Ondanks die vrees dat herinneringe aan haar pa besig is om te vervaag, vind sy vertroosting in die onuitwisbare spore wat sy liefde agtergelaat het.
Met Vadersdag wat naderkom het dit my skielik getref dat my pa, Deon, vanjaar al 15 jaar oorlede is.
Ek was net 25 jaar oud toe hy in Mei 2011 – sewe maande voor my troue – oorlede is. Niks en niemand kon my voorberei het op hoe dit sou voel om ’n ouer te verloor nie.
Mense sê met tyd raak dit makliker, en in sekere opsigte is dit seker waar. Die rou raak sagter. Die lewe gaan aan. Maar wat niemand vir jou sê nie, is dat jy met tyd bang raak om sekere dinge te vergeet. Dis dalk wat my deesdae die hardste tref. Nie net die verlange nie, maar die vrees dat klein stukkies van my pa stadig uit my geheue glip.

Soms noem my ma of my suster iets wat my pa gesê of gedoen het, en ek kan dit glad nie onthou nie. Dis nie ’n lekker gevoel nie – amper asof ek besef hoe broos herinneringe eintlik is. Sal ek eendag my pa se stem heeltemal vergeet? Of die presiese manier hoe hy soms ernstig met ons gepraat, of hoe hy gelag het?
Maar dan troos ek myself wanneer ek dinge kan onthou wat tyd nooit sal kan wegvat nie. Soos hoe my pa saam met my biblioteek toe gestap het. Ons het nie ’n kar gehad nie, so ons moes eers taxi rank toe stap en met die taxi dorp toe ry, en van daar af verder loop tot by die biblioteek.
Dit klink dalk alledaags, maar vir my was dit spesiaal. Hy het altyd geduldig buite op die bankie gesit en sy koerant gelees terwyl ek tussen die boeke rondgeloop, take gedoen en nuwe stories ontdek het. En wanneer ek klaar was, het ons weer die lang tog huis toe aangepak – hand aan hand.
Snaaks hoe die opofferings wat ons ouers maak ’n mens eers later in die lewe tref. Hoe my Dadda, soos ek hom genoem het, tyd afgestaan en my laat voel het dat die passie, belangstellings en aspirasies van dié dogtertjie van die Paarl nie onbelangrik is nie, en dat ek my drome kan najaag.
Ek onthou ook hoe opgewonde ek en my suster was wanneer my pa oortyd gewerk het. By die werk het hulle aandete gekry, en hy het meeste van die tyd ’n steak-toebroodjie bestel – net om dit uiteindelik huis toe te bring vir my en my suster. Ek voel vandag nog die opgewondenheid waarmee ons daardie pakkie oopgemaak het.
Sal ek eendag my pa se stem heeltemal vergeet? Of die presiese manier hoe hy soms ernstig met ons gepraat, of hoe hy gelag het?
Daar is ook die herinnering van hoe ons met maandeinde flieks kon uitkies – ek een, en my suster een – vir pizza-aand! Veral wanneer daar splinternuwe flieks uit was, het dit gevoel asof ons die gelukkigste kinders in die wêreld was. En dan was daar ons jaarlikse spesiale Spur-uitstappie op Oukersdag. Ons mag dalk nie baie gehad het nie, maar wat ons wel gehad het, was liefde in oorvloed!
Musiek, maar veral koorsang, sal my ook altyd aan my pa laat dink. Een van my kosbaarste herinneringe is hoe ek en hy saam duette in die huis gesing het. Ek, soprano, en my pa, bas. My liefde vir lees het ek van my pa gekry en tot vandag is daar dinge wat ek raaklees, liedjies wat ek hoor of selfs mense wat ek ontmoet, wat my met heimwee aan my pa laat terugdink.
Ná sy dood het iets in my verander. Dis asof verlies jou stiller maak. Soms ook harder, en in ander opsigte, sagter.
Ek mis nie net die groot oomblikke wat hy misgeloop het nie – my troudag, gradeplegtighede en dat sy ses kleinkinders hom net deur ons stories leer ken nie – maar die alledaagse dinge. Ek kan hom nie meer vinnig bel vir raad of met hom oor die dag se nuusgebeure debatteer nie.
Hy het vir ons gewys hoe liefde lyk, in woord en daad. Saam met die seer leef die dankbaarheid vir die herinneringe en liefde. Só leef hy voort in wie ék is, in hoe ek my kinders liefhet, en in die waardes waarmee ek hulle grootmaak.
Hy leef voort in elke storie wat ek vertel, elke herinnering waaraan ek vashou en kan onthou, en in die liefde wat ek van ander pa-figure in my lewe ontvang. Dalk is dít uiteindelik die grootste les van verlies: om nie net te fokus op wat verlore is nie, maar ook op wat oorbly.
Dis dalk waarom my Dadda ná 15 jaar steeds so naby voel. Nie omdat ek als perfek onthou nie, maar omdat hy deel is van wie ek vandag is. Dalk sal daar nog klein dinge wees of oomblikke wat ons gedeel het, wat ek vergeet. Maar hoe hy my laat voel het, sal ek nóóit vergeet nie, want liefde soos syne los iets agter in ’n mens.
Dit leef voort in gewoontes en in stories, en uiteindelik in die mens wat ons word.












