John Steenhuisen, leier van die DA, is Suid-Afrika se minister van landbou in die regering van nasionale eenheid (RNE) en sy party spog met nog vyf ministers en ses adjunkministers in die nuwe kabinet.
Twee ander senior DA-poste is dié van basiese onderwys en binnelandse sake.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, is die minister van korrektiewe dienste. Velenkosini Hlabisa is minister van samewerkende regering en tradisionele sake.
Gayton McKenzie, leier van die PA, is minister van sport, kuns en kultuur.
Bantu Holomisa, leier van die UDM, is adjunkminister van verdediging.
Enoch Godongwana van die ANC bly minister van finansies. Ronald Lamola is die nuwe minister van internasionale betrekkinge en samewerking.

Thembi Nkadimeng neem oor as minister van justisie.
Gwede Mantashe is minister van minerale bronne en energie.

Senzo Mchunu is minister van polisie en Barbara Creecy is minister van vervoer.
Pres. Cyril Ramaphosa het sy nuwe kabinet Sondagaand, 11 dae ná sy inhuldiging, by die Uniegebou in Pretoria aangekondig nadat samesprekings gereeld 'n dooiepunt bereik het en tot interne geskille in partye, veral die ANC, gelei het.
Ramaphosa se aankondiging het nie om 21:00 begin soos verwag nie. Hy was meer as 50 minute laat omdat hy onder meer nog met van die nuwe ministers en adjunkministers moes praat.

Die DA het nie die pos van minister van handel, nywerheid en mededinging gekry nie, maar wel die adjunkministerspos in dié portefeulje. Die DA het voorts die pos van adjunkminister van finansies gekry.
Dit is 'n pos waarvoor die DA gevra het.
Die portefeulje van landbou is geskei van dié van grondhervorming en landelike ontwikkeling.
Die DA se ander ministers is Siviwe Gwarube (basiese onderwys), Dean Macpherson (openbare werke en infrastruktuur), dr. Leon Schreiber (binnelandse sake), Dion George (bosbou, visserye en die omgewing) en Solly Malatsi (kommunikasie en digitale tegnologie).
Die adjunkministers is Ashor Sarupen (finansies), Samantha Graham-Maré (energie en elektrisiteit), Jane Sithole (kleinsake-ontwikkeling), Mimmy Gondwe (hoër onderwys), Andrew Whitfield (handel, nywerheid en mededinging) en Isaac Seitlholo (water en sanitasie).
Die RNE is ongekend in Suid-Afrika se politieke geskiedenis, het Ramaphosa gesê.
Die stabiliteit en werkbaarheid van die RNE moes ook in ag geneem word. Ramaphosa het verwys na buitelandse regerings waar sulke dinge lank duur, in een geval selfs meer as 'n jaar.
Die kabinetslede kom van alle uithoeke van ons land en verteenwoordig ons diversiteit.
— Pres. Cyril Ramaphosa
"Ons moet trots wees daarop dat ons in so kort tyd soveel partye bymekaar kon bring," het Ramaphosa gesê.
Hy het voorts gesê dit was onmoontlik om die kabinet te verklein. Sekere portefeuljes moes geskei word om seker te maak dat die fokus kan verskuif.
"Die kabinetslede kom van alle uithoeke van ons land en verteenwoordig ons diversiteit. Hulle is verantwoordbaar aan die mense van Suid-Afrika."
Hulle verteenwoordig nie enige party of sektor van die samelewing nie.
Steenhuisen het gesê die DA is trots daarop om deel van die kabinet te wees.
"Die kabinet se belangrikste taak in sy termyn van vyf jaar sal wees om 'n betekenisvolle verandering in die lewe van alle Suid-Afrikaners te bring en te put uit Suid-Afrika se onbeperkte potensiaal as een van die helderste en veerkragtigste demokrasieë ter wêreld.
"Ons sien daarna uit om deel te wees van 'n nuwe era in Suid-Afrika se demokratiese reis en om werklike en tasbare verandering te bring in die lewe van die miljoene kiesers wat daarvoor gestem het."
Die DA wil voorts help om Suid-Afrika se sukses en voorspoed te verseker, sê Steenhuisen.
Die ministers sal Dinsdag in Pretoria beëdig word.











