(Lewer 100 middelslag-pannekoeke)
- 18 eiers
- 5 liter (20 k) water
- 1 bottel (750 ml) sonneblomolie
- 250 ml (1 k) asyn
- 2,5 kg meelblom, gesif
- 30 ml (2 e) sout
- 75 ml (5 e) bakpoeier
- 500 ml (2 k) water
- 100 ml sonneblomolie vir bak
Kaneelsuiker
- 750 ml (3 k) suiker
- 45 ml (3 e) fyn kaneel
- 10 suurlemoene in wiggies
1. Klits die eiers in 'n groot emmer met deksel en voeg die water, olie en asyn by. Klits saam.
2. Roer meelblom en sout geleidelik daarby. Gebruik 'n groot draadklitser.
3. Bedek en laat minstens 1 uur lank of oornag op 'n koel plek staan.
4. Meng bakpoeier met 500 ml (2 k) water en roer by kort voordat pannekoeke gebak moet word. Toets die deeg deur 'n paar pannekoeke vooraf te bak. Verdun die beslag met water, indien nodig.
5. Meng die suiker en kaneel en gooi in groot houers met gaatjies in die deksel.
6. Stel 'n aantal gasstowe op indien verskeie bakkers saam bak. Hou vir elke 2 panne 'n vuurvaste bord met deksel oor kookwater gereed om pannekoeke warm te hou. Die borde moet toeganklik wees vir die persone wat pannekoeke bedien.
7. Elke bakker: Verhit 'n 20 cm-swaar-boompan of -pannekoekpan, met 15 ml (1 e) olie daarin, tot baie warm. Vee die oortollige olie met 'n vel papierhanddoek uit sodat net 'n dun lagie in pan oorbly. Hou die papier op 'n piering en vee die pan tussen pannekoeke daarmee uit. Voeg slegs olie by wanneer dit uitgedroog het.
8. Gebruik 'n soplepel en giet net genoeg beslag in die pan om die boom te bedek. Kantel die pan heen en weer om die beslag egalig in die pan te versprei.
9. Maak die pannekoek rondom die rande met 'n slaplemmes los. Sodra dit begin wegkrul en droog word in die middel van die pannekoek, keer dit met 'n slaplemmes om. Haal uit en hou warm.
10. Strooi kaneelsuiker en drup suurlemoen-sap oor elke pannekoek net voor dit opgedien word.
Wenke
• Vryf pan met fyn sout en waspapier, spoel met warm water. Herhaal om te voorkom dat olie in die pan aanbrand.
• Maak die deeg 'n paar dae voor dit benodig word.
Klik en koop die boek
* TAKEALOT


















