Die vierde Stilbaai-boekefees op dié kusdorpie in die Suid-Kaap se program is volgepak met diepsinnige praatjies rondom skrywers en hul boeke, maar besoekers aan die kusdorp van 21 tot 23 Februarie kan ook uitsien na aktuele gesprekke, kuier by 'n langtafel, 'n begeleide seewandeling en ook 'n jogaklas.
Die meeste aanbiedinge is in die Stilbaai-gemeenskapsaal op die dorp, kaartjiepryse (R95 behalwe vir die ete) is dieselfde as verlede jaar en boeke is die hele naweek te koop.
Die fees begin op die 21ste om 10:30 met die ete by Oudewerfskloof. Ingrid Jones gesels met Elmarie Berry oor haar jongste kosboek en vra die voormalige redakteur van Visi en Taste, Sumien Brink, uit oor die maak van kosboeke. Ligte middagete met spyseniering deur Dave's Kitchen volg daarna.
Om 11:00 word die kinderprogram Los uit, Stinkie! vir kinders van vyf tot nege deur Sjaka S. Septembir aangebied.

LitNet skryf "Los uit! leer kleingoed oor gesonde grense. Maar Los uit! is nie 'n sedeles nie; dis net doodgewone lekkerlagpret!" In Melkhoutfontein Primêr se nuwe skoolsaal.
Die gevierde fotograaf Obie Oberholzer praat om 14:00 oor sy jongste spogboek, Going Dutch: Nine towns with Dutch names in South Africa and their namesakes in the Netherlands.
Om 15:00 bespreek Louise Viljoen Kinderlê, die tweede bundel van Lynthia Julius, 'n wenner van die Jan Rabie Marjorie Wallace-skryfbeurs en tans dosent in skryfkuns aan die Sol Plaatje-Universiteit in Kimberley.

Daarna om 16:30 lees die digters Dominique Botha (Donkerberg), Lynthia Julius (Kinderlê) en Danie Marais (Ek en jy bestaan nie) voor uit hul bundels. Dié drie woordkunstenaars kom maak 'n deur oop na die onsienlike en die ongehoorde.
Die dag word om 18:00 afgesluit met wat beloof om 'n indringende paneelgesprek te wees waar brandpunte, knelpunte, maar ook goeie punte deur die joernaliste Waldimar Pelser (gesprekleier), Qaanitah Hunter, Dawie Boonzaaier en die politieke kommentator Piet Croucamp bespreek word.
Daarna kan daar om 19:30 gekuier word om 'n worsbraai.
Die een is Afrikaans se krimikoningin, die ander een was 'n bedrywige jeugboekskrywer.
Op 22 Februarie kan daar om 08:00 'n ontbyt geniet word voordat Marié Heese om 09:30 gesels oor haar jongste roman, Die laaste dae, en Jolyn Phillips oor haar digbundel Bientang met Renée Conradie.
Daarna om 10:30 is die skrywers Wendy Maartens en Riana Scheepers in gesprek met Elna van der Merwe oor die fyn kuns om vir kinders en jong mense te skryf. Of is dit nie anders as om vir volwassenes te skryf nie?
Irma Venter en Elizabeth Wasserman is op die program om 11:45. Die een is Afrikaans se krimikoningin, die ander een was 'n bedrywige jeugboekskrywer voordat mev. Smit, haar volwasse vrouekarakter, kom aanklop het. Die aktrise Susanne Beyers is die gespreksleier.

Ná middagete om 14:00 gesels die skrywer en ook kunstenaar Ingrid Winterbach oor haar roman Onrus op Steynshoop en haar kunstenaarsman, Andries Gouws, oor skryf, skilder en skeppendheid onder een dak. Louise Viljoen is die gesprekvoerder.
Om 15:00 is Jeremy Vearey in gesprek met Kirby van der Merwe, die vertaler van sy roman Rooisand. Die gespreksleier is Ingrid Jones.
Die ouduitgewer en skrywer Frederik de Jager lei om 16:15 die gesprek met PJO Jonker (Die onsigbare) en Pieter Marais (konkel).
Die fees word Sondag om 07:00 afgesluit met 'n seewandeling gelei deur Nico Steenkamp en Sjaka S. Septembir bied 'n jogaklas in Namo se ateljee aan.
Koop kaartjies by Quicket (of by Blomstories op die dorp met die regte kontantbedrag).




















