Boeke

Korter sou beter gewees het

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Misdaadfiksie

Fox

Joyce Carol Oates

FOURTH ESTATE, R500

Francis Harlan Fox: gewilde letterkunde-onderwyser, geliefd deur skoliere en bewonder deur kollegas. Francis Harlan Fox: sosiopaat, pedofiel en predator.

Twee broers ontdek Fox se verminkte lyk onder in 'n ravyn. Die standaard-whodunnit-resep volg: 'n Komplekse, multidimensionele agtergrondstorie, karakters met genoeg rede om Francis Fox van kant te maak en 'n louwarm polisieondersoek.

Soos sy slinkse roofdier-eweknie lei Mr Fox sy kollegas, ouers en intieme vriende om die bos terwyl hy jong meisies na sy kantoor lok met gedokterde lekkernye. "He has wanted to suck the marrow out of the little girls' delicious white bones . . ." Mr Fox verkies sy "Little Kittens" vanaf ouderdom 11 tot 13: weerloos en onseker oor hul groeiende lywe, sonder 'n vaderfiguur en honger vir liefde en aandag.

Oates beeld nie onnodig seksueel grafiese detail uit nie, maar die jong Genevieve se vertelling van haar mishandeling soos dit plaasvind, kontrasteer kinderlike onskuld met loutere euwel - en dis veel erger. Onvanpaste troetelname soos "Mr Tongue" en "Big Teddy Bear" klink onskuldig en die deurlopende gebruik van "Mr Fox" hoort eerder in 'n kinderverhaal- of -rympie as 'n roman oor die seksuele aanranding van minderjariges.

Karakters se vatbaarheid vir Fox se manipulasie is verbysterend, hetsy die preutse skoolhoof met "[l]arge widened eyes warmly brown, like those of a terrified cow", sy goedgelowige "beste" vriendin of die skool­bibliotekaris wat glo sy en Fox is in 'n verhouding. Ten spyte van klinkklare bewyse glo niemand aan sy skuld nie. Dit sou beteken dat hulle naïef én medepligtig is.

Twee dilemmas in vervolging van pedofiele word belig in Fox: 1. Slagoffers glo hulle is in 'n geheime, "ons-versus-die-wêreld"-verhouding en sal nie getuig nie; en 2. 'n Vernuftige manipuleerder sorg dat hy oor 'n onwrikbare ondersteuningsnetwerk beskik.

Soos in Expensive People en Zombie gebruik Oates weer 'n misdadiger as eerstepersoon-perspektief. Lesers beleef eerstehands Fox se versteurde gedagtegang en dit blyk dat hy oor Tom Ripley (The Talented Mr Ripley) se gewetenloosheid, Patrick Bateman (American Psycho) se grootheidswaan, Joe Goldberg (You) se sjarme en Humbert Humbert (Lolita) se seksuele voorkeure beskik.

Seksualiteit, seksuele geweld en die impak daarvan op vroue is 'n kerntema in Oates se werk en sy neem ook 'n kritiese standpunt in teenoor die Amerikaanse samelewing en die magteloosheid van armer sosiale klasse (soos die Healy-gesin in Fox). Sy skram nie weg van die omstrede nie, maar Fox beproef lesers se geduld en uithouvermoë met 'n onnodig uitgerekte 672 bladsye.

Sonja van der Westhuizen is 'n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Durbanville.

CTA