Stille waters, diepe grond . . . In dié geval draai die duiwel geensins rond nie, maar is Izak de Vries (54), hoewel stil en besadig gewis 'n staatmaker wanneer literêre gebeure nie net in die Oos-Kaap nie maar ook elders aangebied word.
De Vries is in die Baai gebore en noem homself 'n "Jack of all trades."
"Om dit eenvoudig te stel, ek is nou al vir dekades betrokke by die uitgee van iets - boeke, of aanlyn, of albei," verduidelik hy.
De Vries was skaars twee weke gelede by die Woordfees in Stellenbosch waar Dis net vel, my pel!, 'n kinderboek wat hy vertaal het, bekend gestel is.
"Dis net vel, my pel! is werklik 'n ware spanpoging. Ek het al te vore kinderboeke vertaal, maar as jy in die skoolmark werk, is dit nie werklik nuus nie."

Met dié vertaling van Dis net vel, my pel! loop die storie lank. Hy het kontak met Jessica Powers, hoof van Catalyst Press wat boeke oor of uit Afrika publiseer.
"Reeds voordat Powers die uitgewery gestig het, het sy met my gesels en ons het begin planne maak om die boeke wat sy druk ook in Suid-Afrika die lig te laat sien. Alhoewel sy deesdae in die Verenigde State woon en werk, het sy lank in Afrika gewoon."
Toe hy die bladproewe van It's Just Skin, Silly! deur Nina Jablonski en Holly Y. McGee sien, het hy geweet dat dit 'n boek is wat ook in Afrikaans gelees moet word. Kortliks handel die boekie oor hoe die biologiese ontstaan van velkleur.
"Karen Vermeulen, wat in Kaapstad bly, se sketse dra by tot die sjarme van die boek. Dit was 'n spanpoging, sommige het geredigeer en Stefaans Coetzee het ingestem om vir ons 'n aanbeveling te skryf terwyl Michael Jonas, die uitvoerende hoof van die Taalmonument, die voorwoord daarvoor geskryf het."

De Vries het ook by die Woordfees opgetree.
Hy het uit Hennie Aucamp se dagboeke voorgelees in die produksie Spierwit Blues en Hennie Aucamp se dagboeke.
"Albert de Vos, ook van die Baai, het dit aanmekaar gesit en hy het ook gesing; nie ek nie, ek het net gelees," skerts De Vries.
Maar praat, lees en vertaalwerk is nie al waarin hy uitblink nie. Die onlangse Etienne van Heerden Veldsoirée waarby hy betrokke is, was weer eens 'n reusesukses.
"Ek doen reeds baie jare projekbestuurwerk, so toe Etienne (Van Heerden) my vra om met die logistiek van die Veldsoirée te help, het ek ingestem.
"Ek hou ook baie van Cradock en sy inwoners, so ek is ook op 'n baie kleiner skaal betrokke by die Olive Schreiner Karoo Writer's Festival wat gewoonlik in Junie aangebied word.
"Ek is geweldig trots op die groot verskeidenheid en die gehalte praatjies en boekdinge wat ons kan aanbied."
Nadat De Vries sy studies in Pietermaritzburg voltooi het, het hy 'n beurs gewen om skeppende skryfwerk by Van Heerden aan die Rhodes-Universiteit in Makhanda te studeer.
"Dit was vir 'n honneursgraad. In dieselfde jaar het Elma, my meisie, gehoor dat sy haar huisdokterjaar in Port Elizabeth sou doen. Ek het ook toe maar ingeskryf vir 'n M-graad om naby haar te kon wees. Ons is bietjie meer as 'n jaar later getroud en die M het ek wel uiteindelik voltooi"
De Vries het sy eerste tjek as 'n 15-jarige vryskutjoernalis verdien toe hy namens 'n plaaslike koerant foto's van die jaarlikse dans vir oudpolisielede moes gaan neem.
"Ek het daardie aand baie meer geleer as waaroor ek in die koerant kon berig," skerts hy.
"Sedertdien het boeke, die uitgee daarvan, joernalistiek en dan veral boekjoernalistiek, my nogal besig gehou."
De Vries was nie net Woordfees toe om die kinderboek te bemark en ander skrywers se praatjies by te woon nie.
"Enige persoon wat al 'n seun probeer grootmaak het, sal weet dat 'n mens ‘genooi' word om soms in hul lewens te deel. Daarom was dit spesiaal om 'n besoek aan die Woordfees te kombineer met 'n road trip saam met my seun, Jabu."
Die De Vries-egpaar het ook 'n dogter, Mashi wat in Kaapstad skoolhou.
Kontak Izak de Vries by 083 501 2170 of stuur e-pos aan devries.izak@gmail.com.












