Images
Ashor Sarupen van die DA word die afgelope week ingesweer as adjunkminister van finansies. Foto: Misha Jordaan/ Gallo Images

Die DA hoop om vir sy adjunkminister van finansies, Ashor Sarupen, volle kabinetsmagte te kry.

Volgens DA-bronne, wat op voorwaarde van anonimiteit praat omdat hulle nie gemagtig is om met die media te praat nie, is pres. Cyril Ramaphosa glo oortuigbaar om hierdie ongewone stap te doen mits die ander adjunkminister van finansies, die ANC se dr. David Masondo, dieselfde voorreg kry. Adjunkministers vorm nie deel van die kabinet nie, en kan dus geen seggenskap hê in regeringsbeleid of kabinetsvergaderings nie.

Indien Sarupen kabinetsmagte kry, beteken dit dat die DA sewe lede in die kabinet sal hê.

John Steenhuisen, DA-leier, het reeds verlede week tydens strawwe onderhandelinge met pres. Cyril Ramaphosa vir hierdie toegewing gevra. DA-bronne meen dis uiters belangrik om seggenskap in die tesourie te hê. Die ANC is glo te vinde daarvoor om die toegewing te maak indien Masondo dieselfde magte kry, maar vrees dat ander adjunkministers ook dan sulke versoeke sal rig.

Sarupen (36) word as een van die DA se opkomende sterre beskou. Hy is sedert 2019 'n LP nadat hy van 2014 tot 2019 'n LPW in Gauteng vir dié party was. Sarupen was onder meer die veldtogbestuurder vir Helen Zille se suksesvolle terugkeer na die politiek in 2019 toe sy vir Athol Trollip verslaan het om tot voorsitter van die DA se federale raad verkies te word.

Hy was ook Steenhuisen se veldtogbestuurder verlede jaar toe hy vir dr. Mpho Phalatse geklop het om as DA-leier herkies te word.