Eers is dit afgemaak as net ’n bisarre musiekspel en dit het gelyk of dit rolprentrommel sou word.
In plaas daarvan het The Rocky Horror Picture Show die wêreld se gewildste kultusfliek geword en geslagte aanhangers geïnspireer om by fliekvertonings en verhoogproduksies saam te drom in visnetkouse en vereboas, terwyl hulle uit volle bors saamsing: “Dammit Janet, I love you!”
Dié kultusverskynsel prut nog lekker 50 jaar nadat die fliek sy première in Londen gehad het, en aanhangers vier elke lawwe en magiese oomblik wat Brad, Janet, Dr. Frank-N-Furter, Magenta en Riff Raff vir ons gegee het.

As jy nié weet nie: Rocky Horror is die storie van die pas verloofde Brad en Janet, wat op ’n onheilspellende kasteel afkom waar die mal wetenskaplike Dr. Frank-N-Furter ’n partytjie hou saam met ’n uitsonderlike groepie seksbehepte vriende.
Maar voor dit ’n immergroen treffer geword het, was Rocky Horror ’n flop van formaat. Die fliek is vervaardig met ’n (relatief) klein begroting van net $1,4 miljoen (nou sowat R25 miljoen) en in 1975 uitgereik ná ’n suksesvolle verhoogopvoering in Londen. In sy eerste jaar het die fliek skaars $450 000 (nou R8 miljoen) verdien voor dit uit bioskope onttrek is.
Die volgende jaar het ’n slim ateljeebestuurder besluit om dit weer uit te reik – maar slegs vir middernagvertonings in New York. Toe’s dit “just a jump to the left, and a step to the right” en kykers in kostuums dans al singend in die gange.
Die gewildheid het versprei – selfs tot in die destyds konserwatiewe Suid-Afrika, waar dit ’n maand ná sy uitreiking deur die apartheidsregering verbied is.
“Mense het gesê dit is in Suid-Afrika verbied omdat dit die jeug korrupteer,” onthou Patricia Quinn, wat Magenta gespeel het. “Hulle’t gesê dis in Duitsland verbied oor kannibalisme. Ek het gedink: ‘Sjoe, ons gaan ’n treffer wees.’ ”
Dit wás – en dis steeds.
Die skepper

Richard O’Brien (nou 83) was ’n werklose akteur toe hy sy fabelagtige idee gekry het.
“Ek was al in Jesus Christ Superstar en Hair,” vertel hy, “en ek het begin dink ek sou graag ’n musiekspel wou sien wat vir my as ’n ewige tiener aantreklik sou wees.
“Ek was mal oor kommin flieks, rock ’n roll en glam rock, so ek het besluit ek doen ’n parodie – of eintlik ’n huldeblyk – aan al daardie dinge,” het hy aan The Guardian gesê.
Die eerste opvoering van die verhoogweergawe was in Junie 1973 by die Royal Court Theatre in Londen, voor net 63 mense. Daarna het dit ’n sewe jaar lange, ononderbroke speelvak beleef.
“Niemand het probeer om dit groot te maak nie,” sê Richard, wat ook Riff Raff in die rolprent gespeel het. “Ons was net daar om pret te hê. Dis regtig maar net ’n simpel stukkie onsin – en dit was doelbewus. Dis eintlik ’n werk van mense vasgevang in ’n ewige kinderlikheid.”
Die sterre
Tim Curry - Dr. Frank-N-Furter

Tim (79) het die mal buiteaardse wetenskaplike in visnetkouse gespeel – eers in die oorspronklike verhoogstuk en daarna in die fliek.
“Ek het hom aanvanklik as ’n Duitser gespeel, en toe ek die kostuum sien, was dit sommer heeltemal ’n diva,” sê hy.
Tim het later ’n hele generasie geterroriseer met sy rol as Pennywise, die demoniese nar in die 1990-TV-weergawe van Stephen King se It. Hy het in 2012 ’n beroerte gehad, maar tree steeds op en doen stemwerk in animasiereekse en rolprente.
Meat Loaf - Eddie

Die sanger was Eddie, die voormalige afleweringsman wat eindelik deur Frank-N-Furter doodgemaak word sodat hy sy brein kon gebruik om sy skepping, Rocky, te maak.
Meat Loaf, wie se regte naam Michael Lee Aday was, was aanvanklik op die punt om van die produksie te onttrek. Hy het geen idee gehad waarin hy hom begewe nie – tot Tim Curry een dag opdaag vir ’n repetisie in volle kostuum en “Sweet Transvestite” sing.
Meat Loaf was so geskok dat hy uit die teater gehardloop het, maar hy is uiteindelik oortuig om te bly. Oor sy kostuum het hy gesê: Dit was ’n gruwel. “Ek het omtrent 142 kg geweeg en ek moes ’n kousgordel dra saam met visnetkouse en hoëhakskoene.”
In 1977 het hy sy debuutalbum, Bat Out of Hell, uitgereik, waarvan na raming 43 miljoen eksemplare verkoop is. Hy’s in 2022 oorlede op die ouderdom van 74.
Susan Sarandon - Janet Weis

Susan (78) was nie heeltemal ’n groentjie toe sy die kuise Janet gespeel het nie, maar dit het haar ’n ware ster gemaak.
“Ek dink nie enigiemand het geweet wat om van die film te maak nie, en toe het dit stadig begin vastrapplek kry as ’n middernagpartytjie,” vertel sy. “Ek’s baie trots dat ek deel daarvan was.”
Susan het A-lys-status bereik ná Thelma & Louise in 1991, en sy het ’n Oscar gewen as beste aktrise vir Dead Man Walking in 1995. Onlangs was sy in Blue Beetle, The Fabulous Four, Nonnas en The Six Triple Eight.
Barry Bostwick - Brad Majors

Barry (80) is nie net die oorspronklike Brad – Janet se verloofde – nie, hy was ook die eerste Danny Zuko in die verhoogproduksie van Grease, ’n rol wat later deur John Travolta beroemd gemaak is.
“Daar is iets ongelooflik eenvoudig aan Rocky Horror in terme van sy kleur, rekwisiete en tonele,” sê hy. “En ek dink dis presies wat mense aantrek: Hulle kan enige karakter wees as hulle net die moed het om daardie kostuums aan te trek.”
Hy is bekend vir sy rolle in TV-reekse soos Spin City, en hy werk steeds as akteur.
Peter Hinwood - Rocky Horror

Die 79-jarige voormalige model het die titel-karakter lewe gegee – ’n gespierde adonis wat die grootste deel van die fliek in klein goue broekies dans.
Hy het ná die fliek sy akteursloopbaan beëindig en ’n antiekwarehandelaar geword.
Hy’t doelbewus gekies om nie die Rocky-pad na roem te stap nie.
“Een, ek kan nie toneelspeel nie,” het hy aan People vertel. “Twee, ek krimp ineen van skaamte elke keer as ek myself op film sien.”
Again and again

Vir sy goue herdenking is die fliek opnuut gerestoureer sodat dit weer gestroom kan word. Dit word ook nou weer wêreldwyd gevier.
Rocky Horror Picture Show Spectacular Tour Dié skouspel begin in September, met lede van die oorspronklike rolverdeling wat rondrits deur Amerika.
Deluxe-klankbaan Kom in Oktober uit op viniel in ’n spesiale goue omhulsel, met foto’s wat nog nie voorheen beskikbaar was nie asook dagboeknotas van die vervaardiger Richard Hartley.
En in Suid-Afrika:
’n Nuwe verhoogproduksie word van 17 September tot 12 Oktober by die Elizabeth Sneddon-teater in Durban aangebied.
’n Interaktiewe fliekaand, A Jump to the Left, word op 4 Oktober by die Rusty Hook-restaurant in Roodepoort gehou.
Die fliek is intussen beskikbaar op Disney+.

Welcome to the lab
$170 miljoen Die bedrag (R3 miljard) wat die fliek sedert 1975 verdien het.
30 miljoen Soveel mense het al ’n Rocky Horror-verhoogproduksie gesien.
20 In soveel tale is die musiekspel al opgevoer.
2 960 Soveel vertonings het die oorspronklike Londense produksie gehad. Daar was duisende meer reg oor die wêreld, ook hier in Suid-Afrika.
895 000 Soveel Rocky Horror-klankbaanalbums is verkoop.
Bronne: Variety.com, ew.com, people.com, thehollywoodreporter.com, boxofficemojo.com, cabanamaga-zine.com, nypost.com, bestsellingalbums.org, imdb.com
1630
















