Hoewel die stemmery Maandag op die eerste dag dat mense spesiale stemme kon uitbring grootliks glad verloop het, is dit op plekke ontwrig, sê die Verkiesingskommissie (OVK).
Altesame 107 van die meer as 23 292 stemlokale landwyd kon nie open nie.
"Die meerderheid daarvan is in die O.R. Tambo-streek (Mthatha in die Oos-Kaap) weens die voortslepende taxistaking," het Masego Sheburi, uitvoerende adjunkhoof van die OVK, Maandagmiddag op 'n mediakonferensie by die kommissie se nasionale uitslagsentrum in Midrand gesê.
Hy en ander OVK-beamptes het die land op die hoogte gebring van hoe die eerste dag van die spesiale stemmery verloop het.
Volgens die OVK was daar Maandag enkele gevalle waar stembriewe en ander -materiaal laat afgelewer is wat die opening van stemlokale vertraag het, maar kiesers kon wel mettertyd stem.

Volgens Sheburi kan kiesers wat daarvoor aansoek gedoen het steeds hul spesiale stemme Dinsdag van 09:00 tot 17:00 uitbring.
Kiesers wat nie Maandag of Dinsdag kon stem nie, kan Woensdag van 07:00 tot 21:00 gaan stem by die stemlokaal waar hulle geregistreer is.
Die OVK werk saam met die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Natjoints) om toe te sien dat kiesers wel Dinsdag en Woensdag in Mthatha en elders in die land kan stem, sê Sheburi.
Volgens hom het 'n geskatte 230 000 kiesers teen 14:00 Maandag gestem.
Verskeie politici wat Maandag gestem het, sluit in ANC-leiers Gwede Mantashe (ANC-voorsitter) en Nomvula Mokonyane (eerste adjunk-sekretaris-generaal), sowel as Vuyiso Tyhalisisu (Wes-Kaapse ANC-voorsitter).
Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, dr. Ivan Meyer, DA- federale voorsitter, en Tertuis Simmers, Wes-Kaapse DA-leier, het ook spesiale stemme uitgebring.
Sheburi sê 1,6 miljoen aansoeke om spesiale stemme is goedgekeur.
"Een miljoen spesiale stemme sal by stemlokale uitgebring word. Sowat 600 000 daarvan sal by onder meer tehuise wees of by adresse wat kiesers verskaf het."
Hy het benadruk dat OVK-spanne 'n adres net een keer vir spesiale stemme sal besoek.
Die spesiale stemme sal Woensdagaand saam met die res van die stemme vir die nasionale en provinsiale verkiesing in die teenwoordigheid van partyverteenwoordigers in stemlokale getel word.
170 plaaslike en internasionale organisasies is as waarnemers vir die verkiesing geakkrediteer.

Sheburi het kiesers en kandidate gewaarsku om waaksaam teen waninligting te wees, veral ná die verspreiding van video's oor gemerkte stembriewe. Hy meen dit is nie Suid-Afrikaanse stembriewe nie.
Die OVK oorweeg ook nog of strafregtelike stappe gedoen gaan word teen lede van oudpres. Jacob Zuma se MK-party wat na bewering by 'n OVK-pakhuis in KwaZulu-Natal ingebreek en video's daarvan aanlyn versprei het. Dit word nog saam met die polisie ondersoek.
Mantashe, wat by die Freeway Park Primêre Skool in Boksburg gestem het, het gesê hy het hard gewerk vir 'n volstrekte meerderheid. "Ek werk nie vir koalisies nie."
Zille het op haar beurt by die Pinelands High School in Kaapstad gesê dat sy gestem het "om Suid-Afrika te red". Sy het ondanks 'n koue wind " 'n baie warm gevoel in my gehad omdat ek weet dit wat ek doen, maak 'n verskil in ons land".
"Asseblief, doen moeite, gaan na jul stembus as julle vandag (Maandag) en môre (Dinsdag) 'n spesiale stem het en in die algemene verkiesing Woensdag. Maak seker dat ons Suid-Afrika kan red."




















