Memoires
Breaking Bread
Jonathan Jansen
JONATHAN BALL, R330
Prof. Jonathan Jansen deins nie weg van rassisme of rassiste nie.
Ek het al saam met hom by die Universiteit Stellenbosch (US) met studente oor rassisme gepraat. Waar die meeste openbare gesprekke - selfs in kerke en op versoeningskonferensies - net op die oppervlak rondploeter, delf die voormalige trein-prediker diep in die onderwerp. Ons gesprek was rou. Eerlik. Op soek na oplossings.
En terwyl hy saam met my op 'n Uber gewag het, kon ek sy seer aanvoel omdat die jong man wat vir die rassevoorval verantwoordelik was, nie met sy studie aan die US wou voortgaan nie. Dit was asof die geliefde prof 'n seun aan die dood afgestaan het.
Sy geloofsbeginsels het die boustene vir dié lewenstaak neergelê.
'n Google-soektog koppel sy naam aan verskeie rassistiese voorvalle die afgelope twee dekades - myne ook - en by almal was hy die een wat in wyle oudpres. Nelson Mandela se versoeningsvoetspore gevolg het. Hy het selfs van die rassevoorvalle gebruik om mense tot introspeksie te dwing. Toe baie Suid-Afrikaners byvoorbeeld in 2010 die koppe van die Reitz-vier geëis het, het hy sy gehoor met hierdie woorde uitgedaag: "Ek wil nie oor die Reitz-voorval op ons kampus praat nie; ek wil praat oor die Reitz in elkeen van ons" (Oor bokdrolletjies en rosyntjies, bl. 209).
In sy memoires, Breaking Bread, merk lesers op watter belangrike rol hy in die onderwys gespeel het in die vormingsjare van die reënboognasie. Sy geloofsbeginsels het die boustene vir dié lewenstaak neergelê. Op bl. 47 skryf hy: "My problem was that I took the gospel seriously. I really did believe that Christ came to break down the artificial barriers that separated us, such as the racial classifications of the apartheid state."
Dit is egter sy skerp sin vir humor wat my bybly lank nadat ek op bl. 262 in verwondering oor hierdie reus stilstaan.
Uit van sy vorige publikasies, veral sy huldeblyk aan sy ma, Lied vir Sarah: lesse van my ma, en sy bundel rubrieke, Oor bokdrolletjies en rosyntjies, kry ons legkaartblokkies oor sy grootwordjare. Ek het met hierdie memoires 'n meer gedetailleerde boek verwag, chronologies van geboorte tot nou - maar Jansen doen die teendeel: Hy raak net aan die onderwerpe wat hom gevorm het tot die persoon wie hy is.
Hoewel hy die buitelyne trek van die politieke klimaat waarin hy grootgeword het, bespeur ek nêrens bitterheid nie. Dit is egter sy herinneringe aan "missionary racism" en "religious exclusivism" wat vir hierdie leser stof tot nadenke was. En ek salueer hom oor sy eerlikheid oor klassisme.
Dit is egter sy skerp sin vir humor wat my bybly lank nadat ek op bl. 262 in verwondering oor hierdie reus stilstaan. Hy herinner my aan Jan F.E. Celliers se gedig: Stil, broers, daar gaan 'n man verby.
Stefaans Coetzee is 'n skrywer en vryskutresensent van Klerksdorp.





















