Boeke

By my lees | Bibi Slippers

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Digter, skrywer en draaiboekskrywer is maar drie hoede van vele hoede wat Bibi Slippers dra. Slippers is vanjaar weer aan die stuur van die Toyota Stellenbosch Woordfees se

Easy Equities Skrywersfees

Skrywersfees. Slippers se eerste digbundel, Fotostaatmasjien, het in 2016 verskyn en haar tweede, Soekenjin, in 2023.

Sy deel hier in Netwerk24 se gereelde rubriek By my lees haar leesavonture.

Die digter en skrywer Bibi Slippers stuur vanjaar die skrywersfees van die Toyota Stellenbosch Woordfees. Foto: Verskaf
Die digter en skrywer Bibi Slippers stuur vanjaar die skrywersfees van die Toyota Stellenbosch Woordfees. Foto: Verskaf

Die boek wat die grootste invloed op my gehad het

Anne Carson se boek Nox. Dit was die onderwerp van my meestersgraadtesis, en my navorsing daaroor het my baie geleer oor hoe Carson dink oor skrywerskap, kreatiwiteit en boeke as media. Dit het vir my 'n pad help oopmaak waarlangs ek kon stap in die rigting van 'n styl en 'n stem en 'n manier van doen wat soos my eie voel. In my alledaagse lewe laat ek my ook beïnvloed deur die werk van Alain de Botton en sy School of Life-projek. The Pleasures and Sorrows of Work, The Consolations of Philosophy en Status Anxiety het my baie geleer oor hoe om te lewe.

Die boek wat my lewe verander het

Being Mortal deur Atul Gawande. Gawande is 'n chirurg met 'n spesiale belangstelling in palliatiewe sorg, en hoe ons die laaste fase van ons lewe benader, hetsy 'n lewe wat vroeg eindig as gevolg van siekte, of die natuurlike gang van veroudering. Die belangrike vraag wat hy in albei kontekste vra, is: "Hoe lyk 'n goeie dag in jou lewe?" Die antwoord hierop help mense om beter besluite te neem rondom mediese ingryping aan die einde van 'n lewe. Wanneer 'n mens egter besef dat ons almal sterwend is, dan raak dit belangrik om sommer nóú hierdie vraag vir jouself te vra, en aanpassings te maak as jy nie besig is om 'n lewe te leef wat jou toelaat om die dinge te doen wat 'n goeie dag moontlik maak nie.

Die Amerikaanse skrywer Atul Gawande, wat ook 'n chirurg is, se boek ‘Being Mortal' het 'n groot invloed op Bibi Slippers gehad, veral sy konsep oor wat 'n goeie dag vir jou behels. Foto: Getty Images
Die Amerikaanse skrywer Atul Gawande, wat ook 'n chirurg is, se boek ‘Being Mortal' het 'n groot invloed op Bibi Slippers gehad, veral sy konsep oor wat 'n goeie dag vir jou behels. Foto: Getty Images

Die boek wat ek nooit klaar gelees het nie

Ek hou baie van Richard Powers. Sy meesterlike The Overstory is een van my allergunstelinge, en ek het heelwat van sy ander boeke ook baie geniet. Ek het egter al twee keer probeer om The Echo Maker te lees en kon dit nog nooit klaarmaak nie. Ek glo nie 'n mens hoef elke boek wat jy optel klaar te lees nie; ek sit maklik 'n boek neer as dit nie tot my spreek nie - maar ek het ook al ervaar dat dit soms net nie die regte tyd vir 'n gegewe boek is nie. Ek sal The Echo Maker nog 'n kans gee - dalk gedurende vakansie.

Die boek wat ek tans lees

Ek het onlangs 'n ongesonde obsessie ontwikkel met die werk van Mick Herron, die skrywer van die Slough House-reeks. Dis boeke oor 'n klomp loser-spioene: slim, snaaks en vol skerp kommentaar oor politiek. Ek het die laaste paar weke al ses Mick Herrons verorber, en het nog drie wat ek spaar om gedurende my vakansie te lees volgende week. So, net om my hande van my vakansieboeke af te hou, lees ek op die oomblik The White Book deur Han Kang.

Die skrywer van wie ek al sy of haar boeke gelees het

Ek maak dit my missie om al Ann Patchett se boeke te lees, maar ek is nog nie klaar nie. Ek het die digter Sam Riviere se bundels almal deurgewerk, en teen die tempo wat ek tans Mick Herron lees, sal ek teen einde Augustus al sy boeke klaar hê. Ek wil die een of ander tyd as 'n leesprojek al Deon Meyer se boeke lees, in die volgorde waarin hulle geskryf is.

Bibi Slippers keer gereeld terug na die skrywes van die skrywer Ann Patchett. Foto: Getty Images
Bibi Slippers keer gereeld terug na die skrywes van die skrywer Ann Patchett. Foto: Getty Images

Die boek wat die trane laat loop het

Ek het vreeslik gehuil oor A Little Life deur Hanya Yanagihara. Onlangs het 'n spesifieke toneel naby aan die einde van Philip Jonker se Die onsigbare my ook na die snesieboks laat gryp. Ann Patchett se niefiksie is vir my betroubare tranetrekkers: These Precious Days en This is the Story of a Happy Marriage het al twee essays in wat my vreeslik laat huil. Vandat hy oorlede is, huil ek ook lekker oor Breyten Breytenbach se gedigte - spesifiek die woorde "In die heuwel van die nag" in sy gedig "Wy" vang my elke keer.

Die gedig waar elke woord vir jou reg val

Margaret Atwood se gedig "Gasoline", veral die slotreël: "That's how gods lived: as if."

Dit val vir my so reg dat ek dit in 2014 op my sy laat tatoeëer het. Ek was nog nooit spyt nie.

As ek gulsig mag wees en 'n tweede gedig noem, is daar ook net iets onverbeterlik omtrent Isobel Dixon se vers, "You, Me and the Orang-utan". Dit eindig met die woorde "I lie here, burning, on our bed, and think of Borneo." Perfek! Sulke slotreëls is net effektief omdat elke woord wat dit voorafgaan die slot onvermydelik laat voel.

Die Kanadese skrywer Margaret Atwood se gedig ‘Gasoline' hou 'n spesiale betekenis vir Bibi Slippers in. Foto: Getty Images
Die Kanadese skrywer Margaret Atwood se gedig ‘Gasoline' hou 'n spesiale betekenis vir Bibi Slippers in. Foto: Getty Images

Die boek wat ek as troos lees

Consolations deur David Whyte. Dis 'n boek van oordenkings rondom alledaagse woorde waarvan die betekenis afgewater geraak het. Mens kan net vinnig daarin dip as jy 'n opkikker nodig het, en 'n woord kies wat by die geur van jou spesifieke gemoedsbekakking pas. Ek lees ook een maal per jaar Dodie Smith se klassieke I Capture the Castle.

Die boek wat ek graag as geskenk gee

Ek het al baie eksemplare van The Little Prince weggegee. Ek probeer deesdae om nie meer boeke op te gaar nie, so ek gee maklik enigiets weg wat ek geniet het, as ek iemand in gedagte het wat dit ook sal geniet, of as iemand toevallig kom kuier wanneer ek nog nie uitgepraat is oor 'n boek nie en wil hê dat hulle moet saamgesels.

Die boek wat ek 'n kind in die hand gee.

Ek hou van Oliver Jeffers se kinderboeke omdat ek aanklank vind by sy visuele woordeskat, en omdat ek dink dat dit ook belangrik is om kinders se aanvoeling vir die estetiese te ontwikkel. Een van my gunstelinge is The Dictionary Story.

• Die Toyota Stellenbosch Woordfees word van 11 tot 19 Oktober aangebied.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM