Botterkoek (botterkoekmetode)

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
  • 125 g (½ k) sagte botter (nie gesmelt nie)
  • 375 ml (1½ k) strooisuiker
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 3 eiers, by kamertemperatuur
  • 625 ml (2½ k) meelblom
  • 20 ml (4 t) bakpoeier
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • 200 ml (4⁄5 k) melk

1. Voorverhit die oond tot 180 ºC (350 ºF). Smeer twee laagkoekpanne of randkoekpanne (flan-panne) van 22 cm in deursnee en voer hulle met botterpapier.

2. Klop botter met 'n houtlepel of elektriese klitser, voeg suiker geleidelik by en klits tot lig en romerig. Voeg geursel by.

3. Voeg eiers een-een by en klits baie goed ná elke byvoeging. Skraap die rande skoon.

4. Sif meelblom, bakpoeier en sout saam en voeg dit al siftende om die beurt met die melk by die geroomde mengsel. Klits die beslag tot alles goed gemeng is en dit 'n fluweelagtige voorkoms het. Moenie roer nie, maar klits.

5. Skep die beslag in die voorbereide panne.

6. Bak 25 - 35 minute lank. As die koek bo-op ferm is en die kante begin wegkrimp van die pan, is dit gaar. LW: Moenie die oond in die eerste 20 minute van die baktyd oopmaak nie.

7. Keer koek dadelik op 'n draadrak uit om af te koel. Keer ná 'n rukkie om om te voorkom dat die bokors klam word.

8. Gebruik enige vulsel vir 'n laagkoek.

Variasies

• Sjokoladekoek

Sif 60 - 90 ml (4 - 6 e) kakao saam met die meelblom en bakpoeier. Vermeerder botter tot 200 ml (4⁄5 k). Gebruik Room-* of Bottervulsel*.

• Lemoenkoek

Laat vanieljegeursel weg. Voeg gerasperde skil van 1 lemoen by. Vervang 125 ml (½ k) van die melk met lemoensap. Sit op mekaar met Lemoenvulsel*.

• Speserykoek

Voeg 5 ml (1 t) fyn kaneel, 5 ml (1 t) fyn gemengde speserye en 10 ml (2 t) fyn gemmer by die meelblom en sif saam. Laat vanieljegeursel weg. Bak in laagkoekpanne en sit op mekaar met ryk Bottervulsel*.

• Klapperkoek

Voeg 250 ml (1 k) droë klapper by die mengsel en bak dit in laagkoekpanne. Gebruik Klappervulsel* en -versiersel*.

• Korentekoek

Sif 15 ml (1 e) mielieblom saam met die meelblom, voeg 250 ml (1 k) korente by die beslag en meng.

• Kolwyntjies

Bak die beslag 15 minute lank in kolwyntjiepanne wat met papiervormpies gevoer is. Die hoeveelheid is genoeg vir 30 - 36 kolwyntjies.

• Neute-en-sjokoladekoek

Vou 125 ml (½ k) gekapte pekanneute en 100 g gerasperde donker sjokolade in die beslag net voor dit gebak word. Gebruik Sjokoladebottervulsel* tussen die lae. Elke koek kan, nadat dit afgekoel het, horisontaal deurgesny word om vier lae te verkry. Versier bo-op met Sjokolade-ganache* en 'n paar heel pekanneute.

• Koffiekoek

Roer 30 ml (2 e) afgekoelde sterk koffie-ekstrak gemaak met 15 ml (1 e) goeie koffiepoeier by die melk, of vervang die melk deur koue sterk melkkoffie. Versier met Koffieversiersel* en koffieboontjies.

• Okkerneutkoek

Maak soos koffiekoek en roer 250 ml (1 k) gebreekte okkerneute by die beslag in net voor dit gebak word. Versier met Koffieversiersel* en heel okkerneute.

Klik en koop die boek

* TAKEALOT

* EXCLUSIVE BOOKS

SPELETJIES VANDAG

CTA