Boeke

By my lees | Helene de Kock

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die eerste deelnemer aan Netwerk24 se gereelde boekerubriek By my lees, waar skrywers en boekmense oor hul leeservarings gesels, is die skrywer Helene de Kock.

Die veelsydige skrywer het al meer as 40 romans gepubliseer en skryf heeltyds.

Liefdesromans waarin sy die vele eise uitbeeld wat aan moderne verhoudings gestel word, asook Christelike en geskiedkundige romans en kortverhale is haar voorliefde.

Sy het 'n doktorsgraad in kreatiewe skryfwerk, gee klas in skryfkuns en resenseer ook gereeld romans.

Die boek wat die grootste invloed op my skryfwerk gehad het:

Baie lesers sal moontlik dié antwoord as geyk beskou, maar dis definitief die Bybel. 'n Cliché is per slot van sake 'n cliché omdat dit so waar is. Die Bybel is stilisties goed geskryf en bevat inhoud wat nooit teleurstel nie, intellektueel prikkel en emosioneel en geestelik bevredig. Selfs ongelowiges dink byvoorbeeld die verhaal van "Die verlore seun" is die volmaakte kortverhaal.

Die boek wat ek toe nooit klaar gelees het nie:

'n Skrywer kan onmoontlik nie vir almal skryf nie. Dit het ek uitgevind toe ek Jodi Picoult se The Storyteller gelees het. Dis bepaald goed geskryf, maar dis nie vir my geskryf nie. As 'n mens nie heeltemal vatplek aan 'n boek kry nie, is die boek nie vir jou geskryf nie. Dit maak dit nie per se 'n swak boek nie.

Die boek wat my lewe verander het:

Die boek wat my lewe verander het, is weer eens die Bybel. Dit dui die rigting aan vir enige mens wat wil verstaan dat Christus die Weg, die Waarheid en die Lewe is. Wat meer kan enige boek doen?

Die laaste boek wat die trane laat loop het:

E. Kotze se roman Haar naam is Carminda het my diep ontroer. Dis opreg uit die hart geskryf en beeld die lewenstryd van vissers so getrou uit dat die leser onwillekeurig empaties meeleef.

LEES OOK | 'Met my kop is daar niks verkeerd nie,' sê skrywer (90)

Die boek wat ek graag as geskenk gee:

Ek gee graag vir my seun Herman, wat onder meer 'n teoloog is, teologiese werke present. Werke deur internasionaal erkende teoloë soos Stephan Joubert en Leonard Maré. Hul jongste heruitgawe is Ontsluit die Bybel.

Die boek wat jy tans lees:

Tans lees ek Die onsigbare deur PJO Jonker omdat dit werklik besonder goed geskryf is en op vele vlakke gelees en verstaan kan word. Daarby boei die storie en die karakters die leser.

Die boek wat ek wens ek geskryf het:

Ek wens altyd dat ek Engela van Rooyen se Vuur op die horison geskryf het. Dis 'n omvattende en roerende historiese roman wat nie gou vergeet sal word nie.

Die boek wat ek as troos lees:

Dit mag vreemd klink, maar ek lees soms my eie boek As dood lewe word wat ek oor ons seun, Jaco, se dood geskryf het as troos. Dit verwoord wat ek daaroor voel en dit help my genees. Dat dié boek al 'n paar maal herdruk is, is ongelukkig só, want 'n kind wat sterf, is tragies en dit gebeur te veel. Ek wens dit niemand toe nie.

Die boek wat ek elke paar jaar herlees:

Weens my werk as skrywer lees ek kort-kort boeke wat oor skryf as vakgebied gaan. Hennie Aucamp se Die blote storie en John Steinbeck se Journal of a Novel fassineer my ewe veel. Dit werp gewoonlik heelwat lig op die kreatiewe proses van fiksie skryf.

Die skrywer van wie ek al sy of haar boeke gelees het:

Ek het al Deon Meyer asook Irma Venter se boeke gelees. Albei hierdie uitstekende skrywers besit die vermoë om die leser dadelik in te trek. Meyer en Venter doen goed navorsing sonder dat die inligting die storie verswelg. En hul werk lees heerlik.

Die skrywer Helene de Kock.
Die skrywer Helene de Kock.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM