Nuus

Wanneer gehoor jou brein beïnvloed

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Gehoorverlies is meer as net 'n irritasie - dit kan jou risiko vir demensie verhoog. Maar jy kan iets daaromtrent doen.

Het jy al gesukkel om mense te hoorpraat in 'n besige restaurant? Of voel jy soms uitgeput ná 'n geselsie omdat jy só hard moes konsentreer om te verstaan? Dan is dit dalk tyd om jou ore te laat toets, want gehoorverlies raak nie netjou ore nie, maar ook jou brein. Foto: Gallo Images/Getty Images
Het jy al gesukkel om mense te hoorpraat in 'n besige restaurant? Of voel jy soms uitgeput ná 'n geselsie omdat jy só hard moes konsentreer om te verstaan? Dan is dit dalk tyd om jou ore te laat toets, want gehoorverlies raak nie netjou ore nie, maar ook jou brein. Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe sy 'n paar maande terug met haar bejaarde ma gekuier het, het Diane* agtergekom dat haar ma by tye net knik wanneer sy iets sê, of glad nie die regte antwoord op 'n vraag gee nie. "Dit het my baie bekommerd gemaak oor dinge soos demensie, en het boonop ons gesprekke gepootjie omdat ek nie seker was of sy my hoor of verstaan nie," vertel sy.

"Die gevolg was dat ek soms vir haar iets snaaks wou vertel en dan eerder daarteen besluit het ingeval sy my nie hoor of verstaan nie - dít het my hartseer gemaak, want dit het my verder van haar af laat voel."

Diane het uiteindelik haar ma (toe 70) oorreed om haar ore te laat toets en die uiteinde was dat sy 'n gehoorapparaat moes kry. Die gevolg? "Sy het nog dae wanneer sy dit nie dra nie, maar jy kan die verskil in gesprekke aanvoel wanneer sy dit dra. Sy is meer alert en nie so onttrek van die geselskap of in haar eie wêreld nie."

Het jy al gesukkel om mense te hoor praat in 'n besige restaurant? Of voel jy soms uitgeput ná 'n geselsie omdat jy só hard moes konsentreer om te verstaan? Dan is dit dalk tyd om jou ore te laat toets, want gehoorverlies raak nie net jou ore nie, maar ook jou brein.

Daar is 'n duidelike verband tussen gehoorverlies en demensie, sê dr. Louis Hofmeyr, 'n Kaapse oor-, neus- en keelspesialis en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Kogleêre-inplantingsgroep. "Navorsing wys dat gehoorverlies die kans op kognitiewe agteruitgang verhoog, veral as dit nie behandel word nie," sê hy. Wanneer jy nie goed hoor nie, raak dit al hoe moeiliker om aan gesprekke deel te neem. Jy trek jou terug. Jy begin minder kuier, minder vrae vra, minder saamlag. En juis daardie sosiale isolasie is 'n groot risikofaktor vir demensie. "Wanneer mense minder kommunikeer, kry hulle brein minder stimulasie," sê Louis. "Dít beïnvloed geheue, taal, redenasie - ál die dinge wat met demensie gepaardgaan."

In een studie in die Journal of the American Geriatrics Society is selfs bevind dat bejaardes met ernstige gehoorverlies 'n 50% hoër risiko het om kognitiewe agteruitgang te ervaar as dié wat goed hoor. Dis daarom belangrik om jou gehoor te laat toets teen 50, sodat daar opgetree kan word as jy dit nodig het, sê Louis. "Só kan die moontlikheid van afname in breinaktiwiteit verminder word en die lewensgehalte van volwassenes verbeter word."

Hoe weet jy jou gehoor gaan agteruit en tas jou brein aan?

Kyk uit vir dié waarskuwingstekens:

• Jy sukkel om mense te hoor praat, veral as daar ander geraas is.

• Jy vra gereeld mense om hulself te herhaal wanneer julle 'n gesprek voer.

• Jy voel uitgeput ná sosiale byeenkomste.

• Jy vermy geselskap of onttrek jou van ander mense.

• Jy ervaar geheueprobleme, sukkel met probleemoplossing en om gewone take te voltooi; jy verwar tye en plekke, en jy ontwikkel skielik probleme met woorde wat altyd bekend was.

As jy een of meer van dié tekens het, is dit tyd om op te tree.

Wat kan jy doen?

Die goeie nuus is: Gehoorverlies kan meestal maklik opgespoor en behandel word. "Volwassenes behoort van die ouderdom van 50 af hulle gehoor gereeld te laat toets - net soos wat jy jou bloeddruk of cholesterol monitor," sê Louis.

Dit is veral belangrik as jy risikofaktore vir demensie het, soos:

• 'n familiegeskiedenis van demensie;

• diabetes, hoë cholesterol of arterio-sklerose;

• rook of oormatige alkoholinname;

• 'n geskiedenis van gehoorsiekte of gereelde blootstelling aan harde geraas.

En as daar gehoorverlies is?

Dan is daar oplossings - en hoe vinniger jy optree, hoe beter. Gehoorapparate versterk klank en help jou om weer normaal te kommunikeer.

In gevalle van ernstige gehoorverlies kan 'n kogleêre inplanting, wat die gehoorsenuwee direk stimuleer, 'n groot verskil maak. "Studies wys gehoorapparate kan help om kognitiewe agteruitgang te vertraag," sê Louis. "Dis dus nie net 'n hulpmiddel vir jou ore nie, maar ook vir jou brein."

Luister na wat jou ore vir jou probeer sê.

Gehoorverlies is dikwels geleidelik - só stadig dat jy dit skaars agterkom.

Maar as jy dit ignoreer, kan dit jou sosiale lewe, jou geestesgesondheid en uiteindelik jou breinfunksie beïnvloed. "Om aandag te gee aan gehoorverlies is een van die belangrikste dinge wat jy vir jou breingesondheid kan doen," sê Louis.

*Skuilnaam

Probeer dié apps om self jou gehoor te toets.

• Mimi

• HearWHO

• Sennheiser

• Hearing Test by Audicus

Onthou: Hoewel dié apps nuttig is, is dit beter om 'n professionele persoon te besoek vir 'n akkurate diagnose en behandeling vir die probleem.

Soms verloor mense met demensie hulle vermoë om klanke en woorde mooi te verstaan - nie omdat hulle doof is nie, maar omdat hulle brein sukkel om die klanke te verwerk. Foto: Gallo Images/Getty Images
Soms verloor mense met demensie hulle vermoë om klanke en woorde mooi te verstaan - nie omdat hulle doof is nie, maar omdat hulle brein sukkel om die klanke te verwerk. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wat kom eerste: Gehoorverlies of demensie?

Gehoorverlies kan die oorsaak of die gevolg van demensie wees. Soms verloor mense met demensie hulle vermoë om klanke en woorde mooi te verstaan - nie omdat hulle doof is nie, maar omdat hulle brein sukkel om die klanke te verwerk. Dit gebeur veral by Alzheimersiekte en soortgelyke vorme van demensie.

Maar meestal kom gehoorverlies eerste, en dikwels lank voor enige tekens van demensie. As jy nie goed hoor nie, raak dit moeiliker om met mense te gesels. Jy begin jou onttrek, en jou brein kry minder oefening. En dít kan kognitiewe agteruitgang versnel.

EKSTRA BRONNE: HOPKINSMEDICINE.ORG, STANDFORDHEATHCARE.ORG

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM