
Dís een van die hoofkarakter Joe se gewaarwordinge in Thinus Horn se roman Wat het geword van Dinsdag (Human & Rousseau, R285).
Idealistiese kunsstudent Joe se loopbaan neem 'n wending wat hy nie voorsien het nie. Maar hy maak geld, al pryk sy naam nie op die twyfelagtige kunswerke wat hy verf nie. Sy studentemaat Nina loop in en uit by sy lewe en hy bly sy hele lewe lank in sy gees verbonde aan haar, die een wat hy uit sy vingers laat glip het. Kunshandelaar Elrike speel een van die belangrikste rolle in Joe se lewe, sy sorg immers dat hy geld maak, en sy manipuleer hom om na haar pype te dans. Boonop blaas sy koud en warm soos wat sy hom gebruik. En vir hom lyk dit of sy alles weet wat in sy kop aangaan, voordat hy nog 'n woord gerep het.
Kort voor die draaipunt van die millennium reis Joe na New York. Daar ontmoet hy Michael, 'n Joodse Suid-Afrikaner. Armsalige Michael besit net 'n fiets en deel sy absurde en onrealistiese drome met Joe. In New York kyk Joe terug op sy lewe en bepeins hoe anders dit kon verloop het. Sy pynlike reis om homself te ontdek laat jou besef dat drome net drome bly as jy niks doen om dit waar te maak nie. - Phyllis Green

Nagreisiger, Leon van Nierop (Protea Boekhuis, R220)
Nerien Muller en Justin O'Donnel se verhouding word beëindig wanneer sy pa deur haar pa, 'n regter, aan dwelmhandel skuldig bevind word. Hoewel sy ma onskuldig bevind word op dieselfde aanklag, pleeg sy kort daarna selfdood. Justin glo dat Nerien hulle verraai het en verantwoordelik is vir die verwoesting van sy gesin. Wanneer Nerien se lewe bedreig word, gaan sy saam met Ragel na die Drakensberge. Ragel is 'n verlangse vriendin van haar ma en woon al vir byna 20 jaar saam met hulle in die huis. In die Drakensberge kruis haar pad met dié van die geheimsinnige Dehan, en ook met Anton, Ragel se broerskind.
Die subtitel, Jou gewete reis saam, is 'n deurlopende tema van die roman. Dit word vir Nerien duidelik dat jou gewete saam reis, waar jy jou ook al bevind.
Die karakterisering, intrige, sensualiteit, deurlopende spanningslyn, dialoog, liefde en lieflike beskrywings in Nagreisiger is kenmerkend van Van Nierop se romans. Die boek is 'n verwerking van die 1995-tydskrifvervolgverhaal en 2004-roman. - Karin Behrens

Anna & Theo: One Love, Two Stories, Amanda Prowse (Head of Zeus, R225 elk)
In die twee boeke vertel Amanda Prowse dieselfde liefdesverhaal, maar vanuit die twee hoofkarakters se onderskeie oogpunte. Dit bied 'n realistiese blik op die mooi en die hartseer van die lewe. 'n Gelukkige einde is nie vanselfsprekend wanneer mens jou sielsgenoot ontmoet nie. As jong kind beleef Anna die grootste nagmerrie. Haar ma gaan dood en kort daarna pleeg haar ouer broer selfdood. Sy het nooit haar pa geken nie en gaan bly by 'n tante wat haar verafsku. Kort voor lank word sy na 'n kosskool vir weeskinders gestuur. Sy voel eensaam, verwerp en totaal verlore. Ten spyte van die trauma van haar kinderjare word Anna 'n selfversekerde en hardwerkende vrou. Sy het 'n diep begeerte om 'n gesin van haar eie te hê, mense op wie sy haar liefde kan uitstort. Op 'n dag ontmoet sy haar droomman. Sy is oortuig dat al haar wense nou gaan waar word, maar Theo is self 'n gebroke siel. Die regte lewe is nie altyd soos mens dit droom nie en Anna moet besluit of hul liefde vir mekaar genoeg is om gelukkig te wees.

Theodore Montgomery is 'n rykmanskind wat na die beste en duurste skool gestuur word. Hy is veronderstel om die familienaam hoog te hou, maar hy pas nie in nie. Ten spyte daarvan dat hy aantreklik en intelligent is, is hy 'n buitestander wat daagliks afgeknou word deur ander seuns. Boonop is sy ouers onbetrokke in sy lewe. Hul sosiale verpligtinge is belangriker, sy ma neem hom nooit ernstig op nie en sy pa is onmoontlik streng. Hy verlang na die dag wat hy sy sielsgenoot ontmoet; iemand wat hom liefhet en aanvaar soos hy is. As student val sy lewe uitmekaar en word hy gedwing om vir sy pa te werk. Hy ontmoet Anna as 'n ongelukkige en minderwaardige jong man. Sy is alles waaroor hy nog altyd gedroom het, maar is hy genoeg om haar gelukkig te maak? - Danica Gouws

Four, Andy Jones(Hodder & Stoughton, R325)
As jy van die swakker soort sepie hou, waar al die karakters ná 'n seisoen oor en weer by mekaar geslaap het, sal dié boek dieselfde soort genot in jou wakker maak.
Twee paartjies gaan saam weg vir 'n naweek. Een paartjie is oud en getroud en op die rand van 'n egskeiding, en die ander paartjie (van wie die vroulike komponent 'n wulpse, jong aktrise is wat skitter in naaktonele) is nog splinternuut saam. Die vier drink te veel, gebruik dwelms en speel drinkebroerspeletjies wat beter by studente pas. Dan verkas hulle kamer toe met die ‘verkeerde' maat. Die volgende oggend is almal so bietjie skaam en koponderstebo en die mans is ligweg bekommerd dat die vroue hul onderskeie vaardighede tussen die lakens gaan vergelyk.
En ja, heel voorspelbaar vind die aktrise dan ook 'n paar weke later uit dat sy swanger is. Wie is die pa? Drama op drama volg. Ek het lanklaas sulke kinderagtige volwassenes raakgelees. Die einde van die boek kon nie gou genoeg kom nie. Maar jy sal weet as dit jou soort boek is … Ek oordeel nie. Kug. - Helen Schöer

The Exact Opposite of Okay, Laura Steven (Penguin, R180)
Die verhaal uit Laura Steven se pen is gemik op jong volwasse lesers. Dit ontbloot die wêreld van boeliery in die kuberruim en is relevant vir die tyd waarin ons leef. Izzy O'Neill is 'n aspirant-komediant, 'n verarmde weeskind en, volgens die kwaadwillige webwerf wat die rondte by die skool doen, 'n ‘buitengewone slet'. Sy probeer om dit af te lag, maar wanneer foto's van haar en 'n politikus se seun uitkom waar hulle die daad doen, word haar lewe skielik 'n nasionale skandaal. Izzy besef dat die gemeenskap seuns en meisies verskillend beoordeel. Sy het haar nog nooit vir haarself of haar omstandighede geskaam nie en wil nie nou begin nie. Om haar kop omhoog te hou, gaan alles vat wat sy het. - Nadia de Jongh

The House on Sunset Lake, Tasmina Perry (Headline Review, R325)
Toe: Twintig jaar gelede het Jim Johnson en sy ouers 'n somer deurgebring op die oewer van 'n meer in die suide van Amerika. Aan die oorkant was Casa D'Or, 'n pragtige herehuis. Hier moes Jim se skrywerpa vir oulaas probeer om sy loopbaan weer aan die gang te kry. Ná sy ontmoeting met Jennifer Wyatt, dogter van die eienaar van Casa D'Or, lyk die somer sommer baie beter vir Jim. 'n Vriendskap ontwikkel in jong liefde, maar 'n tragedie versplinter die vrede. Die gebeure wat volg, verander die verloop van Jim en Jennifer se lewens.
Nou: Wanneer Jim se baas hom opdrag gee om Casa D'Or te koop en te transformeer van gesinshuis na hotel, het Jim geweet NIKS sal ooit weer dieselfde wees nie … Is daar 'n moontlikheid op 'n tweede kans vir hom en Jennifer of het daar net te veel tyd verloop? En is hul geheime dalk net te donker? - Alma Liebenberg

The Man Who Didn't Call, Rosie Walsh (Mantle, R290)
Sarah ontmoet vir Eddie en hulle raak halsoorkop verlief. Hulle bring ses perfekte dae saam deur en is seker daarvan dat daar 'n toekoms vir hulle voorlê.
Eddie gaan dan op 'n vakansie wat hy bespreek het voor hul ontmoeting en beloof om vanaf die lughawe te skakel. Maar dit gebeur nooit. Sarah se vriende raai haar aan om van hom te vergeet, maar sy wéét dat iets moes gebeur het; daar móét 'n rede vir sy stilswye wees ...
Dan ontdek sy dat sy reg was. Daar is 'n rede, en daardie rede is sy.
Kan twee mense wat jare gelede deel was van 'n vreeslike tragedie, saam 'n toekoms hê? - Nadia de Jongh

The Mermaid's Daughter, Ann Claycomb (Harper Collins, R240)
Die moderne weergawe van Andersen se oorspronklike feëverhaal, The Little Mermaid, is in drie dele soos 'n opera geskryf. Die drie hoofkarakters is Kathleen, 'n 25-jarige belowende sanger en operastudent in Boston, haar geliefde, Harriet, en Kathleen se pa, Robin, 'n befaamde komponis. Kathleen het denkbeeldige pyne in haar bene en tong en al wat daarvoor help, is om haarself in seewater te dompel. Hulle besoek Ierland om meer oor Kathleen se familiegeskiedenis uit te vind; haar ma en ouma het albei op 25-jarige ouderdom selfdood gepleeg. Hulle vind uit dat die misterie en tragedie ouer en vreemder is as wat hulle ooit gedink het. Die enigste uitweg is 'n keuse tussen die see en die geliefde - maar óf Kathleen óf Harriet sal moet sterf. Terwyl Kathleen met vakansie in Florida is, hoor sy die misterieuse stemme wat roep "Kom huis toe". Gaan Kathleen vir Harriet doodmaak of 'n meermin word? - Linda Volschenk

The Last Debutante, Lesley Lokko (Orion UK, R315)
Dis 1938, en die 15-jarige Kit Algernon Waters is die lelike eendjie in haar aristokratiese familie. Sy is slim, hou van boeke en steur haar glad nie aan sosiale konvensies nie. Sy hou nog minder van haar pragtige suster, Lily, wat in 'n warrelwindtroue deur 'n Duitse heer weggeraap word. Wanneer Lily verbind word met Nazi-simpatiseerders, stuur Kit se ouers haar om haar terug te bring huis toe. Wat met haar gebeur terwyl sy daar is, sal die res van haar lewe verander.
Kit lei 'n buitengewone lewe en ons sien die impak daarvan op haar verhouding met haar eie dogter, Libby. Libby se lewensreis volg dieselfde paaie as dié van haar ma. Dis Libby se reis om te probeer uitvind wie die regte persoon is wat in haar ma weggesteek is.
'n Boeiende gesinsdrama oor susters, lang bewaarde geheime wat strek van die 1930's tot die hede. - Alma Liebenberg

The Chimes, Anna Smaill (Hodder UK, R220)
Verbeel jou dat Londen deur die wêreld se grootste musiekinstrument, die kariljon, georkestreer word. 'n Londen waar mense net deur musiek met mekaar kan kommunikeer en waar elke dag soos die vorige een is. Die prys van die musiek wat elke dag deur die lug vloei, is geheueverlies. Mense moet hul kosbaarste herinneringe in objekte bewaar wat hulle orals saamdra. En as jy nie jou herinneringe veilig in 'n sak by jou hou nie, dan kan jy een van die ongelukkiges word wat sonder identiteit deur die strate moet wandel.
Simon is anders. Hy het nie nodig om sy herinneringe in verskillende objekte te bêre nie. Nie net kan hy sy eie lewe onthou nie, hy het ook die talent om ander mense se herinneringe te beleef deur aan hul objekte te vat. Ná sy ouers se dood vind hy 'n heenkome by 'n bende wat elke dag in die tonnels onder Londen vir die skaars metaal palladium soek. Die bendeleier, Lucien, is blind, maar in 'n stad waar jy jou pad deur musiek vind, is dit nie sy grootste probleem nie. Hy het ook 'n geheim wat hy met niemand in die bende kan deel nie. Hy het egter Simon se hulp nodig.
Hierdie debuutroman is uitdagend om te lees. Dit neem 'n tydjie om aan die gebruik van sekere musiekterme om die atmosfeer te skep, gewoond te raak. Die storielyn vloei stadig en is op plekke voorspelbaar, maar die oorspronklike konsep is betowerend. - Antoinique van Staden













