In lande soos Suid-Afrika word erge droogte, maar ook vloede, die ander uiterste, ervaar. Ons lees gereeld van fondsinsamelings soos mense planne probeer maak om slagoffers te help en die aarde te red. Die VN se Climate Change Conference COP25 is maar een van die berade waarop klimaatsverandering onder die loep kom. Maar wat kan ek en jy doen om 'n verskil te maak? Een manier is om ons benadering tot ons afval te verander.

Waste not everyday, Erin Rhoads (Hardie Grant, R190)
Die subtitel van die klein boekie is 365 Ways to reduce, reuse and reconnect. Die skrywer vertel hoe sy haar eie bewustheid rondom die weggooi van afval moes verander om vermorsing teen te werk en boonop so te help om die planeet te red. Sy is 'n Australiër en met die boekie probeer sy nuttige en haalbare wenke gee van hoe jy die inhoud van jou asblik kan verminder. Eerstens moet jy kyk wat dit is wat jy weggooi: kan jy of iemand dit hergebruik, kan die items herwin word of kan die afval op die komposhoop land. Sy stel voor dat jy verskillende afvaldromme vir elke tipe afval aanskaf en dat jy daagliks jou afval in die regte dromme sorteer. Kyk ook na die herwinbaarheid van produkte wat jy koop en maak 'n ingeligde besluit. Alles goed en wel, maar in 'n land soos Suid-Afrika waar selfs wetgewing nie die gebruik van plastiek inkopiesakke kon inperk nie, wonder ek oor die impak van die boek. Van die wenke is ook nie van toepassing op Suid-Afrikaanse verbruikers nie, omdat ons stadsrade en selfs stede nie gerat is daarvoor nie. Tog is die boek nie tevergeefs nie. Dit laat mens daadwerklik met ander oë kyk na alles wat jy in jou asblik gooi! Hoe jy water en elektrisiteit gebruik en die verandering van slegte gewoontes begin by elkeen van ons. Deur klein te begin, kan jy help dat daar minder beurtkrag en minder vermorsing van water is. - Phyllis Green

Field Guide to the Succulent Euphorbias of Southern Africa, Alma Möller en Rolf Becker (Briza, R495)
Wat 'n interessante veldgids oor 'n plantspesie waarvan ek weinig weet. Die enigste plant in hierdie spesie wat ek ken, is die naboom. Dis daardie prehistoriese boom wat ek altyd in die veld opmerk as ek van Pretoria na Limpopo ry. In die volksmond praat mense van die kandelaarboom en dis baie beskrywend van hoe die boom lyk.
Wat ek nie besef het nie is hoeveel ander spesies daar in die familie van plante is. Volgens die skrywers is daar meer as 2 000 spesies wat reg oor die wêreld buiten Antarktika voorkom, maar die drie plekke wat met die meeste spog, is Suid-Afrika, Madagaskar en Tropiese Oos-Afrika. En Suid-Afrika is die wenner onder die drie! In ons land groei die grootste verskeidenheid van Euphorbias.In dié gids word 224 spesies beskryf, hoe hulle lyk, waar hulle voorkom, bewarinsgstatus, wetenskaplike en algemene name, kaarte wat verspreiding aandui en elkeen word toegelig met kleurfoto's wat identifikasie in die veld makliker maak. Die skrywers se fassinasie met hierdie plante het gesorg vir 'n toeganklike gids wat leke se kennis sal uitbrei en vir plantkenners meer inligting oor die fassinerende plante gee. Die boek is klein genoeg om saam te dra op staptogte. - Phyllis Green

Shots from the edge, Greg Marinovich (Penguin, R250)
Marinovich is een van Suid-Afrika se mees gerekende fotojoernaliste, dokumentêre filmmakers en skrywers. Hy is ook al met die Pullitzerprys bekroon. In 2017 is sy boek, Murder at Small Koppie: The Truth Behind the Marikana Massacre, as die wenner van die Alan Patonprys aangewys.In sy jongste boek vertel hy in essays sy ervarings van sy werk in konfliksituasie en hoe hy gebeure waargeneem en ervaar het. Soos hyself aan die einde van die boek sê: "The stories in this volume are all about the disparity and abuse of power, be it financial, sexual, political or social power. I have never been a neutral or so-called objective journalist or documentarian." - bl. 209. Juis daarom het die skrywes in die bundel soveel impak, vir hom gaan dit oor om daar te wees, om die waarheid weer te gee soos wat hy dit ervaar het. Die menslikheid en empatie waarmee hy sy onderwerpe aanroer, is merkwaardig. Hier gaan dit oor sy ervarings in die oorlogsones van Afrika en die wêreld vanuit sy persoonlike oogpunt. Hy deel onderhoude met rebelle, kindersoldate, onwettige immigrante, die oorlewendes van menseslagtings, en nog baie ander. Elkeen se verhaal het iets insiggewend om te sê. Jy kan nie onaangeraak wees deur hierdie menslike verhale nie. Al die gebeure is nie ewe maklik om te verteer nie, spesifiek wanneer dit oor Suid-Afrika gaan. Dan word jou eie gewete geprikkel om vrae te vra oor dinge waarvan jy soms vlugtig in die koerante gelees het. Marinovich kry dit reg om jou baie dieper oor gebeure te laat dink en om te hoop dat ons land nie die foute van die verlede sal herhaal nie.En ek haal my hoed af vir Marinovich se veerkragtigheid en deursettingsvermoë om vir dekades reeds in dié uitdagende omstandighede te kon werk. Deesdae is hy 'n dosent in visuele joernalistiek in Boston, VSA. - Phyllis Green

My Life and Rugby, Eddie Jones saam met Donald McRae (Macmillan, R330)
Ai, ou Eddie Jones, jy kry dié breedsprakige rugby-afrigter nogal lief (of jy ontwikkel ten minste 'n groot klomp respek vir hom) wanneer jy hierdie outobiografie lees en jy voel teen die einde so half jammer vir hom omdat Engeland verlede jaar in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi teen die Springbokke verloor het. Dan onthou jy weer die heerlike hoendervel-oomblikke toe Siya Kolisi die William Webb Ellis-trofee gelig het en jy verwonder jou weer aan die paadjies wat 'n mens in hierdie lewe loop.
Nee, ek gaan nie vir Jones jammer kry omdat hy nie die Wêreldbeker gewen het nie. Maar ja, ek het baie beslis selfs meer respek vir hom ná ek hierdie hengse dik boek gelees het.
Dit stel nuwe standaarde aan rugbybiografieë. Jones se eerlikheid is prysenswaardig en hy het baie beslis 'n storie om te vertel.
Ons leer hom as kind van 'n gemengde huwelik tussen 'n wit Australiese man en 'n Japannese vrou ken. Ons lees van sy vrolike rugbydae as seun saam met die beroemde Ella-broers en sy hartseer omdat hy nooit vir die Wallabies gespeel het nie. Sy storie vat nog meer vlam wanneer hy oor sy suksesse en mislukkings as afrigter vertel. Jones kan sekerlik as Japan se Meneer Rugby opgehemel word. Soos Izak van Heerden destyds nuwe standaarde in rugby in Argentinië ingestel het, so het Jones Japanse rugby wakker geskud en op sy pad na rugbykrag gesit. Saam met Japan het hy een van sy grootste oomblikke beleef toe hy die Brave Blossoms in 2015 tot 'n geskiedkundige oorwinning oor die Bokke gebrei het. Maar dit was ook in Japan waar hy verlede jaar een van sy grootste teleurstellings beleef het, toe die einste Bokke vir Engeland in die eindstryd van die WB-toernooi getrap het.
Rugby, so weet ons maar alte goed, kan jou na drank dryf om 'n oorwinning te vier of om van 'n nederlaag te probeer vergeet.
Dink jou in Jones se skoene in - die een naweek verwoes Engeland die All Blacks in die WB-halfeindstryd en die volgende naweek verwoes die Bokke sy span in die eindstryd. Dis duidelik dat hierdie boek met 'n sege vir Engeland in die eindstryd moes geëindig het, maar dit het nie. Maar dit beteken nie dis die einde van Jones nie, so, rugbyspanne van reg oor die wêreld, pasop!
Om mee af te sluit, wow, wat 'n boek! Jones is dalk daaraan skuldig dat hy 'n ding soms te veel ontleed en hy is geneig om dalk na te veel mense te luister, maar hy is nie verniet een van die beste afrigters in die wêreld nie. Hierdie boek moet verpligte leesstof vir enige afrigter of voornemende afrigter wees, maar dis ook heerlike leesstof vir enige rugbyliefhebber. Jy kan nie anders as om daardeur verryk te word en met nuwe insig na rugby te kyk nie. - Michael Green

More, Matt Preston (Plum, R399)
Kosprogramme op televisie het die vermoë om my heeltemal te verlei. My gunsteling is Masterchef Australië, vir my een van die mees inspirerende en vermaaklikste programme om te kyk. Preston is 'n groter as groot karakter. Saam met mede-aanbieders, Gary Mehigan en George Calombaris, kan hulle bepaal of 'n deelnemer sy drome in die koswêreld kan laat waar word. Die drie se kennis en passie vir kos is alom bekend. Preston, veral, kon liries uitwei oor die smake van die dis op die bord en as hy van iets gehou het, sou hy sommer 'n tweede, derde en vierde hap vat!In hierdie boek deel hy die "pure unadulterated pleasure that food can give you. These are recipes that are written for people who love to eat, who understand the glories of the table and that eating together is more than just nutrition …" Vir hom gaan dit in dié boek uitsluitlik oor groente, hetsy dit vegetaries of veganisties is. En as jy spek, vis of vleis wil byvoeg, gaan hy jou nie oordeel nie. Nee, sê hy, ervaar eerder die vreugde wat goeie kos jou kan gee.Al is jy nie 'n bedrewe kok nie sal jy die geregte maklik kan maak. Dis een van die eienskappe van Preston se resepte waarvan ek die meeste hou - maklik om te maak, en natuurlik dat jy nie ure voor die stoof hoef te staan om te kook nie! Die kleurvolle foto's van die geregte laat my mond water en nooi my uit om die resepte self aan te durf. Nou ja, ek gaan nou maar eers kyk wat is in my groenterak. En dan gaan ek 'n paar vriende bel om saam om die tafel te kom sit - Phyllis Green

The Starless Sea, Erin Morgenstern (Harvill Secker, R290)
As jy hou van magiese realisme en fantasie dan sal jy die tweede boek uit Morgenstern se pen geniet. Die plot is eintlik eenvoudig; Zachary Rawlins vind toevallig 'n vreemde boek in die universiteitsbiblioteek - een waarin hy homself as 'n karakter ontdek. Dit ruk hom terug na sy verlede. Toe hy 'n kind was, is hy deur 'n geverfde deur op 'n muur verras, maar hy het nie die moed gehad om dit oop te maak en oor die drumpel te tree nie. Nou lees hy hiervan in die boek en dit stem hom onrustig, maar terselfdertyd is hy baie nuuskierig. Deur die vreemde boek het hy opnuut 'n geleentheid om die onbekende aan te durf en te soek na daardie ontwykende ontdekking wat by hom spook. En wat 'n eienaardige onbekende wêreld vind hy diep onder die strate van sy bekende stad. Die by, sleutel en swaard op die omslag van die boek het hom na hierdie magiese wêreld gelei, een waar hy deel word van die stories wat rondom hom uitspeel. Een waar die karakters hom een tree vorentoe help en weer een tree agteruit. Hoe pas Mirabel en Dorian by die raaisel in? Sal Zachary die regte tonnels kies in die labirint onder die aarde? Sal hy, soos in meeste feëverhale, lank en gelukkig lewe?
Die boek is nie perfek nie, van die prosa is plek-plek nogal lomp. Tog kan jy nie anders as om in die storie ingetrek te word nie. Wat die storie vir my die moeite werd maak, is hoe boeke die mag het om jou van 'n gewone, vervelige lewe te laat ontsnap. Viva die boek, viva! - Phyllis Green

Blood Orange, Harriet Tyce (Headline UK, R285)
Op die oog af lyk dit of Alison geseënd is met 'n liefdevolle man, 'n oulike dogtertjie en 'n regsberoep wat besig is om haar na groot hoogtes te lei. Sy word deur 'n senior kollega gevra om die verdediging van haar eerste moordsaak te hanteer. Vir Alison is dit die punt waartoe sy haar hele lewe werk, 'n hoë profielsaak. Die voorbereiding beteken dat sy langer ure weg van die huis af is, en toe is manlief nie so geneë daarmee nie. Boonop het sy in 'n seksuele verhouding met die senior kollega betrokke geraak. Hy behandel Alison vieslik en sy wonder self waarom sy dit toelaat. Ten spyte daarvan dat haar kliënt erken het dat sy haar man vermoor het, pla iets daaraan Alison. Sy bly delf om by die skokkende waarheid te kom. Haar perfekte lewe is besig om uitmekaar te val; haar man is moeilik. Sy kry dreigboodskappe op haar foon. Die storie is alles behalwe voorspelbaar en daar is 'n paar onverwagse kinkels wat jou soos 'n vuishou in die maag tref. - Phyllis Green

Klikbek, Sidney Gilroy(Human & Rousseau, R280)
Klikbek is 'n boeiende speurverhaal wat op die Vrystaatse platteland afspeel. Sidney Gilroy het elke karakter met sorg geskryf en elkeen se storie kry in jou gedagtes vastrapplek.
Maar dan laat die vrae wat Sollie, die sersant, vra jou met nuwe oë na elke karakter kyk. Wat presies het op Rhynveld gebeur? En hoe gaan Sollie dit, saam met al sy persoonlike probleme ook nog, oplos? Is dit wat gebeur het moord of ontvoering?
Gilroy se skryfstyl is beskrywend en boeiend. Jy kan die hitte op die plattelandse dorpie voel en weet presies hoe elkeen van die karakters lyk. Dit bied goeie speelplek vir jou verbeelding. Dit is ook deurgaans duidelik dat Gilroy óf heelwat van die landbou weet óf sy navorsing baie goed gedoen het - ook oor hoe dinge in 'n polisiekantoor werk. Dit maak die verhaal kleurvol en sal deur elke leser waardeer word.
Klikbek is beslis die lees werd. Jy gaan wel heelwat tyd hiervoor nodig hê want elke paar blaaie voel jy genoop om eers die boek neer te sit en te dink oor wat nou gebeur het en hoe dit die legkaartstukke bymekaar laat pas. - Marieke Snyman

An Orchestra of Minorities, Chigozie Obioma (Little Brown, R325)
Een van die groot vrae in die lewe is: Hoeveel sal jy bereid wees om op te offer vir die liefde van jou lewe? Chinonso boer met eende en hoenders en probeer nog vrede maak met sy pa se dood. Hy is gelukkig op die plaas en op sy eie. Oftewel, so glo hy, tot Ndali onverwags in sy lewe kom. Ndali begin om saam met Chinonso na die diere op die plaas te kyk, en hy besef dat die eensaamheid wat hy tot op daardie punt ervaar het, 'n gewoonte geraak het wat hy so vinnig moontlik wil afleer. Maar soveel as wat hy in sy liefde vir haar glo, besef hy dat Ndali se familie hom nooit gaan aanvaar nie. Hulle ervaar hom as 'n arm boer sonder 'n graad. Dis hierdie wete wat hom oortuig om in Ciprus verder te gaan studeer. Hy verkoop alles wat hy het; sy geliefde pluimvee en die stukkie grond wat hy by sy pa geërf het. En al wat daar van sy lewe voor Ndali oorbly, is 'n tas en die hoop dat sy liefde vir Ndali genoeg gaan wees. Maar Ciprus is baie vêr en sodra hy daar aankom, begin dinge vir hom verkeerd loop. Hy hou egter vas aan die droom dat hy en Ndali eendag saam op die plaas gaan wees.
Alhoewel die einde soos Romeo en Juliet lees, maak die poëtiese skryfstyl wat Obioma gebruik om deur die Igbo spirituele landskap die verhaal te vertel dit 'n wonderlike leeservaring. - Antoinique van Staden

Asterix en die groot oorvaart, Réne Goscinny(Protea Boekhuis, R130)
Die reeks Asterixboeke is uit Frans na Afrikaans deur Sonja van Schalkwyk-Barrois vertaal. Byna die hele Gallië is in die jaar 50 voor Christus deur die Romeise leër onder leiding van Julius Caeser beset. Slegs een klein dorpie bied teenstand teen die Romeinse invallers. Die leser wonder seker hoe kan een klein dorpie die hele Romeinse leër teenstaan? Die antwoord is dat dit die plek is waar Asterix en sy beste vriend Obelix woon en met die hulp van die druïde Kasterolix se towerdoepa, wat hulle bomenslike krag gee, is hulle onoorwinbaar.In Asterix en die groot oorvaartword Asterix en Obelix saam met Witblix, Obelix se hondjie, van koers af gedryf deur 'n groot storm tydens 'n visvangekspedisie. Tydens hul reis kry hulle te doen met hul ou vriende die seerowers voor hulle op 'n groot eiland uitspoel. Hier kom hulle af op 'n vreemde "Romeinse kolonie" en heerlike koeloekoeloe voëls. Hulle kuier by die kolonie waar hulle saam gaan jag en Obelix die inwoners 'n nuwe dans leer. Maar toe die leier verwag dat Obelix met sy dogter moet trou, besluit hulle dis tyd om huis toe te gaan. Hulle sluip weg in die nag, maar beleef nog 'n paar avonture voordat hulle uiteindelik terug is in hul dorpie.Lees gerus ook Asterix en die waarsêer; Asterix in Korsika; Caeser se geskenkwatin 2019 heruitgegee is. Die uitstekende reeks is gemik op die jong leser van 9 en opwaarts maar het ook 'n groot aanhang onder ouer lesers. - Karien Labuschagne













